Download presentation
Presentation is loading. Please wait.
1
2 Samuel 11:26-12:13a PowerPoint agtergrond
Die agtergrond (geen kopiereg) is beskikbaar by Batseba treur na die nuus van haar man se dood… Voorsien deur Danie Mouton en geredigeer met Picasa III. Font = ABC Junior Typing, beskikbaar by
2
God nooi ons uit en ons kom tot rus Rus Aanvangswoord
Voorganger: Uit die dieptes roep ek na U, Here. Gemeente: Luister tog na my, Here, hoor tog my hulpgeroep. Almal: Amen (Ps 130:1-2). (Uit Basisliturgie vir 2 Samuel in Bybelmedia se Woord en Fees 2014/15) Aanvangslied 470 U Here is ons Koning vs 1,2,3,4 Seëngroet Aan almal in wat aan God behoort en in Christus Jesus glo. 2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! Amen (Efesiërs 1) Lied 198 God is my lied 1,2,3 Wet (Efesiërs 4) Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het. 2Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde. 3Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe. Skuldbelydenis Voorganger: Wis my oortredings uit in u groot barmhartigheid! Gemeente: Wees my genadig, o God, in u troue liefde. Voorganger: Was my skoon van my skuld, reinig my van sonde! Voorganger: Ja, my oortredings ken ek en van my sonde bly ek altyd bewus. Voorganger: Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë. Voorganger: Skep vir my ’n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig. Gemeente: Wees my genadig, o God, in u troue liefde (uit Ps 51:1-12). (Uit die Preekstudie vir 2 Augustus uit Bybelmedia se Woord en Fees 2014/15) Lied 231 Heilig, heilig, heilig Here (U is heilig sonder perk) 1,3 Vryspraak (Johannes 6) 35Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie. Geloofsbelydenis Die Here is ons God. Hy is die Here van die heersers. Hy is die Vader van sy volk wat op pad is. Hy is die Skepper van die hemel en die aarde. Hy sorg vir ons. Sy koninkryk het naby gekom in Jesus van Nasaret, die Messias, ons Here. Hy het uit die dood opgestaan en roep ons om Hom te volg. Die Gees bewerk die nuwe lewe in ons. Hy lei ons in die waarheid. Hy wys vir ons dat ons ons stukkende wêreld mooi moet maak. Hy gaan saam met ons die toekoms in. Outeur onbekend (van der Merwe, J (red) Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle. Wellington: Lux Verbi, bl 39.) Lofliedere 209 Heer met my hele hart 1 en/of 205 Bring lof aan die Vader 1,2,3
3
God praat met ons en ons luister God praat met ons en ons luister
Epiklese Here Laat U woord my nou dring... 10Ek wil aan U gehoorsaam wees met my hele hart, 11Aan u beloftes hou ek vas, dit weerhou my van sonde teen U. leer my u voorskrifte. 13Al u bepalings wil ek een vir een opnoem. 14Om volgens u verordeninge te lewe, gee my meer vreugde as al die rykdom van die wêreld. 15U bevele bly my altyd by. Ek gee ag op die pad wat U aanwys. 16Ek verlustig my in u voorskrifte, u woord vergeet ek nie. Amen (Uit Psalm 119) Skriflesing 2 Samuel 11:26-12:13a Prediking
4
2 Samuel 11:26-12:13a Fokusteks: 2 Samuel 11:26-12:13a
26Urija se vrou het gehoor dat haar man dood is en sy het oor hom getreur. 27Toe die routyd oor was, het Dawid haar na sy huis toe laat haal. Sy het sy vrou geword en vir hom 'n seun in die wêreld gebring. Maar wat Dawid gedoen het, was verkeerd in die oë van die Here. Natan kondig Dawid se straf aan 12 Daarna het die Here vir Natan na Dawid toe gestuur. Natan het by hom gekom en gesê: "Daar was twee mans in dieselfde plek. Die een was ryk en die ander arm. 2Die ryke het groot troppe kleinvee en beeste gehad. 3Behalwe een ou ooilammetjie het die arm man niks besit nie. Hy het haar aan die lewe gehou, en sy het saam met sy kinders grootgeword. Sy het van sy krummeltjies geëet, uit sy beker gedrink en op sy skoot geslaap. Ja, sy was vir hom soos 'n eie dogter. 4Daar het 'n besoeker by die ryk man gekom en hy kon dit nie oor sy hart kry om van sy eie kleinvee of beeste te vat en vir die reisiger te slag nie. Toe vat hy die ooilam van die arm man en slag haar vir sy gas." 5–6Dawid het hom bloedig vererg oor die man en vir Natan gesê: "So seker as die Here leef, 'n man wat dit oor sy hart kon kry om so iets te doen, moet doodgemaak word, en hy moet viervoudig vir die ooilam vergoed." 7"Jy is die man!" sê Natan toe vir Dawid. "So sê die Here die God van Israel: Ek het jou tot koning van Israel gesalf. Ek het jou teen Saul beskerm. 8Ek het aan jou die koningskap van Saul gegee en boonop nog sy vrouens ook. Ek het die koningskap oor Israel en Juda aan jou gegee. En as dit nog te min was, sou Ek enigiets daar wou bygee. 9Waarom het jy nou die woord van die Here geminag deur so 'n verkeerde ding te doen? Jy het Urija die Hetiet met die swaard doodgemaak en toe sy vrou vir jou gevat. Ja, jy het hom vermoor met die swaard van die Ammoniete. 10"Daarom sal die swaard nou nooit meer uit jou huis weggaan nie, want jy het My geminag toe jy Urija die Hetiet se vrou vir jou gevat het. 11"So sê die Here: Van nou af gaan Ek uit jou eie huis ellende oor jou bring. Ek sal jou vrouens voor jou oë vat en aan iemand anders gee. Hy sal by jou vrouens slaap oop en bloot, 12want jy het 'n ding in die geheim gedoen, maar Ek sal alles oop en bloot voor die hele Israel doen." 13Toe sê Dawid vir Natan: "Ek het gesondig teen die Here."
5
Familie-oomblik Familie-oomblik
Lees die onderstaande, geredigeerde weergawe van Die Boodskap oor die fokustuks dramaties vir die kinders. Dit is onvermydelik om die lyn van die vorige week nie te herhaal nie. In die lente van daardie jaar, in die tyd wanneer die konings gewoonlik gaan oorlog maak, het Dawid al die manskappe van Israel gestuur om teen die Ammoniete te veg. Hulle het die Ammoniete in Rabba, hulle hoofstad vasgekeer. Dawid was nie by nie; hy het in Jerusalem agtergebly. Laat een middag het hy op die dakstoep van die paleis rondgestap. Hy sien toe van die dak af ’n vrou wat besig is om te bad. Sy was ’n baie mooi vrou. Dawid het toe iemand gestuur om te gaan uitvind wie sy is en verneem toe haar naam is Batseba, die vrou van ‘n man met die naam Urija. Dawid het haar laat haal en by haar geslaap. Later het die vrou toe Dawid se baba verwag en vir hom laat weet: “Ek verwag jou kind.” Dawid het Urija (Batseba se man) van die slagveld laat haal met die idee dat hy dan by sy vrou Batseba sal slaap. Dan sou niemand weet Dawid is eintlik die kind se pa nie. Maar Urija het nie huis toe gegaan nie. Hy het by die koning se wagte by die paleis se deur gaan slaap. Dawid het gehoor Urija het nie by sy huis gaan slaap nie. “Jy was dan so lank weg, hoekom het jy nie huis toe gegaan nie?” vra Dawid hom die volgende môre. Urija het geantwoord: “Hoe kan ek huis toe gaan om te gaan eet en drink en by my vrou te slaap as die ark van God en al die manne van Israel en Juda in tente bly, en Joab en die koning se eie soldate in die oop veld moet kamp? Ek sal dit so waar as u leef, nooit doen nie!” Die volgende môre het Dawid vir die hoof van die leërmag ’n brief geskryf wat hy saam met Urija gestuur het. In die brief het daar gestaan: “Sit vir Urija heel voor in die kwaaiste geveg. Los hom dan alleen sodat hulle hom kan bykom en hom doodmaak.” So het Dawid Urija laat doodmaak om sy vrou in die hande te kry… Toe Batseba hoor haar man is dood, het sy ’n week lank by die huis gebly en onophoudelik gehuil. Hierna het Dawid haar na die paleis toe laat bring. Hy is toe met haar getroud en ’n seun is toe vir hulle gebore. Maar die Here het niks gehou van wat Dawid gedoen het nie. Die Here het toe ‘n profeet Natan na Dawid toe gestuur. Natan vertel toe vir Dawid die volgende gelykenis (storie): “Daar was twee mense in ’n dorp; die een was ryk en die ander een arm. Die ryk man het baie skape en beeste gehad, en die arm man net een ou ooilammetjie. Sy het by hom en sy kinders in die huis grootgeword en van hulle paar stukkies brood geëet en uit dieselfde beker as hulle gedrink. Sy het baie keer op sy skoot gelê. Sy was soos ’n kind in die huis. “Op ’n dag kom daar toe iemand by die ryk man kuier. Die ryk man was te suinig om een van sy eie skape te slag en ’n ete vir die kuiergas te kook. Hy vat toe die enigste ooilam van die arm man, wat soos een van sy kinders in hulle huis was, en maak die lam dood (slag die lam) en maak die vleis gaar vir sy kuiergas.” Dawid was briesend kwaad toe hy dit hoor- “hoe kon die ryk man so iets kon doen? So waar as die Here leef, die man wat dít gedoen het, moet die doodstraf kry! En daar moet vier van sy lammers gegee word in die plek van daardie een ooilam. Hoe kon die man so iets doen en nie eers jammer voel vir die arm man nie!” “Jý is daardie man!” sê Natan vir hom. Die Here sê: “Jy (Dawid) het Urija in die oorlog laat doodmaak en sy enigste vrou vir jou gevat. Ja, jy het hom vermoor. Daarom gaan ek jou straf!” Dawid het toe erken: “Ek het ’n vreeslike verkeerde ding teen die Here gedoen!” ‘n Inkleurprent van Koning Dawid en Batseba met die babaseuntjie is hier beskikbaar:
6
John McCain Preekriglyn
John McCain ( ) is die senator vir Arizona in die VSA. Hy was ook die Republikeinse presidentskandidaat in 2008, toe hy teen Barack Obama verloor het. McCain het 'n loopbaan as vlieënier in die Amerikaanse weermag gehad. Gedurende die Viëtnam-oorlog is hy byna dood toe die Amerikaanse vliegdekskip USS Forrestal op 29 Julie 1967 aan die brand geraak het. In Oktober 1967 is sy vliegtuig tydens bombardering oor Hanoi afgeskiet. McCain is ernstig beseer en deur die Noord- Viëtnamese gevange geneem. Hy was tot 1973 'n krygsgevangene, en is in hierdie tyd gemartel. Sy oorlogswonde het hom met lewenslange fisieke beperkinge gelaat. Na sy uittrede uit die weermag in 1981 het McCain die politiek betree. Hy is in tot die Huis van Verteenwoordigers verkies, en het in 1986 senator geword. Hy is sedertdien vier maal tot die senaat herkies. As senator het hy bygedra om die finansiering van politieke veldtogte te hervorm. Hy het ook hard gewerk om politieke verhoudinge met Viëtnam te herstel. McCain sien moed, dapperheid en durf as belangrike elemente van leierskap, trouens van die lewe self. Hy skryf by geleentheid: Moed en durf is soos 'n spier. Hoe meer ons die spier van moed oefen, hoe sterker word dit. Ek is soms bekommerd dat ons gemeenskaplike moed swakker en swakker word weens 'n gebrek aan oefening. Ons vereis nie moed van ons leiers nie, en ons leiers dring weer nie by ons aan om durf aan die dag te lê nie. Die tekort aan moed is beide ons probleem en ons skuld. Gevolglik het te veel leiers in die publieke en private sektor glad nie die moed om hulle beloftes na te kom nie. Daar is ook te min moed om die wesenlike waardes van leierskap te handhaaf.
7
Die koning se sonde Die koning se sonde
Ons het verlede week stilgestaan by Dawid se owerspel met Batseba, Urija se vrou. Ons moet liewer van Dawid se verkragting van Batseba te praat, want sy was 'n weerlose vrou wat laat haal is en wat die koning nie kon weerstaan nie. Batseba word swanger deur Dawid se toedoen. Daarna het Dawid op geslepe maniere planne beraam om Urija terug van die slagveld te kry en by Batseba te laat slaap. Urija weier want sy kamerade is op die slagveld. Hy verkies om in die slawe se slaapplek te oornag. Die volgende dag maak Dawid Urija besope, maar dit werk ook nie om hom in die bed saam met Batseba te kry nie. Daarop stuur Dawid instruksies na die bevelvoerder, Joab, om Urija in die voorste linie op 'n gevaarlike plek te laat veg, waar hy verseker sou sterf. Dit is ook wat gebeur. Die sober vertelling van hierdie verskriklike gebeure sluit af met 'n bondige opmerking: "Maar wat Dawid gedoen het, was verkeerd in die oë van die Here" (2 Sam 11:27).
8
Konfronteer die koning
Die profeet Natan is onverskrokke. Sy optrede in ons teks is 'n goeie voorbeeld van John McCain se moed en durf. Konings was nie maklike mense nie, en die lemme het vinnig geflits. Natan neem egter die Here se boodskap eerlik en reguit na Dawid toe. Natan vertel 'n gelykenis oor 'n ryk en 'n arm man. Die ryk man het troppe vee gehad. Toe hy 'n besoeker kry, sien hy nie kans om een van sy eie diere te slag nie. Hy vat die arm man se enigste hanslammetjie, wat eintlik soos 'n kind in die huis was, en slag dié vir sy besoeker. By die aanhoor hiervan vererg die vurige Dawid hom bloedig. Hy beveel dat die ryk man doodgemaak moet word, en hy moet viervoudig vir die ooilam vergoed. Hierop volg Natan se reguit woorde aan Dawid: "Jy is die man!" Onverdund en reguit word die Here se klagstaat en die oordeel en straf aan Dawid uitgespel: Hy word herinner aan alles wat die Here vir hom gegee het: beskerming teen Saul, by Saul se dood sy vrouens, asook die koningskap - eers van Juda en toe van die hele Israel. As dit te min was, sê die Here, sou hy Dawid nog enigiets bygee (7-8). Dawid het die woord van die Here geminag deur Urija met die Ammoniete se swaard te laat doodmaak, en toe het hy Urija se vrou vir hom gevat: "Jy het My geminag toe jy Urija die Hetiet se vrou vir jou gevat het" (9-10). Die swaard het Urija se lewe geneem, en nou sal die swaard ook in Dawid se huis vaardig raak. Daar sal ellende uit Dawid se eie huis oor hom kom (10-11).
9
Diepste ellende van sonde
Die probleem met die sonde is reeds erg in terme van die effek van die mense wat daardeur geraak word. Dink aan Batseba, Urija, en die ander wat ingespan word om die leuens in stand te hou, bv. Joab. 2 Samuel wys uit dat vier seuns sou sterf as straf vir hierdie onbesonne daad, Batseba se kind, Amnon, Absalom en Adonia. Dawid betaal dus viervoudig, soos hy self voorstel die "ryk man" moet betaal! Maar die diepste ellende van sonde lê in die minagting van die Here, waarmee sy sorg, beskerming en voorsiening in die wind geslaan word om jou eie, gewoonlik korttermyn, belang te dien. Daaroor is Natan se klagstaat duidelik. Ons dink baie keer aan Psalm 51 en die vergifnis wat Dawid ontvang het na hy van harte belydenis van sy skuld gedoen het. Maar die tragiese gevolge van sy dade, en die oordeel van die Here wat hom tref, werp 'n groot skaduwee oor sy hele loopbaan hierna. Die ligpunt is die intense hertoewyding van Dawid en die geboorte van Salomo, "man van vrede", of Jedidja, "die Here het hom lief", soos Dawid hom genoem het.
10
”Truth to power” "Truth to power"
Natan se optrede is 'n goeie voorbeeld van die spreek van God se waarheid teenoor diegene in gesagsposisies. Gesag en invloed het maniere om die waarheid te begin verdoesel en draai. Daarom is dit so belangrik om waarheid aan mag te bedien. Ou Testamentikus Walter Brueggemann het 'n boek geskryf, getiteld: "Truth speaks to power." In 'n onderhoud met bekende godsdiensjoernalis Jonathan Merritt laat hy hom as volg uit oor die verhouding tussen waarheid en mag: Legitieme mag is altyd sensitief vir geregtigheid. Wanneer mag nie aandag gee aan geregtigheid nie, is dit nie volhoubaar nie. Dit is 'n oproep aan ons om die agenda van geregtigheid teenoor die kwesbares lewendig te hou, en altyd krities en ondersoekend teenoor gesag ingestel te wees. Merritt vra hom wat die verhouding tussen waarheid en mag is, soos ons dit in die Bybel vind. Brueggemann reageer: Mag is die kapasiteit om sosiale goedere en sosiale toegang te organiseer en te administreer. Waarheid is die struktuur van die werklikheid, vasgelê in die wese van dinge, wat nie aangetas en vernietig kan word deur ons vermoë om dit te administreer nie. Mag kan soms uitgeoefen word in ooreenstemming met hierdie waarheid. Dikwels word mag verlei om die waarheid geweld aan te doen. Waarheid in die Bybel is nie 'n klompie stellings nie, maar 'n netwerk van verhoudings. Dit is verhoudings van waardigheid, welsyn, sekuriteit en respek. Wanneer mag dit aantas, leer diegene wat daardie mag aanwend dat hulle die krag van waarheid nie kan bly weerstaan nie. Dus is die waarheid van God se verbintenis aan goeie, ware verhoudings nie iets wat ooit op die langtermyn ingee nie. Mag – met hoeveel krag dit ook al kom – sal hom altyd te pletter loop teen God se waarheid. God se waarheid lê in die vesel van die skepping ingebed, en hoe mag ook al misbruik word, sal die wese van die dinge self dit op die ou einde tot 'n val bring. Presies Brueggemann se punt word in die twintigste eeu geïllustreer met die val van kommunisme, Nazisme en apartheid – dinge wat die vesel van God se waarheid aantas. Dieselfde sal ook gebeur met al die leuens oor Nkandla, die verkragting en toesmeer van die waarheid deur die ANC, en die koelbloedige volksmoordenaars in Darfur en ander plekke.
11
Kies vir die waarheid Kies vir die waarheid
Die beste ding wat met mag kan gebeur, is om helder en duidelik aan die waarheid blootgestel te word. Die profeet Natan doen dit vreesloos. Hy is nie 'n marionet van die koning nie. Hy praat met moed en durf, want die reg is aan sy kant. Daarmee word ons almal uitgedaag om op elke area van ons lewe die waarheid van God te kies. Ons is geroep om mekaar se laste te dra, mekaar se belange voorop te stel, te dien eerder as om gedien te word, om onsself te ontledig soos Jesus in nederige diens aan ons gedoen het. Ons het almal mag, ons neem almal besluite wat ander raak. Mag is nie net iets wat die werklike magtiges van die wêreld het nie.
12
Batseba se moed Batseba se moed
Batseba word na die paleis ontbied en deur Dawid se wellus en magsmisbruik ingetrek in 'n swangerskap waarvoor sy nie gevra het nie. Sy verloor haar man aan die dood. Haar hele lewe verander wanneer sy na die paleis gebring en in die koning se harem opgeneem word. Dit is maklik om Batseba mis te kyk in die verhaal. Op plekke word sy nie eers by haar naam genoem nie, maar net "Urija se vrou" genoem. Daarby is kerkmense soms geneig om die skuld vir Dawid se verkragting op haar te pak, asof sy iets gedoen het om hom uit te lok. Opvallend blameer die Bybel haar nêrens nie. Net Dawid word aangespreek oor sy skuld. Tog speel sy 'n belangrike rol in die ontknoping van die verdere verhaal. Opvallend genoeg lê sy ook baie moed aan die dag.
13
Wat weet ons van Batseba?
Dalaina May skryf aangrypend op die webblad van The Junia Project oor Batseba. Hier is 'n opsomming van wat ons oor haar weet: Hoewel die Bybel nie eksplisiet sê dat Batseba Dawid persoonlik geken het voor sy aanval op haar nie, moes sy iets meer van hom geweet het. Haar pa, Eliam, was een van Dawid se magtige en dapper manne (2 Sam 23:34), net soos haar eggenoot Urija. Urija het trouens saam met Dawid geveg lank voordat Dawid koning was en in 'n paleis gebly het (2 Sam 23:39). Dawid was nie die laaste president wat 'n vriend se dogter swanger gemaak het nie. Batseba se oupa, Agitofel, was Dawid se hoofraadgewer. Uiteindelik – na hierdie gebeure – het Agitofel Dawid verraai en probeer om sy koningskap omver te gooi deur Dawid se rebelse seun, Absalom, te ondersteun. Hy moedig Absalom aan om die koning se harem (al sy vroue) te vat – waarskynlik omdat hy woedend was oor wat met sy kleindogter, Batseba, en haar man gebeur het. Hoe goed Batseba Dawid ook al geken het, wanneer sy na die paleis ontbied word, het sy weinig keuse. Sy moet gaan. Sy kon nie weet met watter motief die koning haar laat haal nie. Sy verloor egter haar reg op haar liggaam en haar privaatheid, sy verloor haar man en eventueel ook die kind wat Dawid by haar verwek (2 Sam 12:15-18). Sy is uitgelewer aan die mans in haar lewe. Haar ma kan haar lewe neem as hy van haar swangerskap hoor, en die feit dat dit die koning is wat haar eer aangetas het, maak haar kwesbaar vir sy besluite. Urija se trou en lojaliteit kos hom sy lewe, omdat hy nie met Dawid se plan saamspeel en by Batseba gaan slaap nie. Batseba het ook nie veel opsies nie. Die enigste woorde uit Batseba se mond in 2 Samuel 11 is "Ek is swanger" (5). Haar belangrikste daad is om oor haar man te treur (26). Sy word na die routyd na die paleis gebring om haar plek in te neem as nog een van Dawid se vroue. Uiteindelik verloor sy ook haar kind wat deur Dawid verwek is.
14
Batseba se bydrae Batseba se bydrae
Tog is dit op hierdie punt as't ware of Batseba se bydrae eers werklik begin. God het ook 'n doel met haar lewe. Sy word weer swanger en gee geboorte aan Salomo, een van Israel se grootste konings. Salomo word die troon na Dawid belowe, maar sy posisie word bedreig deur die interne twis in Dawid se familie soos sy kinders mag probeer inpalm. Batseba lê die moed aan die dag om met Dawid te gaan praat, en om hom aan sy beloftes te herinner. Haar woorde word deur die profeet Natan bevestig (1 Kon 1:15vv). So verseker Batseba dat haar seun op die troon beland.
15
Moeder van Salomo Moeder van Salomo
As moeder van koning Salomo sou Batseba 'n enorme bydrae tot die ongekende voorspoed onder sy bewind lewer. Sy het hom gekroon op sy troudag (Hooglied 3:11), en het 'n ereposisie in sy troonkamer gekry terwyl hy na haar advies oor sy koninkryk geluister het (1 Kon 2:13-21). Batseba se invloed as moeder, opvoeder en raadgewer het beslag gekry in Salomo se wysheid, soos vasgelê in baie van die Spreuke en ander wysheidsboeke van die Ou Testament. Een van die merkwaardige tekste in die Ou Testament is Spreuke 31. Hier gee ene koning Lemuel die voorskrifte van sy moeder weer. Indien "koning Lemuel" die skuilnaam van Salomo is, soos sommige meen, het ons Batseba se direkte woorde in Spreuke 31 opgeteken. Batseba kon gekies het om 'n slagoffer te wees, en haar lewe in bitterheid en verwyt deur te bring. Sy kon sinies raak en oud voor haar tyd wees. Daarenteen het sy die moed aan die dag gelê om 'n leier te wees wat vir waarheid kies, te midde van die moeilikste omstandighede. Batseba het tragedie beleef: verkragting, die moord op haar man, die kind wat sterf, en verlies aan haar huis en familie. Alles vanweë die koning se lus en geslepe optrede. Tog lê sy die moed aan die dag om God te eer, volgens die waarheid te leef en haar wêreld te verander. Sy leer ons dat God nooit beperk word deur die beperkinge wat die samelewing en die magtiges op die geringstes plaas nie.
16
Moed aan die dag gelê Moed aan die dag gelê
So verstaan is Dawid se magsmisbruik die toneel waarin 'n verhaal van moed afspeel: Natan se moed om die koning te konfronteer met God se waarheid Batseba se moed om vir lewe, wysheid en vir haar seun, Salomo, te kies Uiteindelik ook Dawid se moed om sy skuld te bely en die slagoffer van sy misbruik te versorg.
17
Oor mag nagedink Oor mag nagedink
Ons teks help ons om na te dink oor hoe mag in die wêreld aangewend word, op ons kontinent en ook in ons land. Suid-Afrika en sy mense is die slagoffers van kolonialisme, van ekonomiese ontworteling (dink aan trekarbeid), van verwoestende oorloë (dink aan ), van verarming, van twee Westerse wêreldoorloë wat ons land nie verbygegaan het nie, van apartheid en van die huidige ondermyning van demokratiese instellings en die regbank, asook plundering van staatsbronne wat oënskynlik oral rondom ons gebeur. Ons moet ook aan die seksuele misbruik van vroue, kinders en ook mans, aandag gee. Dink aan mensehandel, dikwels juis met die oog op geldmaak uit seksualiteit. Dink aan die feit dat die meeste vroue verkrag word deur mense wat hulle ken, soos in ons teks. Wat kan ons, en ons gemeente, hieraan doen? Wat sê ons teks oor hierdie magsmisbruik? Waartoe word ons geroep? Ons teks daag ons ook uit om diep na te dink oor ons eie aanwending van mag. Hoe hanteer ons die mense wat in ons teenwoordigheid weerloos is? Dink aan ons kinders, ons werkers, ons maats by die skool, kollegas by die werk, ons eggenotes. Hoe hanteer ons die wat minder mag as ons het? En die wat meer mag as ons het? Wat sê ons teks oor mense wat sondig, en dan alles moontlik doen om dit weg te steek. Selfs moord pleeg? Hoe dink God hieroor, en wat roep God ons om daaraan te doen? Hierdie verhaal vertel 'n baie ou geskiedenis. Dawid het meer as 3,000 jaar gelede geleef. En tog is die verhaal so vars soos vanoggend se koerant. Hoe meer ons die onreg rondom ons raaksien, hoe meer daag ons teks ons uit om God raak te sien, en volgens God se waarheid te bly leef. Hoeveel moed het ons?
18
God stuur ons om te leef God stuur ons om te leef Gebed Offergawes
Offergawes Wegsending Ek wat vergifnis Heer ontvang het 1,2,3 Seën 18Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. 19Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God. (Efesiërs 3) of Die Here sal julle seën en julle oppas. Die Here sal met deernis na julle kyk en baie goed vir julle wees. Die Here sal julle gebede beantwoord en vir julle vrede gee. (Numeri 6:24vv Die Boodskap) Antwoord Lied 312/313/314/315/ of F361. Laat Dit So Wees (Amen) (RUBRIEK: Kersflam – Gebed) Teks en musiek: Neil Büchner Kopiereg: Flam Musiek-Uitgewers Laat dit so wees, Here, Amen. Heer, laat ons leef soos U leer Here, Amen.
19
Volgende erediens: Volgende erediens 2 Samuel 18:5-9; 15:31-33
Liturgie, familie-oomblik en powerpoint: Wicus Wait Preekriglyn: Danie Mouton Proses en ekstra stof: Chris van Wyk
Similar presentations
© 2025 SlidePlayer.com. Inc.
All rights reserved.