Presentation is loading. Please wait.

Presentation is loading. Please wait.

Jesus bepaal wie binne en wie buite is

Similar presentations


Presentation on theme: "Jesus bepaal wie binne en wie buite is"— Presentation transcript:

1 Jesus bepaal wie binne en wie buite is
Dekapolis – Jesus bepaal wie binne en wie buite is

2 Gesprek: Waar kon jy vandag oor ‘n grens gaan?
GESPREKSRAAMWERK Ons stel voor dat jy elke erediens geleentheid gee dat mense gesels oor die grense waaroor hulle in daardie dag kon beweeg. Dit help met die inoefening van die gewoonte om oor grense te gaan. Daarom gee ons ‘n eerste gespreksraamwerk wat bedoel is om aan die begin van die erediens te gebruik. Ons gee ook telkens ‘n tweede gespreksraamwerk om ná die Woordverkondiging te gebruik. Daarmee skep ons die bewussyn dat die erediens ‘n ontmoeting met God is wat werk deur sowel ons daaglikse ervarings as in die prediking van die Woord. Dit berei die gemeente ook voor om dieselfde proses môre te volg. INLEIDING Ons leer deur ons eie stories te vertel. Blote kennis help nie regtig baie ver nie. 'n Mens moet saam met die kennis en in afhanklikheid (houding) van die Gees vaardighede aanleer, soos om te let op die mense wat oor jou pad kom. Soos jy dit inoefen en dit 'n gewoonte raak, so begin jy leer hoe dit werk om oor grense te gaan. En die wonder is dat só 'n gewoonte vir ander ook geleer kan word (oordraagbaar). VÓÓR DIE WOORDVERKONDIGING Dink eers alleen na oor jou kontak met mense vandag. Lys almal wat jy kon groet, waar jy oor ‘n grens kon gaan, waar jy ingenooi is in hulle lewe of huise of kantore, en jy die geleentheid gehad het om aan ‘n dieper verhouding te bou. Vanoggend Vanmiddag Sommige sal baie kontakte gehad het en ander minder. En dit is heeltemal OK. As jy niemand regtig kon groet nie, of daar nie grense oorgesteek is nie, dink dan oor mense wat jy graag môre sou wou groet. Dit kan iemand wees wat vreemd was of jou uit jou gemaksone uitgeneem het. Vertel vir mekaar die storie van jou ontmoeting met die persoon(e). Konsentreer veral op hoe dié ontmoeting JOU geruk of getroos of geseën het. Vertel dit asof hy/sy nou by julle is. Onthou die Seisoen van Luister se waardes van leerbaarheid, vertroue, deernis en openheid. Dink na hoe God jou voorberei het vir die ontmoeting met die persoon (oop/kwesbaar). Gee tyd vir 3 persone om met ons te deel wat gebeur het – en wat julle geleer het om saam met Jesus te stap oor grense.

3 Markus 5:1-20; 7:31-37 Markus 5:1-20 (Matt 8:28-34; Luk 8:26-39); 7:31-37 (Matt 15:29-31) Om hierdie gedeelte beter te verstaan help dit om die voorafgaande gebeure van die vinnig bewegende evangelie van Markus in gedagte te hou. 1. In die eerste hoofdeel van die evangelie word die begin van Jesus se publieke bediening vertel: Hy roep die dissipels, dryf demone uit, maak die siekes gesond en verbind dit telkens aan die koninkryk van God. In die proses begin die skares van verwondering om Hom saamdrom en laai die teenstand van die godsdienstige en politieke leiers op. Jesus fokus egter slegs op Jode in hierdie deel van sy bediening. In die tweede hoofdeel van die evangelie, Markus 3:7-8:21, word gefokus op die impak van Jesus se bediening van lering en genesing op drie groepe: die skares wat steeds verwonderd staan oor wat Jesus alles doen en sê; die dissipels wat dieper in die geheim van Jesus ingelei word, selfs in die bediening gebruik word, maar stadig van begrip is; die groeiende teenstand wat Jesus se bediening uitlok. En hoewel dit aanvanklik ook slegs Jode is wat baat vind by sy bediening, brei dit uit om Grieke en ander groepe in te sluit, die besetene van Gerasa en die vrou van Siro-Fenicië. 2. Dit vorm verder deel van ‘n ander interessante kontras wat getref word tussen die groep buitestaanders en dié groep wat ‘n binnekring rondom Jesus begin vorm. Die buitestaanders word gou geïdentifiseer as die lede van die Joodse Raad en die Herodiane. Selfs sy familie word aanvanklik as buitestaanders geteken. Let op hoe sy familie gedink het Hy is van sy kop af (3:21). Dit is eers later dat van sy broers, spesifiek sy broer Jakobus, deel van die binnekring geraak het en selfs ‘n leier in die kerk van Jerusalem geword het. “Jesus identifies his family on the basis of the response to him rather than on natural kinship. The response of his natural family who sought to take him into their custody reflected their rejection of his ministry regardless of their motivation, which in Mark is given as concern for his mental stability. The response of the crowd who sought his presence and gathered around him, doubtless to hear his teaching, reflected their acceptance of him.” (Guelich). Let ook op hoe Jesus nie noodwendig sê dat dié wat rondom Hom sit sy familie is nie, maar dié wat die wil van sy Vader doen. Die band wat die nuwe familiekring saamvoeg, is die doen van die wil van God. Dit gaan dus nie om die aanhang van Jesus se persoon nie, maar om die oorgawe aan God om Hom alleen te gehoorsaam. Diegene wat dit van harte doen, is voortaan kinders van God en broers en susters van mekaar. 3. Hierdie lyn van gedagte word verder gevoer in die bekende gelykenis van die Saaier, of soos geleerdes dit al hoe meer identifiseer as die gelykenis van die Saad. Let op hoe daar in die gelykenis twee groepe saad is wat gebruik word: die een groep val op grond wat onvrugbaar is en “die ander saad” val op vrugbare grond. Die eerste groep saad (telkens enkelvoud) groei nie vanweë drie tipes grond wat groei belemmer. Dit word gekontrasteer met die tweede groep saad (meervoud) wat uitstekend groei en drie tipe oeste lewer: party lewer 30-, ander 60- en nog ander 100-voudig. Dit beteken dat die klem in die gedeelte op die saad self is. Hierdie twee groepe kan dus geïdentifiseer word as dié wat buite bly, en dié wat binne kom, alles op grond van die aanvaarding van die woorde van Jesus. Soos Jesus self sê: “Wie ore het en kan hoor, moet luister!” 4. Wanneer hierdie tweede van ‘n reeks van vier wonderverhale van Jesus dus vertel word (die stilmaak van die storm, die genesing van die besetene, die genesing van die vrou, en die genesing van Jaïrus se dogtertjie) is die vraag na wie is binne en wie buite, wie reageer op Jesus se woorde en wie nie, voorop in ‘n mens se gedagte. En nog dieper, is die evangelie bedoel net vir Jode of is dit bedoel vir almal? Is dit net Jode wat deel van die binnekring kan word, of sluit die evangelie enigiemand in die binnekring in, wat in geloof op Jesus reageer? Die verhaal van die besetene van Gedara wys onomwonde dat dit nie net Jode is wat in die binnekring ingesluit word nie. Waar Jesus tot hiertoe net gekonsentreer het op die Jode van Galilea, steek Hy hier ‘n grens oor na die Grieke van die Dekapolis. Die Dekapolis (Griekse woord wat tien stede beteken) was 10 Griekse stede in die Suide, aan die oorkant van die See van Galilea, wat ‘n alliansie gevorm het. 5. Die dorpie Gerasa was so 50 km suid van die See van Galilea. Dit was een van die 10 Griekse stede van Dekapolis. Sommige manuskripte plaas die verhaal in Gergesa, ‘n dorpie aan die see, en in die gebied van die Dekapolis stede. Dit maak meer sin, omdat die verhaal eksplisiet sê dat die duiwels in die see invaar. Geleerdes oordeel egter dat Gergesa eerder ‘n wysiging aan die teks is deur latere skrywers (Origines). Matteus plaas weer die verhaal in Gadara wat nader aan die see was (10 km), maar steeds te ver is vir die nuus om so vinnig daarheen te versprei, of vir die varke om in die see te vaar, maar tog deur sommige as meer histories korrek geag word (Hagner). Moontlik moet ‘n mens Markus se mededeling so verstaan, dat dit die varke van boere (vgl. plase in vers 14) van Gadara was, wat naby die see gewei het. Dit bly egter ‘n tergende probleem. Die belangrike punt is egter, die verhaal wys hoe Jesus se werk uitbrei na die Griekse wêreld toe en ‘n groot impak het daar. Grieke kan ook deel van die binnekring, van die geloofsfamilie van Jesus word. 6. Die man se naam, Legio, verwys waarskynlik na ‘n Romeinse legioen, wat uit tussen 4000 – 6000 soldate bestaan het. Die grafte van destyds was baie keer in spelonke en grotte wat verklaar hoe die man daar kon bly. 7. Die verhaal demonstreer ook Jesus se krag oor die Bose. Dit is net so groot soos sy krag om die wind en weer te beheer, soos Hy in die vorige verhaal van die storm op die see gewys het. En dit bring bevryding vir mense wat onder die juk van die Bose krepeer. En dat hierdie verhaal in ‘n heidense gebied afspeel, dra die boodskap dat Jesus se bediening uiteindelik sal uitkring en die hele wêreld sal impakteer. 8. Die feit dat die bose (onrein) geeste deur die varke in die see vaar, het waarskynlik te make met die feit dat die see as die plek van die bose geteken is (vgl Jesaja 27:1; Eseg 28:2; Open 13). Varke was natuurlik onrein diere vir die Jode (Lev 11:7) wat waarskynlik verklaar hoekom Jesus die “onrein” geeste toelaat om in die varke te vaar. 9. Interessant is dat Jesus hierdie motief – onreinheid – later verder sou aanspreek in sy gesprekke met die Fariseërs (vgl hfst 7 vv). 10. Dat Jesus die man vra om agter te bly in die streek van Dekapolis en te getuig van wat Jesus vir Hom beteken het, het ‘n groot effek op die omgewing. Wanneer Jesus weer in die streek van Dekapolis kom (Mark 7:31 vv) is daar ‘n ontvanklikheid vir Jesus se bediening, anders as hier waar die Geraseners Hom wegstuur, en Hy genees dan ‘n dowe man. Die reaksie van die mense in Markus 7 is oorweldigend: “Alles wat Hy doen, is goed”! Die reaksie toe kan daarom waarskynlik ten minste ten dele aan hierdie getuienis van die geneesde besetene van Gerasa gewyt word. Matteus meld ook in 4:25 dat groot menigtes uit Dekapolis vir Jesus gevolg het, wat moontlik met hierdie getuienis verbind kan word. 11. ‘n Mens sien hier iets van die genuanseerdheid van Jesus se opdragte. Vir sommiges (die dissipels) vra hy om huis en familie te verlaat en saam met Hom te gaan, terwyl Jesus hierdie man, wat wil doen wat die dissipels gedoen het, aansê om by sy huis en sy mense te bly en vir hulle te vertel.

4 Jesus aan die oorkant PREEKRIGLYN
Ter inleiding kan die prediker na die ontwikkelende patroon in die eerste hoofdeel van Markus verwys: Jesus het ‘n publieke bediening, wat oor grense uitbrei, in hierdie teks na die nie-Joodse samelewing “aan die oorkant” (paragraaf 1 hierbo) Rondom Jesus se bediening vorm twee groepe: diegene wat hulleself oriënteer aan die persoon van Jesus, in wie die koninkryk van God tot by hulle kom, en diegene wat hulleself daarvan uitsluit en dit opponeer (paragrawe 2-4 hierbo). Vertel dan die verhaal dinamies oor. Waar bevind Jesus Hom “aan die oorkant”? Hoe lyk die leefwêreld en omstandighede wat blyk uit die verhaal (paragrawe 5-9 hierbo)?

5 Jesus sluit buitestaanders in
Toepassing: Een: Jesus sluit buitestaanders in Dit is goed om onsself daaraan te herinner dat ons ook buitestaanders was. Die “oorkant” (5:1) waarheen Jesus hier vaar, is dieselfde “oorkant” waarheen Jesus later sy apostels stuur. Wanneer Jesus aan die oorkant aankom, woon ons voorouers in die noorde van Europa, of in die Ooste, op duisende plekke versprei. Hierdie duisende plekke is almal oorkant-plekke. Wanneer ons vandag, in navolging van Jesus grense oorsteek, doen ons dit nie maar uit ordentlikheid nie. Ons doen dit uit diepe dankbaarheid dat ons wat eenmaal nie deel was van die volk van God in iewers langs die pad ingesluit is. Die uitdaging is of ons Jesus se inklusiewe karakter self baie goed verstaan, en of ons geestelik daardeur gevorm is. Maak ons ‘n gewoonte van insluiting? Soos Jesus?

6 Die evangelie ontwrig Twee: Die evangelie ontwrig
Ons kerkkultuur mag ons verlei om te dink dat konflik sleg is. Wanneer iets konflik veroorsaak, is ons geneig om daarmee weg te doen, omdat dit verkeerd en verdelend is. Die vraag is natuurlik of dit wat konflik veroorsaak reg is en volgens die voorbeeld en evangelie van Jesus. In hierdie gedeelte veroorsaak Jesus se aankoms aan die oorkant geweldige konflik en spanning. Een voorbeeld is die knou wat die plaaslike ekonomie kry wanneer die varke verdrink. Dit herinner mens aan die opstand in Efese later omdat die plaaslike handel rondom die beelde van die tempel van Artemis bedreig is (Hand 19:21-40). Vandaar die begryplike reaksie dat die mense van die omgewing Jesus dringend versoek om uit hulle gebeid weg te gaan. Die uitdaging is om die Here te vertrou dat die konflik rondom Sy persoon die evangelie kan dien. Juis in die smeltkroes van konflik word ons gevorm om beter insig in die werk en werkswyse, die insluiting en die omarming van Jesus te verkry. Die navolging van Jesus beteken dat ons oop moet wees vir verrassing en disoriëntasie.

7 Jesus is teenwoordig deur diegene wat Hy aanraak
Drie: Jesus is teenwoordig deur diegene wat Hy aanraak Jesus verlaat die gebied, maar laat ‘n verteenwoordiger agter in wie Hy die beeld van God herstel het. Legio kry ‘n opdrag by die Here: “Gaan na jou huis toe, na jou mense toe, en gaan vertel vir hulle wat die Here alles vir jou gedoen het en dat Hy jou jammer gekry het” (5:19) Legio doen dit, en berei só die weg voor vir die latere bediening van Jesus in die Dekapolis-gebied. Wanneer Jesus weer daar aankom (6:53-56) is die mense gereed om Hom te ontvang, en bring hulle hul siekes vir genesing. Legio verkondig nie ‘n morele kode nie, of dra nie leerstellige waarhede oor nie. Legio praat van persoonlike ondervinding en vertel wat die Here alles vir hom gedoen het. Dit het trefkrag. Laat ons daarom ook onbeskaamd met mekaar en met ander oor die Here gesels en oor die groot dinge wat Hy doen. Ons sou op ‘n menslike vlak iemand soos Legio nie ingesluit het in ons getuienisbeplanning nie. Maar Jesus sluit in. Jesus, sy optrede en genesing, en mense se respons daarop bepaal wie is binne en wie is buite.

8 Refleksie REFLEKSIE Dink nou weer na oor die persoon(e) wat jy vandag kon groet. Wat dink jy is God besig om deur die persoon(e) met jou te laat gebeur? Wat wil jy bevestig by dié mense? Wat moet in jou verander? Wat is jy besig om te leer wat jy beter sou wou doen? Na wie toe stuur die Here jou weer terug? Deel kortliks met mekaar.

9 Die vrou by die put (deelnemersgids) - Chris van Wyk e.a
( Bybel-Media ) Prys: R25.00 (14 % BTW ingesluit) - koop aanlyn Subtitel: Stap saam met Jesus oor grense – ’n Studie oor die Samaritaanse vrou Opsomming van inhoud: Die skrywers van Die vrou by die put gebruik die verhaal wat in Johannes 4 opgeteken is – Jesus en die Samaritaanse vrou – as vertrekpunt om te sê: God het ons gemaak met die behoefte om in gemeenskap met mekaar te wees. God het ons geroep om vir ander te leef, maar dit beteken om waarlik by hulle teenwoordig te wees. En om waarlik by hulle teenwoordig te wees moet ons grense na hulle toe oorsteek. En dit is presies waarmee hierdie boek gelowiges help. Die vrou by die put is deel van die Groei oor grense-program, wat deel vorm van die Seisoen van Luister, en is spesiaal ontwerp vir groepe. Dit bestaan uit ’n leiersgids en ’n deelnemersgids. Die drie hoofstukke van die deelnemersgids bied aan die groepe: Hoofstuk 1 Agtergrondinligting oor die Luistersiklus en die Groei oor grense-program Waardes wat deur hierdie studie gevestig wil word Die metodiek van die ses studies Hoofstuk 2 Ses studies oor die ontmoeting tussen Jesus en die Samaritaanse vrou by die put, wat gelowiges uitdaag om grense na ander oor te steek, nuwe verhoudings te bou en só ware omgee en gemeenskap te beleef Hoofstuk 3 Agtergrondinligting oor die Seisoen van Luister Praktiese hulpmiddels, soos ander boeke, CD’s en DVD’s, wat saam met hierdie studie gebruik kan word Die bibliografie is redelik omvattend ter wille van dié wat dieper wil delf in al die onderwerpe en insigte wat in die boek aangeraak word. Die vrou by die put is ’n uitdagende boek wat gelowiges in beweging sal bring om dit te waag om te groei oor alle grense heen wat ons inperk om God se stem te hoor. Skrywers: Chris van Wyk, Frederick Marais, Nico Simpson Die vrou by die put (leiersgids) - Chris van Wyk e.a Prys: R (14 % BTW ingesluit) - koop aanlyn Opsomming van inhoud: Die skrywers van Die vrou by die put gebruik die verhaal wat in Johannes 4 opgeteken is – Jesus en die Samaritaanse vrou – as vertrekpunt om te sê: God het ons gemaak met die behoefte om in gemeenskap met mekaar te wees. God het ons geroep om vir ander te leef, maar dit beteken om waarlik by hulle teenwoordig te wees. En om waarlik by hulle teenwoordig te wees moet ons grense na hulle toe oorsteek. En dit is presies waarmee hierdie boek gelowiges help. Die vrou by die put is deel van die Groei oor grense-program, wat deel vorm van die Seisoen van Luister, en is spesiaal ontwerp vir groepe. Dit bestaan uit ’n leiersgids en ’n deelnemersgids. Die vyf hoofstukke van die leiersgids bied aan die leiers van groepe die volgende: Hoofstuk 1 Agtergrondinligting oor die Luistersiklus en die Groei oor grense-program Riglyne vir die groepleier Hoofstuk 2 Ses studies oor die ontmoeting tussen Jesus en die Samaritaanse vrou by die put, wat gelowiges uitdaag om grense na ander oor te steek, nuwe verhoudings te bou en só ware omgee en gemeenskap te beleef Hoofstuk 3 Agtergrondinligting oor die Seisoen van Luister Hoofstuk 4 Praktiese riglyne wat spesifiek vir hierdie Groei oor grense-reis ontwikkel is en veral op luistervaardighede fokus Hoofstuk 5 Teologiese nadenke oor ’n paar aspekte van die Seisoen van Luister en die teologiese raamwerk wat daaruit ontwikkel Bykomende hulpmiddels vir die groepleier Die bibliografie is redelik omvattend ter wille van dié wat dieper wil delf in al die onderwerpe en insigte wat in dié boek aangeraak word. Die vrou by die put is ’n uitdagende boek wat gelowiges in beweging sal bring om dit te waag om te groei oor alle grense heen wat ons inperk om God se stem te hoor. Skrywers: Chris van Wyk, Frederick Marais, Nico Simpson


Download ppt "Jesus bepaal wie binne en wie buite is"

Similar presentations


Ads by Google