Presentation is loading. Please wait.

Presentation is loading. Please wait.

Barnabas die Besluitnemer

Similar presentations


Presentation on theme: "Barnabas die Besluitnemer"— Presentation transcript:

1 Barnabas die Besluitnemer
Die deurlopende agtergrond sluit aan by die beeld van die diepsee duiker wat hom oriënteer aan die rigting waarin die borrels beweeg wat hy uitasem. Die grafika is deur Eric D Moore, en die foto is geneem op 14 Augustus 2009 met ‘n Nikon D80. Kopiereg laat plasing en verwerking toe. Verwerk met Picasa 3, beskikbaar by

2 Die agtergrond op skyfie 2 is ‘n fiktiewe voorstelling van Barnabas in hoofsaaklik waterverf (Wicus Wait). Of ‘n mens nou kan peil trek op die 6de eeuse monnik van Siprus, Alexander Monachus, se beskrywing van Barnabas al dan nie – “his face was like that of an angel ... and he had sparkling eyes” (Laudatio Barnabae, 25). Die rooi en goud ruimte waarop aanvullende grafika geplaas kan word verteenwoordig die liturgiese kleure van Pinkster.

3 God nooi ons uit en ons kom tot rus
Aanvangsgebed: Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra. (Jeremia 29:13) Terugvoer Ons het by die vorige erediens nagedink oor gemeenskap. Gee geleentheid dat lidmate verhale deel van wat met hulle gebeur het terwyl hulle die dissipline van gemeenskap beoefen het. Liedere Lied 442 (Gees van God wat in my woon) Flam 166 (Die krag van U liefde) Vonkk 7 (Mag ons U liefde ken) en ‘n seleksie van geliefde lofliedere wat by jul gemeente se styl pas. Skriflesing Die Skriflesing is lank vir ‘n gewone voorlesing. Kry twee mense om die teksgedeelte te lees. Een person lees die beskrywings in die teks, terwyl die ander een al die aanhalings lees. Of kry meer lesers: ‘n verteller mense van Judea gelowiges wat vroeër Fariseërs was Petrus Jakobus Brief

4 God praat met ons en ons luister

5 Hand 15:1-35 Handelinge 15:1-16 Die vergadering in Jerusalem
15 Daar het mense van Judea af gekom en die gelowiges wysgemaak: “As julle nie die gebruik van Moses nakom deur julle te laat besny nie, kan julle nie gered word nie.” 2Toe Paulus en Barnabas hulle daarteen verset en in ’n heftige meningsverskil met hulle betrokke geraak het, is daar besluit dat hulle twee en nog ’n paar ander van die gemeente na die apostels en ouderlinge in Jerusalem moet gaan in verband met hierdie vraagstuk. 3Nadat die gemeente hulle van die nodige vir die reis voorsien het, het hulle deur Fenisië en Samaria gegaan en vertel van die bekering van die heidene. Hieroor was al die gelowiges baie bly. 4Toe hulle in Jerusalem aankom, is hulle deur die gemeente, die apostels en die ouderlinge verwelkom. Hulle het vertel wat God alles deur hulle gedoen het, 5maar party van die gelowiges wat vroeër Fariseërs was, het na vore gekom en gesê: “Die bekeerlinge moet besny word en aangesê word om die wet van Moses te onderhou.” 6Die apostels en die ouderlinge het toe bymekaargekom om hierdie vraagstuk te bespreek. 7Na ’n lang bespreking het Petrus opgestaan en vir hulle gesê: “Broers, julle weet dat God my lankal uit julle geledere gekies het om die evangelie aan die heidennasies te verkondig sodat hulle kan glo. 8En God, wat die harte ken, het dit bevestig deur die Heilige Gees aan hulle te gee net soos aan ons. 9Hy het geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie: Hy het ook hulle harte deur die geloof gereinig. 10Waarom wil julle dan nou God se geduld op die proef stel deur op die nek van die gelowiges uit die heidennasies ’n juk te lê wat ons voorvaders nie in staat was om te dra nie en ons ook nie? 11Nee! Ons, en ook hierdie gelowiges, glo dat ons net deur die genade van die Here Jesus gered word.” 12Daarna het al die mense stilgebly en na Barnabas en Paulus geluister. Hulle het vertel van die tekens en wonders wat God deur hulle onder die heidennasies gedoen het. 13Toe hulle klaar was, sê Jakobus: “Broers, luister na my! 14Simon het verduidelik hoe dit God self is wat begin het om na die heidennasies om te sien deur vir Hom ’n volk uit hulle te versamel. 15Die profete sê dieselfde. Daar staan geskrywe: 16Daarna sal Ek terugkom, en Ek sal die vervalle huis van Dawid weer opbou, en Ek sal sy bouvalle herstel en dit weer regmaak, 17sodat al die ander mense die Here kan soek, ja, al die heidennasies wat Ek geroep het om my eiendom te wees, sê die Here wat hierdie dinge doen. e 18“Dit is van ouds af bekend. 19Daarom meen ek dat ons dit nie moeilik moet maak vir die heidene wat hulle tot God bekeer nie. 20Maar ons moet vir hulle skrywe om nie vleis te eet wat aan ’n afgod geoffer is nie, want dit is onrein; dat hulle onsedelikheid moet vermy, geen dier wat verwurg is, moet eet nie, en ook nie bloed nie. 21Hierdie voorskrifte van Moses word immers van ouds af in elke stad aan die mense voorgehou. Elke sabbatdag word dit in die sinagoges voorgelees.” Die besluit van die vergadering 22Daarna het die apostels en die ouderlinge saam met die hele gemeente besluit om mense uit hulle geledere saam met Paulus en Barnabas na Antiogië toe te stuur. Hulle het vir Judas, wat ook Barsabbas genoem is, en vir Silas gekies, manne wat die agting van die gelowiges geniet het. 23Hulle het die volgende brief saamgestuur: “Van die apostels en die ouderlinge, julle broers. Aan die gelowiges uit die heidendom in Antiogië, Sirië en Silisië. Groete. 24Ons het gehoor dat daar mense van ons af gekom het wat julle verwar en ontstel het deur dinge te sê waarvoor hulle geen opdrag van ons ontvang het nie. 25Daarom het ons eenparig besluit om manne te kies en na julle toe te stuur. Hulle vergesel ons geliefde Barnabas en Paulus, 26wat hulle lewe gewaag het vir die Naam van ons Here Jesus Christus. 27Ons stuur nou vir Judas en Silas om ook mondeling hierdie dinge aan julle oor te dra. 28Die Heilige Gees en ons het besluit om geen verdere las op julle te lê as net hierdie noodsaaklike dinge nie: 29dat julle nie vleis moet eet wat aan ’n afgod geoffer is nie, ook nie bloed nie en ook geen dier wat verwurg is nie, en dat julle onsedelikheid moet vermy. As julle julle van hierdie dinge weerhou, doen julle reg. Hartlike groete.” 30Die afgevaardigdes het afskeid geneem en na Antiogië toe gegaan. Daar het hulle al die gelowiges bymekaar laat kom en die brief oorhandig. 31Die gelowiges het dit gelees en was baie bly oor die bemoedigende boodskap. 32Judas en Silas, wat self ook profete was, het lank met die gelowiges gepraat en hulle bemoedig en geestelik versterk. 33Nadat Judas en Silas geruime tyd daar gebly het, het hulle teruggegaan en die groete van die gelowiges oorgedra aan dié wat hulle afgevaardig het. 34f 35Paulus en Barnabas het ’n tyd lank in Antiogië gebly en saam met baie ander onderrig gegee en die woord van die Here verkondig. Die Bybel : Nuwe Vertaling. 1998, c1983 (electronic ed.). Bybelgenootskap van Suid-Afrika: Cape Town, South Africa

6 Preekriglyn ’n Diepsee duiker vertel dat hy diep in water moes duik waar dit plotseling stikdonker geword het. Dit was bitter moeilik om nie gedisoriënteerd en diep angstig te raak nie. “Dit is ’n verskriklike gevoel,” vertel hy, “om onder die water te wees sonder om eers jou eie hande voor jou gesig te kan sien. Jy kan geen sentimeter sien nie. Jy weet nie watter rigting is boontoe nie. Ek het paniekerig begin raak, sonder koers, en gewonder of ek ooit weer bo sou uitkom.” “Wat doen jy toe,” vra ek my vriend? “Ek het my instrukteur se woorde onthou en vir die borrels van my asemhaling gevoel,” sê hy. “Die borrels?” “Dis reg. Wanneer dit stikdonker is, en jy het geen idee watter rigting boontoe is nie, met die gevaar dat jy dieper of dwarsweg kan duik, menende dat jy boontoe gaan, steek jy jou hande uit en soek vir die borrels. Die borrels styg altyd boontoe, in die rigting van die oppervlak. Wanneer jy nie meer jou eie oordeel of jou eie sintuie kan vertrou nie, kan jy altyd op die borrels vertrou om jou weer bo te kry.” My vriend se groot vraag was: “Wat is werklik, wat is die realiteit waarop ek kan vertrou? Hoe weet ek wat staan vas en seker?” Dit is ’n kritiese vraag, veral as jou lewe op die spel is. Mens beland meermale in die lewe in omstandighede waar jy wonder wat waarheid is. Veral as groot besluite geneem moet word. Die gevaar is dat mens dan doelloos kan begin rondspartel. Wat is die regte rigting om in te slaan? Vir gemeentes en gelowiges is hierdie ’n kritiese belangrike vraag. Wat is die wil van God? Wat is die rigting wat God wys? Hoe bepaal ons wat werklik God se koers is? Hoe werk geloofsonderskeiding?

7 Die vroeë kerk voor ’n kruispad
In Handelinge 15 kom die vroeë kerk voor ’n belangrike vraag te staan. Hoe word mens gered? Mense van Judea maak die gelowiges in Antiogië wys dat mens nie gered kan word as jy nie besny word nie (15:1). Paulus en Barnabas verset hulle teen hierdie siening, en ’n heftige meningsverskil ontstaan. Wat is waarheid? Watter koers is die regte? In watter rigting beweeg – figuurlik gesê – die borrels? Voor die ontstaan van die gemeente in Antiogië was verreweg die meeste van Jesus se volgelinge mense uit die Jodedom. Vir baie van hulle was die Christus-beweging ’n Joodse beweging. Toe groot getalle mense uit die heidendom tot bekering kom, is die vraag of hulle ook die Joodse gebruike moet nakom. Moet jy ’n Jood word (besny word) om ’n Christen te kan wees? Veral gelowiges wat vroeër Fariseërs was (15:5) het sterk gevoel dat alle nuwe gelowiges Jode moet word. Hulle moet besny word en die wet van Moses onderhou. Hierdie was interne weerstand teen die evangelie, anders as die eksterne Joodse weerstand wat so fel op die eerste sendingreis in plekke soos Antiogië in Pisidië en Ikonium ondervind is. Petrus het reeds met die bekering van Kornelius dit duidelik laat blyk dat die besnydenis nie belangrik was nie (Hand 10:46) en die gemeente in Jerusalem het daarmee saamgestem (11:15-18). Die gemeente in Antiogië besluit nogtans om Barnabas en Paulus, tesame met ander gelowiges, Jerusalem toe te stuur om die waarheid saam met die ander gelowiges te gaan soek. Die besoek aan Jerusalem sou ’n kragtoer in geloofsonderskeiding word wat vir die kerk van alle eeue belangrike rigting aanwys. Hoe het dit prakties gewerk?

8 Kyk konflik in die oë en hanteer dit
Voordat ons praktiese oor geloofsonderskeiding praat, eers ’n opmerking oor konflik. ’n Mens is geneig om negatief te kyk na die gelowiges wat uit die Fariseërs se geledere gekom het en ’n ekstra juk op nie-Jode wou plaas. In baie geloofsgemeenskappe sal die versoeking wees om sulke “beswaardes” te ignoreer of hulle standpunte van die tafel te vee. Alternatiewelik kan mens te vinnig soek na ’n kompromis, om die konflik uit die weg te kry, en so die waarheid afwater. Die eenheid van die Christus-beweging was vir die Antiogiese gelowiges te belangrik om prys te gee. Die soeke na die waarheid was ook te belangrik om te vinnig ’n kompromis aan te gaan. Hulle kyk waarderend na die konflik. Dit is goed so, want die konflik het die katalisator geword vir die onderskeiding van God se wil, wat in hierdie geval vir alle tye sou geld. Die vraag na die afdwingbaarheid van die besnydenis op gelowiges uit die heidennasies gee ons dus ’n kykie na hoe geloofsonderskeiding as ’n geestelike gewoonte werk. Terug by die vraag: wat leer ons uit ons teks oor die praktiese manier waarop geloofsonderskeiding werk?

9 1. Geloofsonder- skeiding sluit almal se bydraes in
Een: Onderskeiding sluit almal se bydraes in In Jerusalem aangekom, blyk duidelik dat die hele gemeente, die apostels en die ouderlinge partye in die gesprek is (4-5). Beide die gewone gelowiges en die leierskap gesels saam. Die aandrang op die besnydenis kom spesifiek uit gelowiges wat vroeër Fariseërs was se geledere. Dit is duidelik dat baie menings en perspektiewe verreken word. Die proses word nie afgejaag of met die spel van ’n magskliek vinnig in ’n rigting gedwing nie

10 2. Onderskeiding werk met getuienisse oor God se werk in die lewe
Twee: Onderskeiding werk met getuienisse oor God se werk in die lewe Die gesprek in die gemeente handel oor alles wat God gedoen het. Die tema is die lewe van geloof, en die wyse waarop gelowiges beleef dat God handel. Verhale word vertel om op die spoor van God se aksie te kom. Wanneer die apostels en ouderlinge bymekaar kom, praat Petrus ook eers oor wat God doen en gedoen het. Hy is geroep om die evangelie aan die heidennasies te bring en het self beleef hoedat God sy Gees aan hulle gee net soos aan Joodse gelowiges. Hulle harte is deur geloof gereinig, nie deur die nakoming van die Joodse wet nie. Hierna vertel Paulus en Barnabas wat God onder die heidennasies gedoen het. Hierdie benadering gee ruimte aan God. Die vraag is wat God doen, en hoe God deur die gemeente se bediening nagevolg moet word. Dis nie ’n strategiese gesprek wat voor- en nadele opweeg, of takties korrek wil wees nie. Hier is ’n diepe soeke na God se handelinge ter sprake, en die vertel van verhale wat dit op die agenda plaas, is die benadering wat gevolg word.

11 3. Onderskeiding toets alles aan die Skrifwoord totdat daar klaarheid daaroor kom.
Drie: Onderskeiding toets alles aan die Skrifwoord totdat daar klaarheid daaroor kom. Nadat die vertelling van God se handelinge in die hede en verlede afeghandel is, word dié verhale aan die Skrif getoets. Jakobus speel die belangrike rol om die Skrif, die gebeure en die gelowiges se interpretasie daarvan bymekaar te bring. Oor die leer van die Skrif is daar gesprek. Uiteindelik is dit die vergadering (22) wat aandui dat die konneksie tussen gebeure en Skrif vir hulle sin maak en dan ’n besluit daaroor neem. Belangrik is dat die Bybel nie gebruik word om mekaar af te kraak nie. Die Bybel is nie ’n geweer waaruit ons tekste soos Bybel-koeëls op mekaar afskiet ten gunste van een of ander standpunt nie. In baie gemeentes word die Bybel as ’n wapen vir massa-vernietiging hanteer, waarvoor dit nie bedoel is nie. Gelowiges soek saam en lank genoeg (tot die punt van voldoende konsensus) na waarheid uit die Woord. Dit geskied totdat die gebeure waaroor die besluit geneem moet word voldoende deur die Woord belig is en helderheid bereik is.

12 4. Eers as daar wye instemming bereik is, word dit die besluit van die geloofs- gemeenskap
Vier: Eers as daar wye instemming bereik is, word dit die besluit van die geloofsgemeenskap Daar is ’n belangrike beweging in die aanloop tot die vergadering, en die vergadering self, te bespeur. Die kerk soek na ’n gemeenskaplike konsensus wat gebore word uit die oortuiging dat God reg gehoor en sy Woord reg geïnterpreteer word, Dan eers neem die geloofsgemeenskap ’n besluit (22). Die apostels en ouderlinge besluit saam met die hele gemeente om ’n afvaardiging na Antiogië en die omliggende streek van Silisië te stuur om die besluit van die vergadering bekend te maak. Die brief sluit aan by die onenigheid wat deur mense – wat geen opdrag van Jerusalem gehad het nie! – veroorsaak is. Barnabas en Paulus word as “geliefdes” beskryf en die besluit as komende van “die Heilige Gees en ons”. Die vier voorskrifte word uitgestippel: geen afgodsvleis, bloed, verwurgde diere, en onsedelikheid nie. Die besnydenis is daarmee beslissend uitgesluit van enige voorskrif aan die gelowiges uit die heidene. Die afgevaardigdes het die blye nuus aan die gelowiges in Antiogië gaan oordra. Almal was bly oor die bemoedigende boodskap. Die profetiese rol van Judas en Silas in die bemoediging en geestelike versterking van die gelowiges word spesifiek beklemtoon. Die gemeente reageer ook met ’n groeteboodskap terug aan die gemeente in Jerusalem. Daarmee word die onderlinge gemeenskap, verbondenheid, liefde en respek bevestig.

13 Wye impak Wye impak Die besluit van die kerk in Handelinge 15 sou die belangrike patroon vestig wat oor al die eeue steeds geld: mense kan na die Here kom soos hulle is. Jy hoef nie eers te verander, bv. ʼn Jood te word nie. Nooit sou die kerk beperk kon word tot ’n enkele groep of kultuur nie. Nooit sal een spesifieke kultuur hul insig in die Christelike geloof tot die absolute waarheid kon verklaar nie. Hierdie besluit maak die evangelie werklik vry om oor alle grense te beweeg en mense in die koninkryk van God in te sluit deur geloof in Jesus Christus alleen. Praktiese uitvoering Gemeentes moet erns maak met hierdie proses van geloofsonderskeiding, en dit self ook toepas. Te veel kerklike besluite word geneem deur geslote debatte of pogings om die meeste stemme te werf. Dan swem mens ondertoe, terwyl jy eintlik in die donker water boontoe moet beur. Of jy karring sywaarts aan tot jou suurstof op is en jy in ’n geweldige krisis beland. “Voel vir die borrels, hulle beur in die regte rigting,” sê my vriend. Kerklik kan ons dit soos volg vertaal: “Soek die aangesig van die Here. Wat is God besig om te doen? Watter lig laat die Woord hierop val? Praat daaroor en doen saam.”

14 God stuur ons om te leef “geloofsonderskeiding”
’n Mens kan verskillende fasette van Barnabas se lewenstyl en bediening hier identifiseer. Die een waarop ons wil fokus, is geloofsonderskeiding. Lees die onderstaande beskrywing van geloofsonderskeiding as geestelike gewoonte. Geloofsonderskeiding is om God se wil in die praktyk van die lewe te herken. ’n Ander woord daarvoor is wysheid (Jak 1:5; Fil 1:9-10). Dit sluit in om na die getuienisse van God se werk in die lewe te luister; om almal geleentheid te gee om hulle perspektiewe daarop te deel; om na die Skrifwoord te luister en alles daaraan te toets tot daar ’n wye instemming kom oor wat God se wil is. Dit sluit in om tot rus te kom voor God, na ander stemme as jou eie te luister, individuele en gesamentlike gebed te beoefen, en die bereidheid om wat jy hoor, te gaan leef. Beplan hoe jy voor ons volgende byeenkoms die geestelike gewoonte van geloofsonderskeiding gaan beoefen. Hier is ’n weergawe van die luistersiklus wat jy kan gebruik, die korter of die langer weergawe. A. Gebruik die drie groot bewegings – rus, hoor en leef. RUS Raak bewus van jou diepste behoeftes. Gee dit in gebed aan God. HOOR Lees ’n Skrifgedeelte. Deel met mekaar wat julle daarin tref. LEEF Wat lê die Here nou op jou hart? Besluit op ‘n gepaste reaksie en sluit met gebed af. B. Gebruik die volgende agt stasies met ’n Skrifgedeelte van jou/julle keuse. 1. Ingenooi deur God Dink na: Waarmee kom jy nou na God toe? Wan­hoop, verwarring of hoop? (Dit kan ’n vraag, ’n behoefte, ’n seer, ’n dankbaarheid ... wees.) God nooi ons uit om by Hom tot rus te kom. 2. Ingaan in God se tyd Raak bewus van die ruimte wat God nou vir ons skep deur op die kerkjaar (bv Pinkster), ’n geloofsbelydenis of ’n psalm te fokus. Oordink die betekenis wat dit vir ons inhou. 3. Luister na God se Woord Lees die Skrifgedeelte. Raak bewus van watter gedagtes, beelde of vrae by jou opkom terwyl ons saam die gedeelte lees. 4. Luister na mekaar Kom ons ontvang God se Woord deur na mekaar te luister. 5. Luister na ander en die tye Kom ons luister na hulle wat nie hier is of nie hier praat nie. Hoe sou hulle na dié Skrifgedeelte geluister het? 6. Luister weer na God se Woord Ons luister nuut na die Skrifgedeelte. Raak be­wus: Hoe ruk en/of troos hierdie gedeelte jou/ons? 7. Fokus op wat God nou doen Watter moontlikhede het God in ons tyd saam vir jou oopgemaak? Watter van dié moontlikhede voel jy wil God hê moet jy laat vaar/ontgin? 8. Antwoord met ons lewe Sê vir mekaar wat julle nou gaan doen. Dit is hoe ons God se genade uitleef en vir ander aangee. Stories

15 Joernaal Joernaal Onthou jou notaboek. Skryf elke dag neer wat met jou gebeur in die bemeestering van die geestelike gewoonte. Beskou dit as ’n “leefbladsy”. Wees eerlik oor jou ervarings. (Gee geleentheid dat mense in stilte in hul joernaal skryf.) Gesprek: Gee geleentheid dat mense gesels geloofsonderskeiding – oor wat dit is en hoe dit werk, of getuienisse van God se leiding in die verlede. Gebed: Gee geleentheid vir kort gebede. Slotsang: Lied 436 [hierdie is ons “temalied” – ons sluit elke erediens daarmee af.] Afsluitingsgebed En nou doen ek ’n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.(Romeine 12:1-2)

16 Volgende erediens: Hand 15:36-41
Handelinge 15:36-41 (Kol 4:10; Filemon 24; 2 Tim 4:11)

17 Barnabas illustreer vir ons hoe ’n Christelike lewenstyl werk
Barnabas illustreer vir ons hoe ’n Christelike lewenstyl werk. Sluit aan by die Seisoen van Luister se pinksterreeks ; Help gelowiges om geloofsgewoontes in te oefen. Prys: R Teikenmark: Bybelstudiegroepe en Kleingroepe.


Download ppt "Barnabas die Besluitnemer"

Similar presentations


Ads by Google