Download presentation
Presentation is loading. Please wait.
1
Romeine 4:13-25 PowerPoint agtergrond
Na aanleiding van die inleidende paragraaf in die preekskets... Berg Everest. Grafika bekom met Google advanced search- geen kopiereg. Dit is beskikbaar by Romeine 4:13-25
2
God nooi ons uit en ons kom tot rus
Toetrede Vonkk 175 Net Soos Ek Is [bekend: ou Halleluja lied] of Flam 342 Here, U Gee ons lewe (Alles Vir U) of Lied 167 Jesus, bron van al my vreugde Votum Psalm 22:24-25 24Julle wat die Here dien, prys Hom! Vereer Hom, nageslag van Jakob! Betoon Hom eerbied, nageslag van Israel! 25Die nood van die hulpelose het Hy nie verontagsaam en gering geskat nie, Hom daarvan nie teruggetrek nie, maar die hulpgeroep na Hom het Hy gehoor. Seëngroet Lofsang VONKK 71 Groot Is U Trou, O Heer [bekend – Great is thy faithfulness] of Lied 190 Grote God, aan U die eer ONS GEREGTIGHEID VOOR GOD (NGB Artikel 23 ) Liturg: Ons glo dat ons geluksaligheid geleë is in die vergewing van ons sondes om Jesus Christus ontwil en dat ons geregtigheid voor God daarin bestaan. Dit leer Dawid en Paulus ons deur te verklaar dat die mens se geluksaligheld daarin bestaan dat God hom die geregtigheid buite die wetsonderhouding om toereken (Ps. 32:2 en Rom. 4:6). Dieselfde apostel sê dat ons verniet, dit wil sê uit genade, geregverdig is deur die verlossing wat in Jesus Christus is (Rom. 3:24). Ons hou daarom hierdie grondslag altyd vas: Gemeente: Ons gee aan God al die eer, verneder ons voor Hom, erken dat ons is wat ons is, en roem glad nie in onsself of in ons verdienste nie, maar maak staat en steun op die gehoorsaamheid van die gekruisigde Christus alleen. Hierdie gehoorsaamheid is ons eie as ons in Hom glo; dit is ook genoegsaam om al ons ongeregtighede te bedek en die gewete van vrees, verbystering en skrik te bevry En om ons vrymoedigheid te gee om na God te gaan, terwyl ons nie handel soos ons eerste vader, Adam, wat al bewende probeer het om hom met vyeblare te bedek nie. Waarlik, as ons voor God moes verskyn terwyl ons, in watter geringe mate ook al, op onsself of op enige ander skepsel sou staatmaak, sou ons - helaas! - verteer moes word. En daarom moet elkeen saam met Dawid sê: Moet tog nie ’n regsaak teen my begin nie, want niemand wat leef, is voor U onskuldig nie! (Ps. 143:2). VONKK 79 Genade, So Oneindig Groot [bekend: Amazing Grace] of Flam 269 Hy Verwelkom My of Lied 182 Ons wil, o Heer, U loof en eer Geloofsbelydenis Apostoliese Geloofsbelydenis God nooi ons uit en ons kom tot rus
3
God praat met ons en ons luister
Gebed Skriflesing Romeine 4:13-25 Familie-oomblik Preek God praat met ons en ons luister
4
Romeine 4:13-25 Fokusteks: Romeine 4:13-25 Die voorbeeld van Abraham
4 Wat moet ons nou sê was die geval met ons stamvader Abraham? 2As Abraham op grond van sy dade vrygespreek is, dan het hy 'n rede gehad om te roem. Maar nie by God nie! 3Wat sê die Skrif? "Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek." o4'n Arbeider se loon word nie vir hom as 'n guns gegee nie, maar as iets wat hom toekom. 5Maar die mens wat nie op wetsonderhouding staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddelose vryspreek, hy kry die vryspraak deur sy geloof. 6So sê ook Dawid dat dié mens geseënd is wat deur God vrygespreek word buite wetsonderhouding om: 7"Geseënd is die mense wie se oortredinge nie gestraf word nie en wie se sonde vergewe word. 8Geseënd is die mens vir wie die Here die sonde nie toereken nie." p 9Het hierdie uitspraak oor wie geseënd is, net betrekking op die besnedenes of ook op die onbesnedenes? Ons sê weer: "Deurdat Abraham geglo het, het God hom vrygespreek. 10Wanneer het dit gebeur? Toe hy reeds besny was of toe hy nog onbesnede was? Dit was nie toe hy besnede was nie, maar toe hy nog onbesnede was. 11Hy het die besnydenis as 'n teken ontvang. Dit is 'n seël wat bewys dat God hom vrygespreek het deurdat hy geglo het toe hy nog onbesnede was. Die doel daarmee was dat hy die vader sou wees van almal wat glo al is hulle nie besny nie. Hulle word dus ook deur God vrygespreek deurdat hulle glo. 12Ons voorvader Abraham sou ook die vader wees van dié besnedenes wat nie net besny is nie, maar ook glo, soos hy geglo het toe hy nog onbesnede was. Wat belowe is, word deur die geloof verkry 13Dit is trouens nie omdat Abraham die wet van Moses onderhou het dat aan hom en sy nageslag die belofte gegee is dat hy die wêreld as besitting sal ontvang nie, maar omdat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het. 14As mense deur wetsonderhouding deelgenote van die belofte sou kon word, sou die geloof sy betekenis verloor het en die belofte sy krag. 15Die wet bring juis die straf van God, want waar daar nie 'n wet is nie, is daar ook geen oortreding van die wet nie. 16Daarom het die belofte deur die geloof, en dus uit genade, tot Abraham gekom sodat dit van krag sou bly vir sy hele nageslag. En sy nageslag is nie net dié wat die wet ontvang het nie, maar ook dié wat glo, soos Abraham geglo het. Hy is immers die vader van ons almal, 17soos daar geskrywe staan: "Ek het jou die vader van baie nasies gemaak." qDít is hy in die oë van God in wie hy geglo het, God wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring deur sy woord. 18Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo, en so die vader van baie nasies geword volgens die belofte: "So sal jou nageslag wees." r19Al was hy sowat honderd jaar en al het hy dus goed besef dat sy liggaam reeds gedaan was en dat Sara te oud was om kinders te hê, het sy geloof nie verswak nie. 20Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee. 21Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het. 22Deurdat Abraham geglo het, het God hom dus vrygespreek. 23Dat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het, is nie net ter wille van hom opgeteken nie, 24maar ook ter wille van ons wat vrygespreek sal word, óns wat in God glo wat vir Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het. 25Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word. o Vgl. Gen. 15:6 p Vgl. Ps. 32:1–32:2 q Gen. 17:5 r Vgl. Gen. 15:5 Romeine 4:13-25
5
Familie-oomblik Familie-oomblik
Hierdie is ‘n goeie geleentheid om die verhaal van Abraham te vertel, as agtergrond vir die fokusteks. (Genesis 17:1-7, is een van hierdie week se tekste.) Hierdie video is 4:33 minute lank en vertel van al die beloftes wat God teenoor Abraham gemaak het. Hierdie prettige video is korter as 4 minute en fokus op Abraham se reaksie en God se getrouheid aan sy beloftes. Kinders kan tydens die diens sterre uitknip en versier – soveel as wat hulle kan – en tydens die dankoffer by die preekstoel kom neersit, om ons te herinner aan God se beloftes. Julle sal ook lekker kan speel met goue ster-plakkers. Jy sou dit kon verbind aan die doop en ‘n sterretjie op elke kind se voorkop plak. Hier en hier is oulik inkleurprente van Abraham. Familie-oomblik
6
Berg Everest Berg Everest
Die wêreld is mooi. Daar is soveel skoonheid en pragtige tonele om te geniet. Die kliprantjie agter die Karoo-dorpie, die rustige toneel langs die rivieroewer of die magtige Drakensberge vervul mens met verwondering. Hoe mooi is die wêreld nie! Veral die wêreld se berge is só mooi. Toe ek onlangs 'n reeks kortfilms van die Belgiese landskapfotograaf en avonturier, Chris Eyre-Walker sien, is die skoonheid van berge by my ingeskerp. Hy vertel onder andere van 'n tog op die Pamirroete deur Tajikstan of wys hoe 'n Belgiese span skouspelagtig "highlining" op die Deense Faroe-eilande doen. Daar is baie mooi berge. Toegegee. Maar dan is daar die Himalajas. Hulle staan tussen al die ander berge en bergreekse op aarde uit. Die grootse Piek Everest troon oor die Himalajas. Daar is nie nog so 'n berg en nog so 'n bergreeks nie. Tussen al Paulus se briewe troon die Romeinebrief uit. Dit is die Himalajas, die Everestpiek, van die Nuwe Testament. Hier ontmoet ons onvergelykbaar helder vir God, die Vader van Jesus Christus, en vir Jesus Christus self, deur die krag en gawe van die Heilige Gees. En word ons vervul met diepe verwondering oor wie God is en wat God doen. Romeine is 'n bergpiek-ervaring. Berg Everest
7
Lydenstyd Saam met Christene oor die hele wêreld vier ons tans lydenstyd, daardie tyd van die kerkjaar waar ons nadink oor die betekenis van Jesus se lyding vir ons lewe en ons toekoms. In ons teks bring Paulus die worsteling van 'n Ou Testamentiese kinderlose egpaar met God se beloftes in verband. Hierdie beloftes het nie net met Abraham en Sara te doen nie, maar met die toekoms van die hele mensheid, trouens die hele skepping van God. Ons toekoms wentel om Jesus se lyding, sterwe en opstanding. Om die punt te maak, roep Paulus Abraham se verhaal in herinnering, en hoe beslissend God in Abraham en Sara se lewe gehandel het. Wanneer ons God se aksie snap, en sien hoe Abraham dit in geloof omhels het, verstaan ons God se aksie in die wêreld. En sien ons hoe ons daarby ingesluit word. Ons verstaan dan wat ons moet doen. Dit skep hoop in ons. Abraham se verhaal, ons verhale, Abraham se toekoms en ons toekoms, bring hoop wanneer ons dit in verband bring met Jesus Christus van Nasaret: Dat hy (Abraham) vrygespreek is deurdat hy geglo het, is nie net ter wille van hom opgeteken nie, maar ook ter wille van ons wat vrygespreek sal word, óns wat in God glo wat vir Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het. Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word (23-25) Lydenstyd
8
Geloof Paulus wys dus daarop dat God in die sterwe en opstanding van Jesus handel om mense in 'n herstelde verhouding met God te kry. Hierdie verhouding staan as geloof bekend. Mense wat die gawe van God in Jesus ontvang (deur die leë hande van geloof), staan in 'n verhouding met God. Jesus se werk, en die werk van die Heilige Gees maak hierdie geloof in ons moontlik. God skep die geloof in ons waarmee ons sy gawe ontvang. Geloof kom 'n lang pad. Geloof hou ook verband met die beloftes wat God in die Ou Testament gegee het. In die hede het God Jesus uit die dood opgewek, in die verlede het God 'n belofte van 'n erfenis aan Abraham gemaak. Beide die kragtige opwek van Jesus en die belofte van die verlede is God se werk, gerig op die hele mensheid, om 'n verhouding met mense moontlik te maak. Soos gesê is hierdie verhouding vir Paulus geloof. Hierdie geloofsverhouding is vir alle mense, Jode en heidene, etniese Jode en nie-etniese Jode, moontlik. In die Romeinebrief spandeer Paulus baie tyd om te verduidelik die genade is vir Jode en nie-Jode bedoel. Daarom is Abraham so 'n goeie voorbeeld. God het hom geroep en vir hom gesê al die nasies sal in hom geseën word. Om hierdie seën effektief te maak, het God aan hom 'n nageslag en 'n land beloof. Vir Abraham het hierdie belofte 'n werklikheid geword omdat Hy God geglo het. Noudat God beslissend in Jesus se lyding, sterwe en opstanding gehandel het, bly die patroon steeds geloof. Deur in geloof te ontvang wat God beloof, word die belofte werklikheid. Geloof
9
Genade en geloof Genade en geloof
Geloof veronderstel God se genade. Dit is God se genade wat geloof moontlik maak. Wanneer ons die verhouding wat in Jesus tussen God en gelowiges tot stand kom: Vanuit God se kant sien, noem ons dit genade Vanuit menslike perspektief sien, noem ons dit geloof. Daar is geen geloof sonde God se genade in Christus moontlik nie. Egte geloof is die ontvang van hierdie genade. Vir Paulus lei dit tot die mens se regverdiging voor God. Wie op die genade met die leë hande van geloof reageer, kom in 'n posisie van regverdigheid voor God te staan. Dit gebeur op grond van Christus se lyding, sterwe en opstanding, soos deur die Heilige Gees in die gelowige se lewe ingedra. Genade en geloof
10
Geloof en die werke van die wet
Paulus skryf hierdie brief aan gelowiges in Rome. Hulle bestaan uit Jode en nie-Jode. Die Jode is opgevoed om vas te hou aan die nakoming van die wet. Só identifiseer hulle hulself as volgelinge van God in die wêreld. Hulle hou die Sabbat, eet sekere voedselsoorte en nie ander nie, berei hulle kos op 'n spesifieke manier voor en laat hulle besny. Die vraag is nou of Christene ook hierdie uiterlike merktekens moet dra voordat hulle as volgelinge van God kan kwalifiseer. Die verdere vraag is of die verdienste van gehoorsaamheid aan die wet mens in die regte verhouding met God bring, of nie? Is dit dus die krag van God in Jesus se sterwe en opstanding, wat deur geloof lewe wek in sondige mense, wat red? Of is dit (bykomend) die gehoorsaamheid aan die wet. En verder: is dit die nakoming van die wet wat ons as dissipels van God identifiseer, of nie? Paulus beantwoord die vraag deur op Abraham se geloof in God se beloftes te wys. Abraham het die beloftes geglo nog voordat hy besny is. Hy het ook geglo voordat God die wet in Moses se tyd gegee het. Dit is die inhoud van Abraham se geloof (God, God se beloftes en God se werke) wat red, nie die wet en die nakoming daarvan nie. Geloof en die werke van die wet
11
Abraham se nageslag Abraham se nageslag
Abraham is daarom die vader van alle gelowiges. Almal wat glo in God op grond van God se werke in Jesus, is gelowige kinders van God. Abraham is dus die vader van Joodse en nie-Joodse gelowiges. Abraham is die Vader van Afrikaanse gelowiges. Net so ook van Arabiese, Xhosa, Engelse en Surinamiese gelowiges. Ook van Jode wat in die Here Jesus glo. Van almal. Abraham se nageslag
12
Wat beloof God? Wat beloof God?
Tot sover het ons gesê dat almal wat in God se werke (wat God in Jesus se lyding, sterwe en opstanding doen) glo, in 'n herstelde verhouding met God staan. Ons is nie in 'n herstelde verhouding deur ons eie werke nie, maar deurdat ons God se werke omhels en vir onsself toeëien. God werk dit in ons. Paulus wy heelwat tyd in ons teks aan die inhoud van die belofte wat Abraham geglo het. Hy maak dit later ook op ons, God se Joodse en nie-Joodse kinders deur geloof van toepassing. Wat het God aan Abraham en sy nageslag belowe? Dat hy die wêreld as besitting sal ontvang (13) Dat hy, wie se liggaam al oud en verswak was, uit 'n vrou wat te oud was om kinders te hê, 'n nageslag sal verwek (19). God het aan Abraham 'n nageslag beloof. Die nageslag is die Jode, maar veral diegene wat glo – Jood en nie-Jood. God het aan Abraham 'n land beloof. Vir die Jode het hierdie belofte in vervulling gegaan toe hulle Israel deur die Jordaan binnegetrek het. Dit was egter nog nie die volle vervulling van die belofte nie – God het "die wêreld" as besitting aan Abraham en sy nageslag belowe. Dit is 'n aangrypende belofte, wat gewoonlik totaal misgelees word. Robert Brawley wys op 'n ou Joodse tradisie wat reeds geglo het dat die land Israel nie God se belofte aan Abraham was nie, maar slegs 'n stasie op 'n groter reis: sy nageslag sal die hele aarde in besit neem. Deur saam met Vader Abraham te glo, kry ons deel aan die belofte van die wêreld. Wat beloof God?
13
Die wêreld as besitting
Wat beteken dit om die wêreld as besitting te ontvang, 'n belofte aan diegene wat deur geloof in Jesus Christus aan God verbind en voor God geregverdig is? Hierdie is 'n geweldige ryk tema in Paulus se briewe. Mens kan maar net na 1 Korintiërs 3:21-23 of Romeine 8:17 kyk. Hier noem Paulus ons erfgename saam met Christus. Dink ook aan Jesus self wat in Matteus 5:5 sê dat die sagmoediges die aarde sal beërwe. Die punt is dat diegene wat in Christus is, saam met Christus die heerlikheid van die nuwe aarde sal beërwe. Tans leef ons nog op die ou aarde. Ons deel aan gebrokenheid. Ons sien soos Abraham soveel dood en hooploosheid rondom ons. Ons deel ook in die swakheid van die mens. Tog kan ons glo in God se beloftes van nuwe lewe. Dat God aan ons sal doen wat Hy aan Jesus gedoen het. Dat God ons sal optel uit die graf en ons lewend sal maak. Ons kan dit waag om te glo in dié God "wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie tot stand bring deur sy woord" (17). Ons wat die vrug van Christus se sterwe en opstanding ontvang het – ook ons het nog nie alles ontvang nie. Ons leef ook nog – soos Abraham – met 'n belofte. Die wêreld as besitting
14
Bly glo en hoop Bly glo en hoop
Daarom het ons die verantwoordelikheid om saam met Abraham te bly glo en hoop (20-21): Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee. Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het. Ons geloof in God bind ons – saam met Abraham – in by die ontvangs van God se gawes, en die vooruitsien na die volle heerlikheid van wat ons as erfgename saam met Christus sal ontvang. Bly glo en hoop
15
In Lydentyd In Lydenstyd
Lydenstyd fokus ons aandag op die besonderhede van Christus se lyding en sterwe – ter wille van ons. Romeine 4 tel ons vandag vir 'n oomblik uit hierdie detail uit op. Dit help ons om die betekenis van Christus se lyding in die groter prentjie van die plot van God se evangelie te sien. Dit vervul ons met geloof en hoop op God se wonderlike toekoms wat vir ons – saam met Abraham – weggelê is. Ons sal dit in Christus ontvang. Die wêreld is mooi. Die berge is mooi. Maar nie naastenby so mooi soos God se nuwe aarde nie. Die wêreld is ook stukkend. Daar is geweldige baie lyding, onreg, dood en hooploosheid. Soms lyk dit of lelik wen. Die mooi en die lelik hou egter nie stand teen die ongelooflike nuwe hemel en nuwe aarde wat God beloof het nie. Saam met Abraham hou ons aan God se beloftes vas. Totdat God dit vervul. In Lydentyd
16
God stuur ons om te leef God stuur ons om te leef Gebed Dankoffer
Slotsang VONKK 104 Wat ‘n Vriend Het Ons In Jesus [bekend – ou Halleluja lied] of Lied 203 Loof die Here, al wat lewe Seën Respons Vonkk 175 vers 4 refrein: o Lam van God, ek glo! Of Lied 203 vers 2 laaste twee reëls: Loof Hom, prys Hom! Loof en prys Hom! Hy’s genadig en getrou. F386. Mag Die God Van Hoop Deur Geloof Jou [ons] Vervul (Benedictus) (RUBRIEK: Flam – Seënbede) Teks: Neil Büchner Musiek: Neil Büchner © Flam Musiek-Uitgewers (Rom 15:13) Mag die God van hoop deur geloof jou vervul met alle vreugde en vrede sodat jou hoop sterker kan word deur die krag van Sy Gees. Tweede: Laat dit so wees: Amen. God stuur ons om te leef
17
Volgende erediens: Johannes 2:13-22
Liturgie en familie-oomblik: Rethie van Niekerk Powerpoint: Wicus Wait Preekriglyn: Danie Mouton Prosesbestuur en ekstra stof: Chris van Wyk Volgende erediens: Johannes 2:13-22
Similar presentations
© 2025 SlidePlayer.com. Inc.
All rights reserved.