Download presentation
Presentation is loading. Please wait.
1
Barnabas die bemagtiger
Die deurlopende agtergrond is ‘n foto van eetgerei en servette en gaan saam met die beeld as inleiding tot die preek waar ‘n skaam diaken se dienswerk dit was om weekliks 2 vreemdelinge vir aandete op ‘n Sondag te ontvang. Die foto is beskikbaar by Creative Commons Licensed, geneem deur Tasheer Tome op July 20, 2007 met ‘n Kodak DX6340 Zoom.
2
Die agtergrond op skyfie 2 is ‘n fiktiewe voorstelling van Barnabas in hoofsaaklik waterverf (Wicus Wait). Of ‘n mens nou kan peil trek op die 6de eeuse monnik van Siprus, Alexander Monachus, se beskrywing van Barnabas al dan nie – “his face was like that of an angel ... and he had sparkling eyes” (Laudatio Barnabae, 25). Die rooi en goud ruimte waarop aanvullende grafika geplaas kan word verteenwoordig die liturgiese kleure van Pinkster.
3
God nooi ons uit en ons kom tot rus
Aanvangsgebed: Hy sal die arme red wat om hulp roep, die verdrukte en dié wat geen helper het nie; hy sal hom oor die swakke en die behoeftige ontferm, die lewens van die arm mense beskerm. (Ps 72:12–13). Terugvoer Ons het by die vorige erediens nagedink oor bemoediging. Gee geleentheid dat lidmate verhale deel van wat met hulle gebeur het terwyl hulle die dissipline van bemoediging beoefen het. Liedere Lied 440 (Die Here salf ons meet sy Gees) Flam 32 (U is my krag en my beskerming) Vonkk 24 (Ges van God, Kom woon in ons) en ‘n seleksie van geliefde lofliedere wat by jul gemeente se styl pas.
4
God praat met ons en ons luister
5
Hand 11:24b-30 Handelinge 11:24b-30
’n Aansienlike groep mense is tot geloof in die Here gebring, 25en Barnabas is na Tarsus toe om vir Saulus te gaan soek. 26Toe hy hom kry, het hy hom na Antiogië toe gebring, en hulle twee het ’n hele jaar lank saam in die gemeente gewerk en baie mense onderrig. In Antiogië is die gelowiges die eerste keer Christene genoem. 27In dié tyd het daar profete van Jerusalem af na Antiogië toe gekom. 28Een van hulle, met die naam Agabus, is deur die Gees gelei om te voorspel dat ’n groot hongersnood die hele wêreld sou tref. Dit het dan ook in die tyd van keiser Claudius gebeur. 29Die gelowiges het toe besluit dat elkeen na sy vermoë sou bydra tot ’n hulpfonds wat vir hulle medegelowiges wat in Judea woon, gestuur sou word. 30Hulle het dit gedoen en die geld met Barnabas en Saulus aan die ouderlinge in Jerusalem gestuur. Die Bybel : Nuwe Vertaling. 1998, c1983 (electronic ed.). Bybelgenootskap van Suid-Afrika: Cape Town, South Africa
6
2 vir ete… Preekriglyn Die storie word vertel van ’n diaken van ’n gemeente in Boston, Engeland, wat te skaam was om te bid of andersins op te tree binne die gemeente. Hy het egter vir homself gesê, “ek kan twee ekstra borde dek op my tafel elke Sondagaand en twee jongmense uitnooi vir ete wat ver van hulle huis af is. Hy het dit vir meer as 30 jaar volgehou. So het hy ’n groot vriendekring opgebou waarvan baie Christene geword het deur sy persoonlike invloed. Toe hy dood is, is ’n spesiale trein gereël om mense na die begrafnis 50 km verder in Andover by te woon. ’n Uitnodiging is ook gerig aan enigeen van die jongmense wat Sondagaande by hom aan huis geëet het van hulle opgedaag en ’n treinwa kant en wal toegepak. Daarmee het hulle ’n man vereer wat aan hulle die evangelie van die ekstra bord aan tafel verkondig het. Hierdie man het die kuns ontdek om mense by nuwe gemeenskap te betrek. In hierdie proses het hy allerlei grense oorgesteek, onder andere na die volgende geslag. Presies hierdie dinamika het hom ook in Antiogië afgespeel.
7
Bediening bars uit sy nate
Die bediening bars uit sy nate Die evangelie het nou oor die Joodse grense gebars en die Griekssprekendes in Antiogië bereik. Die Strategie van die gemeente in Jerusalem werk soos ’n droom. Onder Barnabas se bekwame leiding word ’n aansienlike verdere groep mense tot geloof in die Here gebring. Soveel so dat die bediening uit sy nate begin bars, en Barnabas genoodsaak is om hulp te gaan soek om die bediening te kan behartig.
8
Barnabas die Bemagtiger
Barnabas tree in hierdie situasie met insig op en besef dat die bediening nie net van sy eie gawes afhanklik kan wees nie. Sy pastorale bemoediging en omgee vir die gemeente moes deur ander leiers se gawes aangevul word. Daarom gaan hy kort hierna na Tarsus om Saulus te soek en in diens te neem om in Antiogië te kom help. Dit was ’n baie volwasse optrede, waarmee hy erken het dat hy hulp nodig gehad het in Antiogië. Wat God onder die heidene bewerk het, het besondere leierskap gevra. Dit was ’n leierskap wat hy nie op sy eie kon verskaf nie. Daarom het hy na 'n man gaan soek aan wie hy reeds geweet het dat God die nodige gawes gegee het. Iemand wat die evangelie suiwer met heidene sou kon deel. En met die optrede van Barnabas begin Saulus, later Paulus, die wêreld toneel betree om die werk te doen waarvoor God hom geroep het. Dit val ook op dat Barnabas nie net die vermoë gehad het om ander se geestelike gawes te herken en te benut in die bediening ter wille van die koninkryk nie. Hy was ook bereid om moeite te doen om hulle aan te moedig om dit uit te leef. Daarom het hy self 'n boot na Tarsus geneem en vir Saulus gaan soek totdat hy hom gekry het (vers 25-26). En toe hy hom opgespoor het, het hy hom per boot na Antiogië geneem. Die vermoë om ander se gawes te herken, en om dit saam met hulle tot eer van die Here te ontwikkel, is deurslaggewend vir die koms van God se koninkryk. In Antiogië werk hy dan vir 'n jaar lank saam met Saulus om die gemeente te bedien en veral te onderrig in die tipe lewenstyl wat hulle nuutgevonde status van Christenwees vir hulle sou inhou.
9
Christene! Gelowiges in Antiogië raak bekend as Christene
Die unieke identiteit van die kerk in Antiogië raak hier al hoe duideliker. Hulle onderskei hulleself van die eng Joodse eksklusiewe manier, en werk al hoe meer insluitend. Daarom ontvang hulle ook vir die eerste keer 'n noemnaam van buitestanders, naamlik "Christene” – navolgers van Christus (Christus is die Griekse vertaling van die Hebreeuse Messias wat beteken gesalfde) – die naam waarmee alle gelowiges vandag bekend staan.
10
Die gemeente neem risiko’s
Die verwikkeling het egter geweldige risiko's ingehou. “Die Jode was volgens die Romeine 'n religio licita – 'n wettige geloof. Indien die Christene hulle van die Jode sou onderskei ,sou hulle daarmee waarskynlik hul wetlike status en gepaardgaande beskerming verloor” (Marius Nel, Barnabas – God se bemoediger, 7). Barnabas-hulle het egter geweet dat hulle geen ander keuse het as om hulle van die Joodse geloof af te skei nie. Geloof in Jesus Christus was ononderhandelbaar, selfs al sou dit nie net die teenstand uit Joodse geledere beteken nie, maar ook uit die heidense gemeenskappe waaruit ’n al hoe groter wordende deel van die Christene afkomstig was. Dit leer ons dat die gawe van bemoediging, soos Barnabas dit beoefen het hier, ook met die gawe van risiko’s neem, aangevul moet word, anders sou dit baie maklik 'n gawe kon word wat die status quo handhaaf eerder as om grense oor te steek, en mense uit te daag en te begelei om dit te doen. Daarom dat Lois Barret (Treasure in Clay Jars) dit een van die 8 kenmerke van gestuurde gemeentes noem, om risiko’s te neem (lees meer daaroor by savgg.co.za). Gemeentes wat hulleself aan God se missie in hierdie wêreld verbind, hou rekening met die weerstand vanuit die samelewing, en selfs uit die gemeente self, en leer om dit te kan hanteer. Ironies genoeg was hulle uitdaging om hulleself van die Joodse geloof te onderskei, en het die benaming Christene uiteindelik sinoniem geraak met die ontwikkeling van die Christendom in die na-Konstantynse era. Vandag is die uitdaging om in ’n post-Christendom era, met die toenemende sekularisering van die voorheen-Christelike Weste, onsself van ’n nominale Christelike geloof te onderskei, mense wat die naam het dat hulle Christene is, maar die krag daarvan verloën en eintlik as praktiese ateïste leef.
11
Vrygewigheid kring uit
Vrygewigheid kring verder uit Dan word ’n interessante uitkoms van die gestuurde strategie van die gemeente in Jerusalem duidelik, nie iets wat hulle self sou voorsien nie, maar iets wat deur die Here gedoen word, in antwoord op hulle gehoorsaamheid om die gelowiges in Antiogië te bedien. Toe ’n hongersnood voorspel word deur die profeet Agabus van Jerusalem, onder leiding van die Heilige Gees, word die gemeente van Antiogië die lewenslyn vir die armer gemeente in Jerusalem. Sy profesie laat die gelowiges van Antiogië reageer deur ’n hulpfonds te stig vir hulle medegelowiges in Judea, waarmee hulle die sturende gemeente van Jerusalem kan ondersteun. Elkeen het na sy vermoë bygedra, wat alreeds ’n ander verstaan van hoe offervaardigheid sou werk, inhou, en waarop die latere Paulus teenoor die gelowiges in Korinte verder sou uitbrei (2 Kor 8-9). Let ook op dat die gelowiges in Antiogië van die gelowiges in Judea as hulle medegelowiges praat. Die idee van onderlinge verbondenheid en ’n vrygewigheid wat die eng grense van eie belang oorskry, word daarmee gestimuleer.
12
Gemeentes sorg vir mekaar
Barnabas word daarom gestuur om hierdie hulpfonds se bydrae vir die kerk in Jerusalem te neem saam met Saulus (Hand 11:28-30). Hoewel ’n mens hierin kan agterkom dat die invloed van Barnabas se eie grondverkooptransaksie steeds wyer uitkring, is dit insiggewend dat dit die gemeente self is wat die hulpfonds stig en die opbrengs stuur. Waar Barnabas vroeër met sy vrygewigheid ’n direkte impak op die gemeente in Jerusalem gehad het, raak hy nou die instrument wat ’n ander gemeente se vrygewigheid aan die gemeente in Jerusalem gaan oordra. Uiteraard reageer hulle op die lering wat hulle ontvang het van die twee leermeesters, en die storie van die grondverkooptransaksie sou waarskynlik meegewerk het. Maar hulle neem self verantwoordelikheid en lewer ’n kragtige bewys van hoe omgee werk. En die gemeente in Jerusalem ervaar God se sorg daardeur. Barnabas se persoonlike hulpbetoon aan Jerusalem in sy vroeëre verblyf daar, word nou voortgesit in die vorm van ’n korporatiewe diens aan die gemeente van Jerusalem, een van die eerste gevalle van onderlinge gemeentesorg en barmhartigheid binne die verband van gemeentes.
13
God stuur ons om te leef “omgee” God stuur ons om te leef Omgee
Dit bring ons by die praktiese kant van die boodskap. Ons moet immers hierop reageer – dit ons eie maak, en deel van ons eie lewenstyl. Die belangrikste kenmerk wat ons hier van Barnabas se bediening sowel as van die gemeente van Antiogië opmerk, is hulle omgee. Daardeur het hy die nuwe gemeente in Antiogië bemoedig sowel as vir Saulus in sy bediening, en die gemeente versterk in hulle eie mededeelsaamheid teenoor die eerste gemeente in Jerusalem. Omgee hou verband met die gawe van vrygewigheid, waaroor ons in die eerste preekriglyn gehandel het. Omgee word hier egter meer in die sin van dienslewering en barmhartigheidswerk gebruik. Omgee kan as volg beskryf word: Omgee vir ander is die vervulling van die tweede gebod van liefde, om jou naaste lief te hê soos jouself (Matt 22). Jesus het immers sy hele bediening as ’n bediening van omgee verstaan (Luk 4 – vgl Jes 58 en 61) wat uit hulpbetoon aan behoeftiges en noodlydendes bestaan het. Die verhaal van die Barmhartige Samaritaan is die meesterverhaal wat wys dat omgee belangrik is (net soos dit ook vir gasvryheid belangrik is). Want omgee is in wese ’n prentjie van wie God is as die Barmhartige (Ps 145:8-9). Deur ons omgee seën Hy die aarde, gebruik Hy ons om tot ’n seën te wees, soos sy belofte aan Abraham was (Gen 12). En Jesus het dit duidelik ook van ons verwag: “Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is (Luk 6:36). Omgee vra dus van ons om oë en ’n hart te kry vir ons naaste, en dan hande en voete te gee aan ons gevoel vir ander: Wie immers aardse besittings het en sy broer of suster sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie—hoe kan die liefde van God in hom wees (1 Joh 3:17)? Omgee is ’n lewenstyl van dienslewering, waar ander se belange vir jou net so swaar weeg as jou eie, waar jy jou bronne, tyd, invloed en vaardighede aanwend om te sorg vir ander, hetsy om hulle te beskerm, te versorg en te koester, of vir hulle regte op te kom. Beplan hoe jy tot by ons volgende geleentheid die geestelike gewoonte van omgee gaan beoefen. Hier is ’n paar opsies om jou gedagtes te stimuleer: Dink aan mense wat in nood is: weduwees, weeskinders, of agtergeblewenes. Oorweeg biddend vir wie jy iets prakties kan beteken, hetsy deur jou invloed te gebruik, of ’n uitstappie te reël, of hulp met inkopies te verleen, of regs- of ander maatskaplike hulp te soek en te gee. En gaan doen dit. Vra iemand: wat kan ek vir jou doen vandag? Dit kan iemand in jou familie wees of in jou vriende- of werkkring. Dit kan klein of groot wees. Dit kan moeilik of maklik wees. Maar gaan doen dit dan! Kies een van julle sendelinge of ‘n gesin wat julle gemeente ondersteun in hulle bediening. Vra hulle wat jy vir hulle kan beteken. Miskien het hulle ’n pakkie plaaslike kruideniersware nodig wat jy vir hulle kan pos. Miskien het hulle moeite met ’n bank of ’n administratiewe las wat jy vir hulle kan uitsorteer. Maar belangrik, vind by hulle uit … en doen dit dan. Maak ’n ekstra bord kos vir iemand wat dit mag nodig hê en bêre dit in die vrieskas. ‘n Gemeente in Kwazulu-Natal, Bergsig, het hiervan ’n gemeente-projek gemaak. Mense bring hierdie ekstra borde kos na ’n paar vrieskaste by die kerk en dien daarmee die gemeenskap. En ’n mooi plakker op die yskas help jou om dit te onthou! En onthou … gaan doen dit dan! “omgee”
14
Joernaal Joernaal Onthou jou notaboek. Skryf elke dag neer wat met jou gebeur in die bemeestering van die geestelike gewoonte. Beskou dit as ’n “leefbladsy”. Wees eerlik oor jou ervarings. (Gee geleentheid dat mense in stilte in hul joernaal skryf.) Gesprek: Laat mense vertel van kere wat iemand vir hulle omgegee het en hoe hulle dit beleef het. Hulle kan ook vertel watter gedagtes by hulle opgekom het terwyl hulle die joernaal ingevul het. Gesels oor hoe julle mekaar daarin kan ondersteun. Gebed: Reël vooraf dat jul gemeente se sendelinge vir julle ‘n Powerpoint of video stuur, waarin hulle gebedsbehoeftes deurgee. Of, as julle die fasiliteite het, gesels op hierdie punt in die diens met hulle oor Skype. Reël vooraf spesifieke mense om die sendelinge se gebedsversoeke aan die Here op te dra, of laat lidmate twee-twee vir die sendelinge bid. Slotsang: Lied 436 [hierdie is ons “temalied” – ons sluit elke erediens daarmee af.] Afsluitingsgebed “Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus.”(Galasiërs 6:2)
15
Volgende erediens: Barnabas die
Bedienaar Hand 13:1-12 Volgende erediens Handelinge 13:1-12
16
Barnabas illustreer vir ons hoe ’n Christelike lewenstyl werk
Barnabas illustreer vir ons hoe ’n Christelike lewenstyl werk. Sluit aan by die Seisoen van Luister se pinksterreeks ; Help gelowiges om geloofsgewoontes in te oefen. Prys: R Teikenmark: Bybelstudiegroepe en Kleingroepe.
Similar presentations
© 2025 SlidePlayer.com. Inc.
All rights reserved.