Download presentation
Presentation is loading. Please wait.
Published byInge Salim Modified over 6 years ago
1
1 Samuel 5:34-16:1 Foto van Michelangelo se Dawid-beeld. Google advanced search- geen kopiereg. Dit is beskikbaar by
2
God nooi ons uit en ons kom tot rus
Toetrede Vonkk 15 Ons Plaas Ons Hoop Nie Op Perde Nie of Psalm 20 verse 1, 4 en 5 Votum In die woorde van Ray Boltz se lied: when others see a shepherd boy God may see a king Even though your life seems filled With ordinary things In just a moment He can touch you And everything will change When others see a shepherd boy God may see a King One by one problems come And dreams get shattered And sometimes it's hard To understand But things like chance And circumstance They don't really matter Our Father holds tomorrow In His hands Seëngroet Omdat God ons elkeen se lewens op onverwagse maniere in Sy hand hou, word ons gegroet in die Naam van die drie-enige God. Genade en vrede! Lofsang Flam 421 Almal Saam, Loof Die Here (Loof Die Here) of Lied 184 Lofsing die Here Die wil van God 2 Korintiërs 5:14-16 14Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het. 15En Hy het vir almal gesterwe sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is. 16Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie. Al het ons Christus vroeër volgens menslike maatstaf beoordeel, nou beoordeel ons Hom nie meer so nie. Verootmoediging V: Here, daar is so baie mense rondom ons, maar ons sien die meeste van hulle nie eens raak nie. G: Here, wees ons genadig! V: Here, by U is die laastes eerste, maar by ons bly hulle laaste. V: Here, ons hou meer van belangrike mense as van onbelangrike mense. V: Here, ons is volslae uitverkoop aan ’n samelewing waarin groter altyd beter is. V: Here, ons is te besig om stil te staan en te luister na die sagter stemme rondom ons. V: Here, ons hou van dinge en van mense en selfs van kerke wat blink. V: Here, help ons om méér mense raak te sien, veral die byna onsigbares. (Uit Cas Wepener se “Soos ’n Blom na die Son Draai”, Bybel-Media) Toewyding Flam 225 Heer Ek wil U Aanbid Lied 451 Hemelse Vader, ons bring U die eer Genadeverkondiging 2 Korintiërs 5:17-19 17Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. 18Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. 19Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou. Geloofsbelydenis
3
God praat met ons en ons luister
Gebed Skriflesing 1 Samuel 15:34-16:1 Familie-oomblik Preek
4
1 Samuel 5:34-16:1 1 Samuel 15:34-16:1 34Samuel het na Rama toe gegaan, terwyl Saul na sy huis toe in Gibea gegaan het. 35Tot die dag van sy dood het Samuel nie weer vir Saul gesien nie. Samuel het oor Saul getreur, en die Here was bedroef daaroor dat Hy vir Saul koning oor Israel gemaak het. Samuel salf 'n ander koning 16 Die Here het vir Samuel gesê: "Hoe lank gaan jy nog oor Saul treur nadat Ek hom as koning oor Israel verwerp het? Maak 'n horing vol olie en gaan na Betlehem toe! Ek stuur jou na Isai toe, want onder sy seuns sien Ek vir My 'n koning.„ 2Samuel vra toe: "Hoe kan ek gaan? As Saul dit hoor, sal hy my doodmaak." En die Here sê vir hom: "Neem 'n vers saam en sê: 'Ek het gekom om vir die Here 'n offer te bring.'3Nooi dan vir Isai na die offer toe. Ek sal jou meedeel wat jy moet doen. Salf vir My dié een wat Ek jou sal beveel." 4Samuel het gedoen wat die Here gesê het. By sy aankoms in Betlehem het die leiers van die stad hom ontsteld tegemoet gekom en gesê: "Kom u in vrede?" 5En hy het gesê: "Ja. Ek het gekom om vir die Here 'n offer te bring. Reinig julle en kom saam met my na die offer toe." Hyself het vir Isai en sy seuns gereinig en hulle na die offer toe genooi. 6Toe hulle inkom, het Samuel vir Eliab gesien en gedink: die gesalfde van die Here staan hier voor die Here. 7Maar Hy sê vir Samuel: "Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike." 8Toe roep Isai vir Abinadab en laat hom voor Samuel verbygaan en hy dink: die Here het ook hierdie een nie gekies nie. 9Daarna het Isai vir Samma laat verbygaan, maar Samuel het gedink: die Here het ook hierdie een nie gekies nie. 10Nadat Isai sewe van sy seuns voor Samuel laat verbygaan het, sê Samuel vir Isai: "Die Here het nie een van hulle gekies nie." 11Daarop het Samuel vir Isai gevra: "Is dit al jou seuns dié?" En hy het geantwoord: "Die jongste is nog oor, maar hy pas nou skape op." Toe sê Samuel vir Isai: "Laat haal hom, want ons eet nie voordat hy hier is nie." 12Isai het hom laat haal. Hy het 'n rooi gelaatskleur gehad, mooi oë en 'n goeie voorkoms. Toe sê die Here: "Staan op, salf hom, want dis hý." 13Samuel het die horing met olie gevat en hom voor sy broers gesalf. Die Gees van die Here het van daardie dag af kragtig in Dawid gewerk. Daarna het Samuel klaargemaak en na Rama toe teruggegaan.
5
Familie-oomblik Familie-oomblik
Onthou, dit is belangrik dat kinders die Bybelverhale hoor. Jy kan die teks dramaties lees, uit ’n kindervriendelike Bybel lees, kinders kry om dit op te voer terwyl jy dit lees of ’n video van die Skriflesing wys, soos hierdie een uit die Jesus Storybook Bible. As jy die video wys 0:45, is dit ’n ook ’n oorsig oor verlede week se teks en Saul se verhaal. Wys dit vanaf 2:13 vir net vandag se teks. Jy kan dit by 4:50 stop – of verder kyk, met ’n verwysing na ’n tweede besoek aan Betlehem en drie wyse manne. As julle ’n kinderkerk of iets het waarvoor julle lesmateriaal benodig, hier is ’n volledige byeenkoms op grond van die Jesus Storybook Bible se vertelling van Dawid se salwing. Kinders is goed bekend met die ervaring van uitgesluit wees of nie goed genoeg wees nie. Soos om by die “kinder-tafel” te sit tydens groot familie-etes. Of om nie lank genoeg te wees om in die Spur se speel-area te speel nie. Of wanneer grootmense oor dinge praat waarvan jy nie mag weet nie. Of wanneer maatjies jou uitsluit. Dit maak dat hulle goed kan identifiseer met Dawid en die boodskap van 16:7 sal waardeer: “Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike." Daar is ook baie stories van mense wat uitgesluit is omdat mense hulle op uiterlike dinge beoordeel het, maar wat toe groot dinge vermag het. Die kinders sal bv. die storie van Hiccup in “How to train your dragon” ken. Hy was nie groot en sterk genoeg vir ’n Viking nie. Maar op die ou end het hy vriende gemaak met drake en sy hele dorpie gered. Hierdie boodskap word ook pragtig oorgedra deur die lied waarna in die preek verwys word. Hier is ’n prent wat kinders kan inkleur terwyl hulle na die preek luister.
6
Koning Saul misluk… Preekriglyn
[Nota: Vir die doel van die preek word die teksindeling van die RCL soos vir Jaar B gevolg, d.w.s. 15:34 tot 16:13] Ons teks begin op 'n mismoedige noot. Koning Saul en profeet Samuel se weë skei. Dit gebeur omdat Saul se koningskap misluk. Saul is ongehoorsaam aan die Here se opdragte. Daarom is die Here spyt dat Hy Saul koning gemaak het, en Samuel profeteer dat die Here die koningskap van Saul wegneem. Mens moet iets weet van die inhoud van hoofstuk 15 om die verhaallyn te verstaan.
7
Die Amalekiete Die Amalekiete
Die verhaal vertel ons dat God – deur die profeet Samuel – vir koning Saul opdrag gee om die Amalekiete te gaan uitwis. Hy moet al die mense en al die vee uitwis. Saul roei die Amalekiete uit, maar spaar die koning en die beste vee. Toe sê die Here vir Samuel in vers 11: "Ek is bedroef daaroor dat Ek Saul koning gemaak het, want hy het van My af weggedraai en nie my opdragte uitgevoer nie." Saul se sonde is dat hy weerspannig, eiesinnig en ongehoorsaam is. Samuel voel baie ontsteld dat die Here Saul verwerp het en smeek die Here die hele nag om van plan te verander. Maar in die oggend besef Samuel God het klaar besluit oor Saul. Samuel maak toe reg en gaan na Saul toe om hom te konfronteer met die feit dat hy wat Saul is nie God se opdrag uitgevoer en al die vee doodgemaak het nie. Saul probeer verskoning maak deur te sê dat hy die beste vee gehou het om aan die Here te offer. Samuel maak dit vir Saul duidelik dat vir God gehoorsaamheid belangriker is as offers. Saul vra Samuel om saam met hom vir die Here te gaan bid, maar Samuel weier. Toe Samuel wegloop, gryp Saul hom aan sy mantel en skeur 'n stuk daarvan af. Samuel wys Saul daarop dat God nou sy koningskap van hom afgeskeur het en dat dit nie sal help dat Saul nou tot God wil bid nie. En toe spreek Samuel hom soos volg oor God uit in vers 29: Die Ewige van Israel lieg nie en Hy verander nie van gedagte nie, want Hy is nie 'n mens dat Hy van gedagte sou verander nie. Maar Saul hou aan om Samuel te smeek om saam met hom die Here te gaan aanbid. Samuel gee in en verander van plan. Hy gaan saam met Saul om tot God te bid en te smeek om sy wil te verander. Saul aanbid God tydens 'n "diens" waar Samuel vir Agag, die gespaarde koning van die Amalekiete, in stukke kap. Daarna gaan Saul en Samuel elkeen na hulle eie huise toe. Hulle het mekaar nooit weer gesien nie. Die laaste vers (35) van 1 Samuel 15 sê: Samuel het oor Saul getreur, en die Here was bedroef daaroor dat Hy vir Saul koning oor Israel gemaak het.
8
ʼn Nuwe koning gesalf 'n Nuwe koning gesalf
Hierdie skokkende gebeure laat Israel in 'n moeilike posisie. Saul is steeds koning, deur Samuel gesalf (1 Sam. 11). Nou het Samuel aangekondig dat God teleurgesteld is en Saul as koning verwerp. Daarom wil die Here 'n nuwe koning in Saul plek aanwys. Hy stuur Samuel na Isai toe om 'n koning uit die geledere van sy seuns te gaan aanwys. Vanselfsprekend is Samuel skepties en vreesbevange. As Saul daarvan hoor, gaan die vonke spat. Die Here wil niks hoor nie. Samuel moet gaan met die versoek dat hy vir die Here 'n offer wil bring. God sal dan wys wat hy moet doen en wie hy tot koning moet salf. Samuel moet aangepor word om te doen wat die Here wil hê.
9
Onwelkom Onwelkom By Samuel se aankoms in Betlehem is die oudstes ontsteld. Kom Samuel in vrede? Pas tevore het hy met Saul en koning Agag van die Amalekiete afgereken. Wie weet waartoe hy hier in Betlehem in staat is? Hulle wonder of Samuel nie die roadshow iewers anders wil voortsit nie. Samuel is egter hier om 'n offer te bring. Almal kry opdrag om hulle vir die offer te reinig en saam daaraan deel te neem.
10
Sewe seuns Sewe seuns Toe Samuel Isai se oudste seun, Eliab, sien, is hy seker die gesalfde van die Here staan hier voor hom. Maar dan sê die Here hierdie betekenisvolle woorde: Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike. (7) Die Here kyk anders as mense, want die Here sien binne-in ons. Ons het net ons uiterlike oë waarmee ons die uiterlike kan sien. Ons kan net oordele vel op grond van die uiterlike wat ons sien. Die Here se woorde wys die tragedie van die menslike kondisie uit. Mense vel oordele bloot op grond van wat ons uiterlik waarneem. Rassisme is 'n goeie voorbeeld van waardeoordele wat gevel word bloot op die uiterlike. God sien anders, God sien die hart. Samuel sien nou al sewe seuns van Isai. Nie een van hulle word deur die Here aangewys nie.
11
Skaapwagter Skaapwagter
Dit blyk toe daar is nog 'n seun, hy pas skape op. Isai het nie gedink hy kwalifiseer om teenwoordig te wees nie. Die implikasie van Isai se optrede is dat hy meen niemand kan tog dink die agtste seun, die skaapwagtertjie, sal van enige waarde vir Samuel wees nie. Samuel laat egter die onwaarskynlike kandidaat haal.
12
Mooi man Mooi man Terwyl ons gewaarsku is om dieper as voorkoms te kyk, noem die verhaal dat Dawid 'n rooi gelaatskleur gehad het, mooi oë en 'n goeie voorkoms. Weer kyk God dieper as die uiterlike en verklaar dat hy die koning is. Samuel moet opstaan en hom salf. Met hierdie eenvoudige vertelling verskyn Dawid op die toneel. 'n Man met 'n komplekse lewe, wat swaar sou sondig, maar tog ook 'n man na God se hart was. Niemand kan Dawid ooit vergeet of ignoreer nie, beroemd en berug soos hy is. Dawid is die onwaarskynlike keuse, die keuse wat ons nooit sou maak nie.
13
Leierskap Betekenis van die teks Wat sê ons teks vandag vir ons?
Ons teks praat sterk oor leierskap, en oor die feit dat leiers aan God verantwoording verskuldig is. God het 'n opinie oor die kwaliteit van leiers se gehoorsaamheid aan wat God vra. Leierskap is iets wat weggeneem kan word wanneer leiers gruwelik faal. Ons sien in ons land en in ons wêreld die wrange gevolge van dwase leiers. Dink aan staatskaping, maar ook aan die internasionale gemeenskap waar leiers meer met hul eie ego's besig is as met die beste belang van nasies. Dit lei tot sinnelose geweld, bloedvergieting en ellende. Wanneer mens sien hoe kommunisme, apartheid, die Berlynse muur en die Zuma-presidensie geval het, weet jy God laat hom nie bespot nie. Soos Farao tot 'n val gekom het omdat die Here die klagte van sy volk gehoor het, neem God die saak vandag nog op vir die wat verontreg word en swaarkry.
14
Lewende God Lewende God
Ons teks kommunikeer veel oor God. Aan die een kant laat dit ons met vrae oor God, wanneer ons bv lees van die opdrag om die Amalekiete uit te wis. Ons weet dat God se weë nie ons weë is nie. Maar ons weet veral dat God se openbaring sy hoogtepunt in Jesus Christus het. In Christus sien ons God op sy helderste, veral aan die kruis waar God se liefde vir die sondige wêreld openbaar word. Alles in die Skrif moet in die lig van Christus verstaan word. Uit ons teks is veral duidelik dat God 'n lewende God is. God kan van plan verander in die lig van veranderde omstandighede. God kan spyt kry. God is 'n lewende Persoon. Die God van die Bybel is soveel anders as die starre, onbeweeglike, onveranderlike, afwesige, veraf, koue God van die Griekse filosofie – 'n godsbeeld wat steeds baie invloedryk in die Weste is. Nee, God lewe en is 'n Persoon, God stap die pad met mense, God het 'n hart wat klop. God sien dieper as ons en reageer met veel groter insig as ons. Ons troos is – soos bv. die Psalms leer – dat God onveranderlik in God se liefde en trou teenoor is. Daarop kan ons reken.
15
Onwaarskynlike keuse Onwaarskynlike keuse
"When others see a shepherd boy, God may see a king" is 'n lied wat elkeen van ons help om na te dink oor die feit dat God – soos vir Dawid – ook vir ons kan gebruik. But when others see a shepherd boy God may see a king Even though your life seems filled With ordinary things In just a moment He can touch you And everything will change When others see a shepherd boy Die lied is op Youtube beskikbaar – bv. Kurtis Parks se lied David the Shepherd Boy beeld hierdie tema ook pragtig uit en kan in die erediens ter wille van (veral) die kinders gespeel word:
16
Stadig met die oordeel Stadig met die oordeel
Aangesien God konings in skaapwagters sien, moet ons stadig oor die klippe met ons oordele oor ander. Ons kan nie baie ver sien nie, en 'n mens kan nie 'n boek bloot op sy omslag beoordeel nie.
17
Moeisame pad Moeisame pad
Uit die geskiedenis van Samuel leer ons dat die pad wat God en mens met mekaar stap, nie 'n maklike pad is nie – maar dat dit 'n volhoubare pad is. Samuel is God se profeet. Maar, soos gesê, is dit nie altyd 'n maklike pad nie. Eerstens stem Samuel nie altyd met God saam nie. God wil Saul se koningskap van hom wegneem. Samuel is hewig hierteen gekant. Samuel is lief vir Saul. Samuel wroeg en swoeg dwarsdeur die nag met God en vra Hom, asseblief, nie Saul nie. Maar God verander nie van plan nie en teen die môre moet Samuel sy tas pak en na Saul gaan soek om vir sy vriend die nuus oor te dra: God het jou verlaat. Nee, Samuel se pad met God is nie 'n maklike pad nie. Tweedens laat God dit lyk asof Samuel 'n onbetroubare profeet is. Samuel het dan geprofeteer dat Saul die koning van Israel is en dat God dit so wil hê. En nou kom God en verander van plan en wil 'n ander in Saul se plek as koning hê. Wie gaan nou ooit weer vir Samuel glo? Geen wonder Samuel sê in vers 29 met nadruk dat God nie 'n God is wat van gedagte verander nie. Samuel probeer om "God se eer te red", maar eintlik probeer hy sy eie eer red. Hy wil die mense oortuig dat hy as profeet betroubaar is en dat hy 'n direkte mondstuk van God is. Ja-nee, Samuel verstaan nie regtig altyd wat God wil hê nie; dis nie 'n maklike pad saam nie. Derdens maak Samuel se private lewe hom baie kwesbaar. In 1 Samuel 8:1-3 lees ons dat Samuel, toe hy oud geword het, sy seuns as leiers oor Israel aangestel het. Maar dit was 'n ramp. Hulle het hulleself verryk, omkoopgeskenke aanvaar en die regspraak verdraai. So erg was dit dat die leiers van Israel bymekaargekom en vir Samuel gesê het: "Jou seuns is nie soos jy nie; hulle is skelm; kies liewers vir ons 'n koning." Watter vernedering moes dit nie vir die arme Samuel gewees het nie. Baie dominees en ouderlinge en mense in hoë posisies in die kerk en samelewing, ken hierdie gevoel: Jy moet vir ander preek en ander lei, maar jou eie kinders steek jou in die skande. Jy kan hulle nie beheer nie. Ja, die ouers met gebroke harte. Nou moet Samuel profeet wees, terwyl sy kinders so naam weggooi.
18
Intieme pad Intieme pad
Maar ons kan nie net oor Samuel, sy moeilike pad met God en sy kwesbaarheid preek nie. Daar is soveel positiewe temas wat mens uit 1 Samuel 15 kan ontwikkel: 1. Beide God en Samuel is teleurgesteld in mekaar en stoei met mekaar. En in die proses kom daar 'n kant van hulle beide na vore wat wonderlik is om te sien. Hulle is betrokke, hulle reageer, hulle is gevoelig – en bowenal, gee beide diep om oor Israel en sy toekoms. Samuel bly by sy roeping ten spyte van sy problematiese verhouding met God, en ten spyte van sy kinders wat hom in die steek laat. God wys hoe Hy reageer op mense se omstandighede, en hoe gevoelig Hy is vir die welsyn van sy mense. 2. God en Samuel stap die pad saam. Hulle los mekaar nie. God is nie altyd wat Samuel wil hê Hy moet wees nie. Samuel het verwagtinge van God. Hy verwag dat God voorspelbaar moet wees en by die plan moet bly, soos Samuel dit verstaan. God het ook sy probleme met Samuel. Hy stuur Samuel om vir Saul te gaan sê dat sy tyd as koning verby is – maar Samuel gee Saul nog 'n kans en nog 'n kans. Samuel wat nooit juis bloed aan sy hande gehad het nie, slaan selfs die Amalekiete se koning met 'n swaard in stukke om Saul weer onskuldig te probeer maak. En so stap ons en God ook die pad saam, onlosmaaklik aan mekaar verbonde. Ons is vandag nog deel van hierdie avontuur.
19
God stuur ons om te leef God stuur ons om te leef Gebed Dankoffer
Slotsang Lied 494 Gelukkig is die mens of Lied 500 Gods dade is volmaak en goed Seën Respons Lied 494 refrein of Lied 313
20
Volgende erediens: Psalm 9:9-20
Liturgie en familie-oomblik: Rethie van Niekerk Powerpoint: Wicus Wait Preekriglyn: Danie Mouton Prosesbestuur en ekstra stof: Chris van Wyk
Similar presentations
© 2025 SlidePlayer.com. Inc.
All rights reserved.