Presentation is loading. Please wait.

Presentation is loading. Please wait.

Jesus steek grense in sy bediening oor

Similar presentations


Presentation on theme: "Jesus steek grense in sy bediening oor"— Presentation transcript:

1 Jesus steek grense in sy bediening oor
Kapernaum – Jesus steek grense in sy bediening oor EKSEGETIESE RIGLYN Markus 1:21-28; 40-45; 2:1-12; 23-27; 3:1-6; 31-35; 7:1-13; 14-23 Markus begin sy evangelie op dramatiese manier. Jesus word gedoop, versoek en begin preek: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.” (1:15). Die basis vir sy bediening in die eerste deel van die evangelie is Kapernaum. Dit is Jesus se tuisdorp, na Hy vroeër van Nasaret hierheen verhuis het. Kapernaum, 'n groot en besige stad aan die See van Galilea, word nou die sentrum vanwaar Jesus opereer (2:1; 3:20; Matt 4:13). Matteus (4:12) wyt dit aan Herodes se opsluiting van Johannes, sowel as aan die vervulling van Jesaja se profesie oor die gebied van Sebulon en Naftali (Jes. 8:23–9) Van die begin af is daar drie groepe mense rondom Jesus: DRIE GROEPE MENSE 1. die skare, 3. die skrifgeleerdes en Fariseërs. 2. die dissipels en En soos daar ‘n stygende lyn van aanvaarding en bewondering onder die skare is, só is daar van die begin af ‘n stygende lyn van ontsteltenis en verwerping onder die skrifgeleerdes. Die skeidslyne word skerp getrek tussen dié wat binne is en dié wat buite is, soveel só dat ‘n mens soms wonder of die dissipels regtig in die binnekring is, weens hulle onbegrip. Jesus moet telkens vir hulle alleen eenkant toe neem om te verduidelik wat Hy doen en wat dit beteken. AANVAARDING EN VERWERPING En die spilpunt waarom die reaksies draai, is die impak wat die bediening van Jesus op hulle het. Vir die dissipels is Hy ‘n enigma, Een wat wel vir hulle uitgekies het, wat sy lewe met hulle op ‘n manier deel wat nie vir die ander beskore is nie, maar wat met sy manier van doen hulle begrip só uitdaag, dat hulle worstel om by te kom. Vir die Fariseërs is Hy ‘n steen des aanstoots, wat nie net hulle wette en manier van doen omvêrwerp nie maar veral hulle beheer oor die godsdienstige lewe van die mense in gevaar stel. Vir die skare is Hy die Wonderwerker, die een wat nuwe lewensmoontlikhede oopmaak. STAP SAAM MET JESUS DEUR DIE UITDAGINGS VAN KAPERNAUM In agt tonele vertel Markus ons hoe Jesus in Kapernaum bevryding en genesing vir besetenes en siekes bring, terwyl tegelykertyd die teenstand toeneem teen Hom. Deurgaans word sy boodskap in 1:15 duidelik: ons sien hoe dit lyk wanneer die koninkryk in die persoon en bediening van Jesus naby kom, en hoe mense uitgedaag word om hulle daaraan te oriënteer (“bekeer julle”). Ons gaan oorsigtelik kyk na die wyse waarop Jesus die uitdaging van die teenstand hanteer het, terwyl Hy steeds voortgegaan het om sy bediening uit te voer. 1. In die eerste toneel bevry Jesus ‘n besetene in die sinagoge (1:21-28), maak Petrus se skoonma gesond (1:29-31) en maak die aand baie siekes met allerhande kwale gesond (1:32-34). Omdat dit ‘n sabbatdag was, wag die mense tot die aand voor hulle die siekes na Jesus bring, waarskynlik uit vrees vir die oordeel van die Fariseërs. Die uitdaging was nog geleë in die mense se vrese eerder as in direkte teenstand. Let op die interessante beweging wat 'n mens kan raaksien in Jesus se bediening hier. Hy beweeg van die sinagoge af na 'n huis en daarvandaan na 'n hele gemeenskap. Die evangelie sluit dus mense in binne al die verbande waarbinne hulle lewe. 2. In ‘n tweede toneel genees Jesus ‘n verlamde man wat egter onmiddellik tot weerstand van die skrifgeleerdes lei (2:1-12). Dit is hartseer dat hierdie Godsbewys – dit is net God wat sonde kan vergewe, en Jesus bewys dat Hy dit inderdaad kan doen deur die man te genees – die skrifgeleerdes nie tot geloof beweeg nie, soos ook die geval was met die vooraf genesing van die melaatse – net twee mense is in die OT van melaatsheid genees, Miriam en Naäman, 'n duidelike bewys van God se teenwoordigheid. Tog praat Jesus steeds in taal wat hulle sou kon verstaan - as hulle die moeite wou doen - deur na Homself te verwys as die "Seun van die mens" (vgl Dan 7:13 waar Hy wat ewig lewe die koninkryk aan die seun van die mens oorhandig om oor alles te regeer - Jesus doen dit 14 keer in Markus, bv. Mark 2:10,28; 14:41,62). 3. In ‘n derde toneel eet Jesus saam met sy pasverkose dissipel Levi en word Hy uitgekryt dat Hy met sondaars en tollenaars eet (2:13-17). Jesus reageer daarop deur die hart van sy bediening uit te spel: “Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.” Daarmee ontbloot Hy die onbarmhartige gesindheid van die Fariseërs en stel 'n beginsel vas vir sy navolgers, dat om die evangelie te bring, beteken primêr om dit te bring aan sondaars. Die grens na hulle moet telkens van God se kant en van die goeie nuus van die evangelie se kant af oorgesteek word. 4. In ‘n vierde toneel konfronteer die mense Jesus met die feit dat Hy en sy dissipels nie vas soos Johannes die Doper en die Fariseërs se volgelinge nie (2:18-22). In die OT was daar aanvanklik net met die Groot Versoendag gevas (Lev 16:29) en met siekte en dood (1 Sam 31:13; 2 Sam 1:12). Na die ballingskap het die vastye begin toeneem (Sag 7:5; 8:19). Die Fariseërs het dit egter verder aangevul met 'n vasdag twee keer 'n week. Dat Jesus die dissipels bevry van hierdie benouende voorskrif wek egter weerstand by die Fariseërs. Jesus se verduideliking dat daar nie in sy teenwoordigheid - die beeld van Jesus as Bruidegom moes die Fariseërs aan die voorspelling van Hos 2:14-23 laat dink het, maar hulle mis dit! - gevas kan word nie, word aangevul met 'n eerste verskuilde aankondiging van sy dood, waar 'n vastyd weer sinvol sou wees (soos Johannes die Doper se vastyd ook sinvol was as voorbereiding vir die Bruidegom). Jesus steek dus hier die benoude grens van menslike godsdienstige voorskriftelikheid oor, en leer dat daar vryheid in sy teenwoordigheid is. 5. In ‘n vyfde toneel demonstreer Jesus sy heerskappy oor die sabbatdag deurdat die dissipels eet van die gesaaides tot die ontsteltenis van die Fariseërs (2:23-27). Die Fariseërs se interpretasie dat are afpluk as oes vertolk kan word (Eks 34:21), was alreeds verkeerd. Jesus probeer egter met die voorbeeld van Dawid (1 Samuel 21), wat in sy vlug van Saul van die offerbrood by die priesters in Nob geeët het, die Fariseërs leer dat die funksie van die wet in ag geneem moet word in die uitvoering en interpretasie daarvan. Die wet is ter wille van die mens geskep en nie andersom nie. En die Here van die sabbat het die reg om te voorsien vir dié wat alles gelos het om Hom te volg. Daarmee bevestig Hy die vryheid wat ook ten opsigte van die sabbatswet in sy teenwoordigheid bestaan. 6. In ‘n sesde toneel hou die Fariseërs Jesus dop op ‘n volgende sabbatdag oor wat Hy sal doen met ‘n man met ‘n gebreklike hand (3:1-6). Toe Jesus die man teen hulle sin in genees, loop dit uit op die ontstellende bondgenootskap tussen die Fariseërs en Herodiane wat ‘n komplot teen Jesus smee om Hom om die lewe te bring. Hoe ironies dat Jesus voor die genesing van die man met die gebreklike hand op 'n sabbat die vraag vra, mag 'n mens goed doen of kwaad doen, of red of doodmaak op die sabbat ... en die Fariseërs direk na die genesing uitloop om Jesus kwaad aan te doen, en te beplan om Hom dood te maak, saam met die Herodiane ... op 'n sabbatdag! Doodmaak was immers verkeerd volgens die wet ... sewe dae 'n week. Geen wonder dat Jesus se emosies hoog geloop het, dat Hy kwaad en bedroef tegelykertyd was! Die Herodiane was politieke aanhangers van Herodes Antipas, viervors van Galilea, seun van die Herodes waarvan ons lees by Jesus se geboorte. Gewoonlik was die twee groepe vyande, tot op hierdie dag ... 7. In ‘n sewende toneel misbruik die Fariseërs Jesus se familie se bekommernis dat Hy nie eet nie, en beskuldig Hom van duiwelbesetenheid (3:20-30) om getuienis teen Hom te begin versamel vir sy uiteindelike verhoor en teregstelling. Daar is 'n duidelike kontras tussen hulle wat buite staan, sy familie, en dié wat binne rondom Jesus sit, sy navolgers. Markus is duidelik daaroor dat sy familie op hierdie punt gedink het Hy is van sy kop af (3:21). Dit is eers later dat van sy broers, spesifiek sy broer Jakobus, deel van die binnekring geraak het en selfs ‘n leier in die kerk van Jerusalem geword het. “Jesus identifies his family on the basis of the response to him rather than on natural kinship. The response of his natural family who sought to take him into their custody reflected their rejection of his ministry regardless of their motivation, which in Mark is given as concern for his mental stability. The response of the crowd who sought his presence and gathered around him, doubtless to hear his teaching, reflected their acceptance of him.” (Guelich). Dit is verder ook interessant om te let daarop dat Jesus nie noodwendig sê dat dié wat rondom Hom sit sy familie is nie, maar dié wat die wil van sy Vader doen. Die band wat die nuwe familiekring saamvoeg, is die doen van die wil van God. Dit gaan dus nie om die aanhang van Jesus se persoon nie, maar om die oorgawe aan God om Hom alleen te gehoorsaam. Diegene wat dit van harte doen, is voortaan kinders van God en broers en susters van mekaar. 8. In die agste en laaste toneel in Markus (7:1-23) steek Jesus ‘n belangrike grens oor, die grens van onreinheid. En Hy leer die Fariseërs en skrifgeleerdes dat onreinheid met die hart te make het. Die Fariseërs en skrifgeleerdes van Jerusalem, heel moontlik gestuur om getuienis teen Jesus in te win, maak beswaar teen party van die dissipels wat hulle kos met ongewaste hande eet, wat in hulle oë onrein is. Die probleem met dié optrede is nie dat die was van hande ‘n goeie (of slegte) gebruik is nie, maar dat hulle dit as ‘n gebod van God voorgehou het. Jesus wys dit egter af as skynheiligheid, met ‘n aanhaling uit Jesaja 29:13, omdat die geestelike leiers in die praktyk eerder vashou aan sulke oorgelewerde gebruike, en mense so leer en daarvolgens beoordeel, maar uiteindelik glad nie die Here dien nie. Hy illustreer dit met die gebruik van korban (dit beteken offergawe), waar jy goed waarmee jy vir jou ouers kon gesorg het, vir die Here offer, en só jou verantwoordelikheid, soos die wet van God dit spesifiek uitspel, teenoor hulle kan vermy (vgl 1 Tim 5:4 waar Paulus die riglyn handhaaf om vir jou ouers te sorg). Gebruike is dus belangriker as God en sy wet. Jesus praat weer met die menigte, hak aan by die idee dat ongewaste hande jou kan onrein maak en verduidelik met beeldspraak hoe onhoudbaar dié gedagte is. Markus vertel nie vir ons wat die skare daarvan gedink het nie, maar die dissipels het weereens verdere onderrig nodig om dié beeldspraak te verstaan. Markus maak egter die gevolgtrekking, wat in ander NT geskrifte nagevolg sou word, dat Jesus met dié beeldspraak en onderrig alle kos rein verklaar het. Die wetsriglyn word dus van ‘n blote uiterlike reëling verdiep na ‘n innerlike riglyn: dit is nie kos wat jou onrein maak nie, maar die gedagtes van jou hart. Vergelyk die soortgelyke lering wat God vir Petrus gee met die oog op sy getuienis aan Kornelius in Handelinge 10:15. Jesus is besig om hier sekere beginsels vir die koninkryk neer te lê wat ‘n groot impak sou hê op sy eie bediening (vergelyk die gesprek met die Griekse vrou van Siro-Fenisië net hierna) en die bediening van die kerk aan heidene. Die evangelie is bedoel vir almal, en die hou van oorgelewerde Joodse gebruike sou die ontvangs van die evangelie belemmer het. Interessant genoeg is die 1ste 6 van die lys van 12 slegte gedagtes in die meervoud en die laaste 6 in die enkelvoud wat ‘n mens nie in die vertaling kan optel nie (onkuishede, diefstalle, moorde, owerspelle, hebsugte, kwaadwillighede). Let op dat die lysie amper volledig met die tweede tafel van die wet verbind kan word: diefstal – Jy mag nie steel nie (8ste gebod); bedrog, kwaadpratery – Jy mag nie vals getuienis teen ‘n ander gee nie (9de gebod); onkuisheid, owerspel, losbandigheid – Jy mag nie egbreuk pleeg nie (7de gebod); moord en kwaadwilligheid – Jy mag nie moord pleeg nie (6de gebod); Hoogmoed, wat volgens sommige die ergste sonde is, en ligsinnigheid (“lack of moral sense”, dws morele dwaasheid) oortree eintlik alles in die wet, dit is om jouself en jou gebruike en gedagtes hoër te ag as God se geopenbaarde wil. Die 5de gebod – eer jou vader en jou moeder – is reeds met die korban-afwysing op die tafel gesit. hebsug, afguns (“evil eye” – Jode het die gesegde nie met ‘n vloek geïdentifiseer nie, maar met afguns) – Jy mag nie begeer nie (10de gebod); Die NT het verskeie sulke lysies: Rom 1:29–31; 1 Kor 5:10–11; 2 Kor 2:20–21; Gal 5:19–21; Kol 3:5–8; 1 Tim 1:9–12; 2 Tim 3:2–5.

2 Gesprek: Waar kon jy vandag ‘n grens oorsteek?
GESPREKSRAAMWERK Ons stel voor dat jy elke erediens geleentheid gee dat mense gesels oor die grense waaroor hulle in daardie dag kon beweeg. Dit help met die inoefening van die gewoonte om oor grense te gaan. Daarom gee ons ‘n eerste gespreksraamwerk wat bedoel is om aan die begin van die erediens te gebruik. Ons gee ook telkens ‘n tweede gespreksraamwerk om ná die Woordverkondiging te gebruik. Daarmee skep ons die bewussyn dat die erediens ‘n ontmoeting met God is wat werk deur sowel ons daaglikse ervarings as in die prediking van die Woord. Dit berei die gemeente ook voor om dieselfde proses môre te volg. INLEIDING Ons leer deur ons eie stories te vertel. Blote kennis help nie regtig baie ver nie. 'n Mens moet saam met die kennis en in afhanklikheid (houding) van die Gees vaardighede aanleer, soos om te let op die mense wat oor jou pad kom. Soos jy dit inoefen en dit 'n gewoonte raak, so begin jy leer hoe dit werk om oor grense te gaan. En die wonder is dat só 'n gewoonte vir ander ook geleer kan word (oordraagbaar). VÓÓR DIE WOORDVERKONDIGING Dink eers alleen na oor jou kontak met mense vandag. Lys almal wat jy kon groet, waar jy oor ‘n grens kon gaan, waar jy ingenooi is in hulle lewe of huise of kantore, en jy die geleentheid gehad het om aan ‘n dieper verhouding te bou. Vanoggend Vanmiddag Sommige sal baie kontakte gehad het en ander minder. En dit is heeltemal OK. As jy niemand regtig kon groet nie, of daar nie grense oorgesteek is nie, dink dan oor mense wat jy graag môre sou wou groet. Dit kan iemand wees wat vreemd was of jou uit jou gemaksone uitgeneem het. Vertel vir mekaar die storie van jou ontmoeting met die persoon(e). Konsentreer veral op hoe dié ontmoeting JOU geruk of getroos of geseën het. Vertel dit asof hy/sy nou by julle is. Onthou die Seisoen van Luister se waardes van leerbaarheid, vertroue, deernis en openheid. Dink na hoe God jou voorberei het vir die ontmoeting met die persoon (oop/kwesbaar). Gee tyd vir 3 persone om met ons te deel wat gebeur het – en wat julle geleer het om saam met Jesus te stap oor grense.

3 Markus 1:21-28; 40-45; 2:1-12; 23-27; 3:1-6; 31-35; 7:1-13; 14-23
PREEKRIGLYN Nota aan die prediker: Die prediker kan oorsigtelik al agt bogenoemde tonele skets, en moontlik dieper by een stilstaan. In die prediking is dit belangrik om klem te lê op Jesus se oproep dat ook ons onsself moet oriënteer aan God se koninkryk (dws God se regering en werke) wat in die persoon van Jesus naby kom (1:15). Die gemeente kry op hierdie wyse insig in die tendens, die breë patroon van Jesus se bediening in Kapernaum en omstreke. Daarmee word die disoriënterende effekte van sy oorsteek van grense duidelik. Dan kan die predikeer meer klem plaas op een van die tonele, bv 7 (hoe Jesus familie definieer) of 8 (oor rein en onrein). Daarna kom die volgende twee konklusies as toepassing aan die orde. Maak self ‘n skyfie vir die toneel of tonele wat jy kies. Onthou, die PowerPoint is ‘n beeld-media, nié ‘n woord-media nie. Moet dus nie lang sinne of jou volledige gedagte op die skyfie sit nie. Een of twee woorde is voldoende, bv: (Toneel 1) Jesus beweeg van Sinagoge  Huis  Gemeenskap (Toneel 2) Genesing bring teenstand (Toneel 3) “Verkeerde” vriende (Toneel 4-6) Wat van die reëls?! (Toneel 7) Familiegrense (Toneel 8) Onrein?

4 Weerstand HOE HANTEER JESUS DIE UITDAGINGS WAT GRENSE OORSTEEK MEEBRING IN SY BEDIENING ? WAT LEER ONS BY HOM? 1. 'n Mens moet voorbereid daarop wees dat die evangelie altyd weerstand sowel as verwondering sal uitlok. Daar is van die begin af hierdie ongemaklike waarheid van die evangelie van Jesus – dit lok beide reaksies by mense uit. Daar is mense wat dit omhels. Daar is ander mense wat dit verpes. Maar wat ons leer by Jesus, is dat dit Hom nie afsit nie. Hy kies om hiermee te engage. Hy daag die konvensies uit, Hy gee redes vir wat Hy doen, Hy probeer aansluit by die begripswêreld van die Fariseërs en skrifgeleerdes om uit hulle eie bronne vir hulle tot insig te probeer lei. Dat dit uiteindelik in hulle geval tevergeefs was, en Hy hulle sterker begin aanvat, dwarsboom nie sy aanvanklike ernstige poging nie. Uiteindelik los Hy hulle natuurlik in hulle teenkanting. In 8:13, as hulle 'n teken vra, sê Markus, het Hy hulle net daar laat staan sonder 'n teken. En in die laaste week in Jerusalem maak Hy nie net die tempel skoon van hulle wanpraktyke nie (11:15) maar oorrompel hulle met sy intellek in drie strydgesprekke (oor gesag met die priesterhoofde, skrifgeleerdes en familiehoofde [11:27-33], oor belasting met die Fariseërs en Herodiane [12:13-17] en uiteraard oor die opstanding met die grootste groep van hulle almal, die Sadduseërs, wat juis dít ontken het [12:18-27]).

5 Jou eie weerstand Hierdie weerstand teen die evangelie lê ook binne-in ons. Wanneer die werke van die Here (die koninkryk) naby ons kom, wanneer ons sien hoe Jesus grense oorsteek na mense wat in ons eie oë dit dalk nie werd is nie, groei die weerstand ook in ons. Ook ons eie gebruike en taboes word uitgedaag. Dit is opvallend dat die kerkmense van Jesus se tyd teen Hom in opstand kom. Om saam met Jesus grense oor te steek, beteken dat mens bereid moet wees om verras te word met hoe Hy grense oorsteek, en wie Hy insluit by sy familie. Jesus daag ons opvattings oor wie behoort, oor wie rein is, oor hoe genesing werk, oor watter gebruik werklik heilig is, en watter nie, voortdurend uit. Dit bring ons by die volgende punt:

6 Deurbreek godsdienstige en sosiale grense
2. Die evangelie deurbreek en relativeer natuurlike verbande en instellings. Jesus leer sy navolgers om godsdienstige en sosiale grense te deurbreek, om nie vasgevang te word deur godsdienstige gebruike, soos vas, sabbatdag, en onreinheid nie. Ook nie deur sosiale groeperinge nie. Jesus kies navolgers as familie, sondaars en tollenaars as tafelgenote. Daarmee leer Hy hulle dat niks hulle vryheid om die evangelie te bring en te wees vir sondaars aan bande mag lê nie.

7 Fokus op Jesus Dit leer ons om in ons eie lewens as dissipels minder te fokus op ons natuurlike verbande en instellings en meer op Jesus. Dissipelskap beteken nie in die eerste plek om verband en instellings in stand te hou nie. Dissipelskap is om die hartklop van Jesus te leer hoor en daarvolgens te lewe. Daarom is dit so belangrik om mekaar voortdurend aan Jesus se wyse van bediening te herinner. Wanneer ons uitgedaag word om te reageer op moeilike situasies, help dit om insidente uit Jesus se lewe in herinnering te roep. Hoe het Hy opgetree? Wat is vir Hom belangrik? Wanneer ons téén mense en vir gebruike wil kies, help dit om jouself te vra: Kan jy ‘n insident uit die lewe van Jesus oorvertel wat jou oordele en beoogde optrede onderstreep? Waar nodig, word ons ook uitgedaag om onsself te bekeer want die koninkryk van God het naby gekom (1:15).

8 Niks mag ons keer nie Jesus leer ons dat niks ons vryheid om die evangelie te deel en dáár te wees vir sondaars mag keer nie. Dit vorm later heel moontlik een van die grondliggende argumente wat gebruik is in die vergadering in Jerusalem (Hand 15) toe besluit moes word watter riglyne daar vir Christene uit heidennasies sal geld. En die kerk lê dan die minimum van riglyne voor omdat Joodse gebruike – of enige ander kulturele gebruike – nie die vryheid van die Christelike kerk in sy diverse uitdrukkings aan bande mag lê nie.

9 ANDER INTERESSANTE GEGEWENS
SINAGOGES Byna alle dorpies in Israel het sinagoges gehad wat nie net gedien het as plekke van aanbidding nie, maar ook as skole. Die gebruik dateer uit die tyd van Esra (ongeveer 450 v.C.). In die week is seuns in die wet en die Joodse godsdiens onderrig (dogters kon dit nie bywoon nie) en op die sabbat is die Woord aan die gemeenskap verkondig. Omdat elke sinagoge nie hulle eie rabbi gehad het nie, is besoekende rabbis gevra om te preek. Dit is waarom Jesus en later ook Paulus so geredelik toegang tot die Joodse gemeenskappe gehad het (vgl Hand 13:35).

10 Refleksie REFLEKSIE Dink nou weer na oor die persoon(e) wat jy vandag kon groet. Wat dink jy is God besig om deur die persoon(e) met jou te laat gebeur? Wat wil jy bevestig by dié mense? Wat moet in jou verander? Wat is jy besig om te leer wat jy beter sou wou doen? Na wie toe stuur die Here jou weer terug? Deel kortliks met mekaar.

11 Die vrou by die put (deelnemersgids) - Chris van Wyk e.a
( Bybel-Media ) Prys: R25.00 (14 % BTW ingesluit) - koop aanlyn Subtitel: Stap saam met Jesus oor grense – ’n Studie oor die Samaritaanse vrou Opsomming van inhoud: Die skrywers van Die vrou by die put gebruik die verhaal wat in Johannes 4 opgeteken is – Jesus en die Samaritaanse vrou – as vertrekpunt om te sê: God het ons gemaak met die behoefte om in gemeenskap met mekaar te wees. God het ons geroep om vir ander te leef, maar dit beteken om waarlik by hulle teenwoordig te wees. En om waarlik by hulle teenwoordig te wees moet ons grense na hulle toe oorsteek. En dit is presies waarmee hierdie boek gelowiges help. Die vrou by die put is deel van die Groei oor grense-program, wat deel vorm van die Seisoen van Luister, en is spesiaal ontwerp vir groepe. Dit bestaan uit ’n leiersgids en ’n deelnemersgids. Die drie hoofstukke van die deelnemersgids bied aan die groepe: Hoofstuk 1 Agtergrondinligting oor die Luistersiklus en die Groei oor grense-program Waardes wat deur hierdie studie gevestig wil word Die metodiek van die ses studies Hoofstuk 2 Ses studies oor die ontmoeting tussen Jesus en die Samaritaanse vrou by die put, wat gelowiges uitdaag om grense na ander oor te steek, nuwe verhoudings te bou en só ware omgee en gemeenskap te beleef Hoofstuk 3 Agtergrondinligting oor die Seisoen van Luister Praktiese hulpmiddels, soos ander boeke, CD’s en DVD’s, wat saam met hierdie studie gebruik kan word Die bibliografie is redelik omvattend ter wille van dié wat dieper wil delf in al die onderwerpe en insigte wat in die boek aangeraak word. Die vrou by die put is ’n uitdagende boek wat gelowiges in beweging sal bring om dit te waag om te groei oor alle grense heen wat ons inperk om God se stem te hoor. Skrywers: Chris van Wyk, Frederick Marais, Nico Simpson Die vrou by die put (leiersgids) - Chris van Wyk e.a Prys: R (14 % BTW ingesluit) - koop aanlyn Opsomming van inhoud: Die skrywers van Die vrou by die put gebruik die verhaal wat in Johannes 4 opgeteken is – Jesus en die Samaritaanse vrou – as vertrekpunt om te sê: God het ons gemaak met die behoefte om in gemeenskap met mekaar te wees. God het ons geroep om vir ander te leef, maar dit beteken om waarlik by hulle teenwoordig te wees. En om waarlik by hulle teenwoordig te wees moet ons grense na hulle toe oorsteek. En dit is presies waarmee hierdie boek gelowiges help. Die vrou by die put is deel van die Groei oor grense-program, wat deel vorm van die Seisoen van Luister, en is spesiaal ontwerp vir groepe. Dit bestaan uit ’n leiersgids en ’n deelnemersgids. Die vyf hoofstukke van die leiersgids bied aan die leiers van groepe die volgende: Hoofstuk 1 Agtergrondinligting oor die Luistersiklus en die Groei oor grense-program Riglyne vir die groepleier Hoofstuk 2 Ses studies oor die ontmoeting tussen Jesus en die Samaritaanse vrou by die put, wat gelowiges uitdaag om grense na ander oor te steek, nuwe verhoudings te bou en só ware omgee en gemeenskap te beleef Hoofstuk 3 Agtergrondinligting oor die Seisoen van Luister Hoofstuk 4 Praktiese riglyne wat spesifiek vir hierdie Groei oor grense-reis ontwikkel is en veral op luistervaardighede fokus Hoofstuk 5 Teologiese nadenke oor ’n paar aspekte van die Seisoen van Luister en die teologiese raamwerk wat daaruit ontwikkel Bykomende hulpmiddels vir die groepleier Die bibliografie is redelik omvattend ter wille van dié wat dieper wil delf in al die onderwerpe en insigte wat in dié boek aangeraak word. Die vrou by die put is ’n uitdagende boek wat gelowiges in beweging sal bring om dit te waag om te groei oor alle grense heen wat ons inperk om God se stem te hoor. Skrywers: Chris van Wyk, Frederick Marais, Nico Simpson


Download ppt "Jesus steek grense in sy bediening oor"

Similar presentations


Ads by Google