Download presentation
Presentation is loading. Please wait.
1
Barnabas die Beskermer
2
Die deurlopende agtergrond is gebaseer op hierdie foto (Danie Mouton) van die aanwysingbord na die gemeenskap Twee Riviere naby Joubertina aan die hand van die storie wat dien as inleiding tot die preek. Vir die Powerpoint is die oorspronklike foto ietwat verander.
3
Die agtergrond op skyfie 3 is ‘n fiktiewe voorstelling van Barnabas in hoofsaaklik waterverf (Wicus Wait). Of ‘n mens nou kan peil trek op die 6de eeuse monnik van Siprus, Alexander Monachus, se beskrywing van Barnabas al dan nie – “his face was like that of an angel ... and he had sparkling eyes” (Laudatio Barnabae, 25). Die rooi en goud ruimte waarop aanvullende grafika geplaas kan word verteenwoordig die liturgiese kleure van Pinkster.
4
God nooi ons uit en ons kom tot rus
Aanvangsgebed: Daarom kniel ek in gebed voor die Vader aan wie die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op die aarde sy bestaan te danke het. Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God. Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen. (Efesiërs 3:14-21) Terugvoer Ons het by die vorige erediens nagedink oor nederigheid. Gee geleentheid dat lidmate verhale deel van wat met hulle gebeur het terwyl hulle die dissipline van nederigheid beoefen het. Liedere Lied 435 (Heil’ge Gees, U bou ‘n tempel) Flam 66 (Op vaste fondamente) Vonkk 77 (Die Kerk is die Heer se mense) en ‘n seleksie van geliefde lofliedere wat by jul gemeente se styl pas.
5
God praat met ons en ons luister
6
Handelinge 14:21-28 Handelinge 14:21-28
Paulus en Barnabas keer na Antiogië in Sirië terug 21Paulus en Barnabas het die evangelie ook in Derbe verkondig, en baie mense het daar gelowig geword. Daarna het hulle na Listra, Ikonium en Antiogië toe teruggegaan. 22Hulle het die gelowiges geestelik versterk en hulle aangespoor om getrou te bly in die geloof. “Ons sal eers deur baie verdrukking moet gaan voordat ons in die koninkryk van God kom,” het hulle gesê. 23In elke gemeente het hulle ouderlinge gekies. Nadat die gemeente gebid en gevas het, het die apostels hulle opgedra aan die Here, in wie hulle nou geglo het. 24Die apostels het verder deur Pisidië na Pamfilië toe gegaan. 25Daar het hulle in Perge die woord verkondig en daarna na Attalië toe vertrek. 26Daarvandaan is hulle met ’n skip terug na Antiogië toe, waar hulle aan die genade van God opgedra was vir die werk wat hulle nou voltooi het. 27By hulle aankoms het hulle die gemeente bymekaargeroep en vir hulle vertel wat God alles deur hulle gedoen het en dat Hy vir die heidene die deur van die geloof oopgemaak het. 28Die apostels het ’n geruime tyd daar by die gelowiges deurgebring. Die Bybel : Nuwe Vertaling. 1998, c1983 (electronic ed.). Bybelgenootskap van Suid-Afrika: Cape Town, South Africa
7
Twee Riviere Preekriglyn
Ds Barnard Steyn van Joubertina-gemeente, waarby ’n aantal nabygeleë preekpunte ingesluit is, soos Twee Riviere, vertel die volgende aangrypende verhaal op die Seisoen van Luister se webtuiste (Februarie 2009): Twee Riviere in die Langkloof was ’n stoere gemeenskap wat gelowig en getrou in die gebaande weë van hulle voorvaders en voormoeders geloop het. Veral in Olivier-voetspore, want gedurende die 1930’s was net 24 van die 106 huisgesinne hier nie Olivier-nasate nie. Selfs die ander vanne was meestal ou bekendes soos Schreiber’s en Murray’s. Toe ’n skoolmeester lank gelede onwillig raak om die skoolsaal te leen, bou hulle ’n eie, trotse monument-kerksaal vir vol bidure en boere-basare. Maar, deur die jare het ook Twee Riviere karakter verander. Ou inwoners is gaandeweg en een vir een vervang deur … inkommers. Veral Engelssprekendes toegewy aan ’n Joods-godsdienstige leefwyse. En soos hulle intrek, hoor jy: “Hulle is nie van onse mense nie” of “Hulle is nie in onse kerk nie” en agter die woorde word stilletjies gewonder: “Is hulle ooit van onse God se mense?” Asof daar nie genoeg verwikkelinge (agteruitgang?) in die Kloof is nie en asof die resessie nie genoeg druk nie, wurg ’n knellende droogte ons. Twee Riviere hou biduur vir reën. Die gewone paar mense neem gedweë hulle plekke in die agterbanke in. Die oop voorbanke is stille getuienis van die wat in vergange se dae in die getal was. Maar toe die biduurklok slaan, is daar afwagting in die lug asof vanaand se getal nog nie vol is nie. En daar daag hulle toe in hulle tientalle op. Van kinders tot bejaardes. Wanneer laas moes daar stoele ingedra word? Die vreemdes het saam kom bid. Met die oorwig moes selfs dominee noodgedwonge aanpas en later verskeie kere op die plaaslike sê-ding antwoord: “Het dominee se tande stomp geraak van al die Engels praat?” Na die oordenking uit Psalm 29 draai ons in groepies en kyk mekaar vir die eerste keer op hierdie manier vas in die oë. Ons sien talle verskille. Vreemde name en vanne; mans wat met biddende hande hemelwaarts reik; kinders in vurige gebed; ’n vrou wat haar hoof met ’n tulband bedek; ’n appelboer en ’n appelplukker wat saam buig. Met geslote oë voel ons ’n verfrissende en opwindende en verrykende nuwe eenheid. Die Gees van God is self hier teenwoordig. Emmanuel …. God met ons en ons met God. Na “O Heer my God” en die laaste amen word jare lange mede-Twee-Riviere-bewoners plegtig aan mekaar voorgetel. Tussen lewendige geselsies deur word ons langsamerhand bewus van dié waarheid …… dit is hoe Twee Riviere se mense nou lyk. Daar is wins in die verlies. Ons het weer vol geword. Ons is saam onse God se mense wat in diepe afhanklikheid smag na reën. Ons groet met die wete dat dit nie die laaste keer nie. Die dankdiens na reën gaan in hierdie saaltjie gehou word en agterna gaan ons soet en sout geniet met Engelse en heuningbostee …. Twee Riviere
8
Wat Jesus nagelaat het Wat Jesus nagelaat het
Twee Riviere se verhaal vertel van nuwe gemeenskap wat oor grense geskep is. Dit bevestig dadelik die refrein wat ons aanmekaar in Handelinge hoor: mense wat oor allerlei grense, ten spyte van risiko’s, uitreik en nuwe gemeenskap skep. Ons vorming as moderne mense help ons glad nie om die waarde van gemeenskapsvorming hoog genoeg op prys te stel nie: Ons is enersyds sterk ingestel op die logies-korrekte formulering van wat ons as die ononderhandelbare waarheid sien. Solank mense met ons siening van die waarheid saamstem, kan daar samesyn wees. Tweedens is die grense van taal en kultuur vir ons so vanselfsprekend dat ons nooit vermoed die Here roep ons om oor grense gemeenskap te skep met mense vir wie geloof nuut is, wat nog nie hulle vertroue op die Here Jesus geplaas het nie, of met gelowiges wat in ons gemeenskappe leef maar wat buite die warme kring van geloofsgemeenskap leef en dit moet ontbeer. Geloof kom net tot sy reg as mense in ’n geloofsgemeenskap tot hulle reg kom. Jesus het nie ’n boek nagelaat nie, maar ’n geloofsgemeenskap. Hy gee aan ons die opdrag om altyd-uitbreidende geloofsgemeenskap te skep: “Gaan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels, leer hulle…, bind hulle saam....” (Matt 28:20) Die boek Handelinge vestig hierdie patroon oor en oor. Barnabas beliggaam hierdie patroon op ’n besondere wyse in sy bedieningspatroon. Die samebindende krag van geloof in die Here is die wonderlike ontdekking wat die mense van Twee Riviere gemaak het.
9
Wat Paulus en Barnabas as voorbeeld nalaat
Barnabas en Paulus verkondig die evangelie en mense reageer daarop. Oral is daar mense wat tot geloof kom. Vgl. bv. 14:21. Letterlik staan hier dat mense gekies het om dissipels te word (wat die NAV met “gelowig word” vertaal). Duidelik is die lei van mense tot geloof in die Here Jesus nie die einde van die geloofspad nie. Dit is nie die finale doel van evangelieverkondiging nie. Dit is noodsaaklik dat mense, wat kies vir geloof en dissipelskap, saamgebind moet word in nuwe geloofsgemeenskap, d.w.s. in die gemeentelike lewe. Barnabas en Paulus doen daarom drie dinge: Een: Hulle spel die eise van dissipelskap uit Derbe is die omdraaiplek vir die eerste reis. Barnabas en Paulus gaan nou as’t ware op hulle spore terug en besoek die nuwe gelowiges. Volgens vers 22 het hulle hul versterk en hulle aangespoor om getrou te bly in die geloof. “Ons sal eers deur baie verdrukking moet gaan voordat ons in die koninkryk van God kom,” was die boodskap (23). Twee: Hulle versterk die onderlinge gemeenskap Ons is vandag gewoond aan sosiale media, soos Facebook, waarmee mense saamgebind kan word. Paulus en Barnabas se besoeke het so ʼn sosiale saambindende en versterkende funksie gehad. Dit was soos Facebook op steroïde. Hierdie patroon sou telkens in die toekoms herhaal word (Hand 15:36, 41; 16:1). Drie: Hulle kies leiers om verantwoordelikheid vir die Woordverkondiging en die leiding van die gemeente te neem Spesifieke leiers word verkies om verantwoordelikheid vir die gemeente te neem. In elke gemeente is ouderlinge aangewys (23). Daar word dus ’n struktuur geskep wat die dien van die Here (dissipelskap) en die geestelike gemeenskap in stand kon hou deur ’n doelgerigte gemeentelike struktuur.
10
Beskerm die Evangelie Beskerm die evangelie
’n Bedieningspraktyk wat fokus op dissipelskap, gemeenskap en evangeliese leiding beskerm die prosesse wat aan die gang gekom het in antwoord op die evangelie. Dit is vandag nog waar. Ons kan nie as gemeente optimaal funksioneer sonder ’n fokus op dissipelskap, gemeenskap en evangelie-gerigte strukture nie. Op elkeen van hierdie drie terreine kan dinge in ’n gemeente ontspoor: Dissipelskap kan vervlak tot blote betrokkenheid by gemeentelike aksies – ons kan ’n kultuur van lidmaatskap vestig eerder as ’n kultuur van lewenswye gehoorsaamheid aan die Here; Gemeenskap kan vervlak tot die nakoming van die organisatoriese vereistes om die gemeente te laat oorleef. Gemeentes het finansies en organisatoriese betrokkenheid nodig om te bly voortbestaan. Indien deelname aan die basaar, die gee van dankoffers, en funksionele medeverantwoordelikheid die enigste vorms van geestelike gemeenskap word, het dit vervlak. Leierskap kan vervlak tot bestuursbesluite. Geestelike leierskap is die modellering van die navolging van die Here, die uitlewing en beliggaming van die geestelike roeping van die gemeente.
11
Groei oor grense, gedeelde taal en saamwees
Israel Galindo help ons in sy boek, Hidden Lives of Congregations, om hierdie grondplan van Handelinge konkreet te maak. Hoe vorm ’n gemeente geloofsgemeenskap: waar die geloof van sy lede tot ’n lewenstyl gevorm word én waar die geloofsgemeenskap uitreik na ander mense om deur getuienisse en diens ook ander se geloof te vorm? Die wyses waarop dit die beste gebeur, sê3 Galindo, is nie deur goeie administrasie en kursusse en aanbiedinge nie, maar deur die beoefening van gemeenskap, deur geloofsgemeenskap met mekaar te hê. Dit is hierdie beoefening van geloofsgemeenskap wat ’n mens ’n “behoort” ervaring gee! Dit is wanneer jy deelneem aan die gemeenskap wat jy ervaar dat jy daar hoort! Galindo maak die stelling dat daar eintlik net twee goed is wat in só ’n gemeenskap belangrik is: ʼn Gedeelde taal en om Saam te wees. Waar ’n gemeenskap geleer word om dieselfde geloofstaal te leer praat, dieselfde gebruike as geloofsgemeenskap aan te leer, en dit goed genoeg bemeester om dit ook te deel met mense buitekant die gemeente – dán funksioneer hulle as ’n gesonde geloofsgemeenskap. En daarvoor is saamwees nodig – gereeld, voortdurend, onophoudelik. Voorbeelde Die saambid en die ontdekking van mekaar voor die aangesig van die Here wat sedert 2009 in Twee Riviere gebeur, is ’n goeie voorbeeld hiervan. Wat sal gebeur indien ons gemeente: Doelbewus kontak maak met ander gelowiges in die gemeenskap en saam met ander denominasies en gelowiges eredienste hou, hulle nooi om te kom “kuier”, en na hulle uitreik? Saam met ander gelowiges fokus op gemeenskapsprojekte. Hoe sal dit ons bewussyn van mekaar en ons gedeelde lewe in die wêreld as dissipels van die Here bevorder? Doelbewus – met ander woorde – op ’n robuuste manier Facebook met ander gelowiges? Uitreik na mense in ons omgewing, hulle help om tot geloof te kom, en hulle inbind in ons geloofsgemeenskap? Daarna soek om ons strukture en organisasie te rig op die bevordering van die evangelie (dissipelskap, gemeenskap en struktuur), en alleen daarop? Leer om eerlik en opreg oop te maak teenoor mekaar oor ons lewens en ons worsteling om die Here te gehoorsaam? Indien ons die maskers laat sak, en ons eie mislukkings erken, in ’n veilige ruimte waar ons mekaar kan help om sonde te oorwin en die Here na te volg? Minder vasskop om ons eie sin te kry, en ’n gemeente na ons eie beeld en gelykenis te skep, en meer intensioneel daarop fokus om randfigure in ons gemeente en gemeenskap in te sluit, en ’n gedeelde taal met hulle aan te leer? Saam bid en saam soek, en saam praat, oor nuwe bedieningspraktyke wat ons help om die grondpatrone in Handelinge te implementeer? Hier sal dit belangrik wees dat die gesprek wyd en oop geskied, aanvanklik sonder te veel konklusies, sodat almal eers geleentheid kan kry om ’n inset te maak. Werklike bekering, wég van ons organisatoriese ingesteldheid, gefokus op die skep van nuwe gemeenskap, sal nodig wees. Se leiers meer bid voordat besluite geneem word, en die gemeente nooi om saam te bid? Deur doelgerig die geestelike dissipline van gemeenskap te beoefen, kan dinamiese nuwe Geesteskrag in ons gemeente ontsluit word!
12
God stuur ons om te leef “gemeenskap” God stuur ons om te leef
’n Mens kan verskillende fasette van Barnabas en Paulus se lewenstyl en bediening hier identifiseer. Die een waarop ons wil fokus, is gemeenskap. Lees die onderstaande beskrywing van gemeenskap as geestelike gewoonte. Ons ken waarskynlik Brother Lawrence se Practicing the Presence lewenstyl. Dit is egter net so noodsaaklik om die gemeenskap van die gelowiges te beoefen. Dit doen ons deur gasvry ruimtes te skep waarin elke gelowige welkom is net soos sy of hy is. Dit sluit veral die persoonlike (vriendskap) ruimtes in, sowel as die wyer sosiale en publieke ruimtes (Joseph Myers). Daarvoor moet ons bereid wees om uit te reik oor grense heen. Die grootste motivering hiervoor lê in die gemeenskap wat daar in die Drie-eenheid is. God is met Godself in verhouding. Dit gee ons ’n voorbeeld wat ons in ons verhoudinge met mekaar moet najaag. Dit gebeur in die praktyk waar egte verhoudinge in liefde met en vir mekaar gevestig en gebou word. Ons moet saamwees! Die inhoud lê in die “mekaar”-tekste wat regdeur die NT voorkom: byvoorbeeld “aanvaar mekaar” (Rom 15:7), “vergewe mekaar” (Ef 4:23), “praat mekaar moed in” (1 Tes 5:11). “bid vir mekaar (Jak 5:16). Dit is ons gedeelte taal! Dit sluit ’n verbintenis aan die roeping van ’n spesifieke gemeenskap in, wat sommige ’n covenant community noem, soos ons onder andere in die gemeente van Antiogië in Sirië leer. Beplan hoe jy voor ons volgende byeenkoms die geestelike gewoonte van gemeenskap gaan beoefen. Hier is ’n paar opsies om jou gedagtes te stimuleer – ons fokus op die “mekaar”-tekste in die NT: Aanvaar mekaar: Gaan praat met iemand om aanvaarding te kommunikeer. Aanvaarding beteken onder andere dat jy die persoon die reg gun om sy eie standpunte oor sake te hê. Dit is egter maklik om selfs in jou aanvaarding steeds krities oor te kom. Een manier om te voorkom dat jy krities oorkom, is om ’n lys van die positiewe eienskappe van die persoon te maak en dit te kommunikeer. Wees eerlik en opreg. Vergewe mekaar: Vra die Here om jou te help om iemand wat jou iets aangedoen het, te vergewe. Dit help om te onthou dat God jou vergewe het, sonder dat jy daarvoor iets gedoen het, of dit verdien het. Jy sal ervaar dat vergifnis jou vrymaak van die verkeerde ding wat jou aangedoen is. Praat mekaar moed in: Dink aan iemand wat swaarkry, moedeloos geraak het, of onder baie druk verkeer. Bid vir die regte woorde en gaan praat so iemand moed in. Wees bevestigend en vermy dit om raad te gee. Bid vir mekaar: Dit bly een van die belangrikste maniere waarop ons aan mekaar gebind bly, deur vir mekaar te bid. Kies een persoon, vra waarvoor jy kan bid, en doen dit dan. Dit sal die beste werk as julle dit wedersyds vir mekaar doen. Stories Dit is hoe Twee Riviere se mense nou lyk
13
Joernaal Joernaal Onthou jou notaboek. Skryf elke dag neer wat met jou gebeur in die bemeestering van die geestelike gewoonte. Beskou dit as ’n “leefbladsy”. Wees eerlik oor jou ervarings. (Gee geleentheid dat mense in stilte in hul joernaal skryf.) Gesprek: Gesels oor hoe julle mekaar hierin kan ondersteun. Gebed: Laat mense klein groepies vorm – dalk selfs saam met mense wat hulle nie goed ken nie – en saam bid. Slotsang: Lied 436 [hierdie is ons “temalied” – ons sluit elke erediens daarmee af.] Afsluitingsgebed En mag God, die bron van alle standvastigheid en bemoediging, gee dat julle eensgesind onder mekaar sal wees soos Christus Jesus dit wil hê. Dan kan julle almal eensgesind uit een mond lof toebring aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus. (Romeine 15:5-6)
14
Volgende erediens: Handelinge 15:1-35
15
Barnabas illustreer vir ons hoe ’n Christelike lewenstyl werk
Barnabas illustreer vir ons hoe ’n Christelike lewenstyl werk. Sluit aan by die Seisoen van Luister se pinksterreeks ; Help gelowiges om geloofsgewoontes in te oefen. Prys: R Teikenmark: Bybelstudiegroepe en Kleingroepe.
Similar presentations
© 2025 SlidePlayer.com. Inc.
All rights reserved.