Download presentation
Presentation is loading. Please wait.
1
Johannes 20:1-18 PowerPoint agtergrond
Titel: Easter empty tomb, eiendom van Donut_Diva, geneem op 4 April 2007 en beskikbaar by Kopiereg gereël deur Creative Commons en laat plasing sowel as redigering toe.
2
God nooi ons uit en ons kom tot rus
Toetrede [Liturg alles, of responsories – gemeente kursief gedrukte gedeeltes] Wat moet ons met hierdie dag doen? Wanneer grafte oopgaan... Dooies opstaan... Wanneer lewe nie gekeer kan word nie... Dan is niks onmoontlik nie! Hoop kan nooit geblus word nie En liefde nooit vergaan nie. Here Jesus, ons loof U vandag, Omdat U vir ons duidelik gewys het dat die dood nie die laaste woord spreek nie; Omdat U ons weer kom vul het met hoop en geloof; Omdat U ons oë kom oopmaak het vir nuwe moontlikhede, nuwe realiteite, nuwe maniere van leef. Open ons verstand om te glo wat ons nie kan verklaar nie; Open ons harte om te hoop op wat ons nie kan sien nie; Open ons lewens om te leef en lief te hê te midde van dood en hartseer; Laat die opstanding vandag weer in ons gebeur. Amen. (Vanaf Sacredise.com) Lied 409 Hoor jy die Paasfeesklokke? Of Flam 64 U Is God VONKK 5 Vreugde! Vreugde! Votum Liturg: Die Heer het opgestaan! Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan! Seëngroet Lofsang Lied 425 Kyk die Heer het opgestaan of Flam 336 Wie Is Ek Dat U Aan My Gedink Het (My Verlosser Leef) VONKK 75 Halleluja! Die Heer Het Opgestaan! Voorlesing 1 Kor. 15:19-26 Lied 424 Die Heer het waarlik opgestaan! Of Flam 237 Hy leef VONKK 105 Ek Wil U Eer Met Duisend Stemme, Heer Doopherinnering / Geloofsbelydenis Liturg [staan by doopvont]: Ons onthou vandag dat ons deur ons doop saam met Christus gesterf het en begrawe is. Ons weet egter dat ons ook saam met hom opgewek is tot ’n nuwe lewe. Daarom bevestig ons opnuut die beloftes wat by ons doop gemaak is. Ons bely opnuut ons verbondenheid aan Christus. Ons verwerp opnuut die selfsugtige werke in ons lewe voordat Christus vir ons ’n werklikheid was. Liturg: Bely jy jou sonde met berou? Gemeente: Ek bely my sonde met berou. Liturg: Daar jy om na Christus toe? Gemeente: Ek draai om na Christus toe. Liturg: Het jy saam met hom gesterf? Gemeente: Ek het saam met hom gesterf. Liturg: Het jy saam met hom opgestaan? Gemeente: Ek het saam met hom opgestaan. Liturg: Bely dan jou geloof in die drie-enige God. Gemeente: Ek glo in God die Vader, wat alles geskep het. Ek vertrou sy Seun, wat die mensdom kom verlos het. Ek glo in die Heilige Gees, wat my daagliks vernuwe en lei. Liturg: Die water is ’n simbool Van reiniging: dat God my sonde en skuld afwas. Van my dood: die ou mens sterf asof sy/hy verdrink. Van nuwe lewe. (Uit: Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle, Lux Verbi.BM, 2001) Lidmate kom vorentoe en druk hul hande in die doopvont om hulle te herinner aan hul doop, terwyl daar gesing word: Lied 414: Juig verlostes, juig en sing of Flam 207 U Het U Heerlikheid, O Heer VONKK 127 By God Is Ek Tevrede (Psalm 62:6 en 7)
3
God praat met ons en ons luister
Gebed Skriflesing Johannes 20:1-18
4
Johannes 20:1-18 Fokusteks: Johannes 20:1-18 Die leë graf
(Matt 28:1–8; Mark 16:1–8; Luk 24:1–12) 20 Die Sondagmôre vroeg, toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf en sien dat die klip van die graf af weggerol is. 2Sy hardloop toe en gaan na Simon Petrus en na die ander dissipel toe vir wie Jesus baie lief was, en sê vir hulle: "Hulle het die Here uit die graf weggevat, en ons weet nie waar hulle Hom nou begrawe het nie." 3Petrus en die ander dissipel het toe uitgekom en na die graf toe gegaan. 4Die twee het saam begin hardloop, maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en eerste by die graf gekom. 5Toe hy vooroor buk, sien hy die doeke lê, maar hy het nie ingegaan nie. 6Ná hom het Simon Petrus ook daar aangekom, en hy het in die graf ingegaan. Hy sien toe die doeke daar lê, 7ook die doek wat om Jesus se kop was. Dié doek het nie by die ander doeke gelê nie, maar was eenkant afsonderlik opgerol. 8Daarna het die ander dissipel, wat eerste by die graf gekom het, ook ingegaan, en hy het dit ook gesien en geglo. 9Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie. 10Daarna het die dissipels weer huis toe gegaan. Jesus verskyn aan Maria Magdalena (Matt 28:9–10; Mark 16:9–11) 11Maar Maria het buite by die graf bly staan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor gebuk om in die graf in te kyk. 12Toe sien sy twee engele met wit klere aan daar sit waar die liggaam van Jesus gelê het, een waar die kop en een waar die voete was. 13Hulle vra toe vir haar: "Mevrou, waarom huil jy?" Sy antwoord hulle: "Omdat hulle my Here weggevat het en ek nie weet waar hulle Hom nou begrawe het nie." 14Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en vir Jesus daar sien staan, maar sy het nie geweet dat dit Hy is nie. 15Jesus vra haar toe: "Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?" Sy het gedink dit is die tuinopsigter, en sy het vir hom gesê: "Meneer, as u Hom weggevat het, sê vir my waar u Hom begrawe het, en ek sal Hom daar gaan haal." 16Jesus het vir haar gesê: "Maria!" Sy draai na Hom toe en sê in Hebreeus vir Hom: "Rabboeni!" Dit beteken leermeester. 17Jesus sê toe vir haar: "Moet My nie vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader toe opgevaar nie. Maar gaan na my broers toe en sê vir hulle: ‘Ek vaar op na my Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God, wat ook julle God is.’" 18Maria Magdalena het toe vir die dissipels gaan sê: "Ek het die Here gesien!" En sy het ook vertel wat Hy vir haar gesê het. Jesus verskyn aan sy dissipels (Matt 28:16–20; Mark 16:14–18; Luk 24:36–49) 19Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: "Vrede vir julle!" 20Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy vir hulle. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien. 21"Vrede vir julle!" sê Hy weer vir hulle. "Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook." 22Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: "Ontvang die Heilige Gees! 23As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie." 24Tomas, wat ook Didimus genoem is, een van die twaalf, was nie by die dissipels toe Jesus gekom het nie. 25Die ander dissipels sê toe vir hom: "Ons het die Here gesien!" Maar hy sê vir hulle: "As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie." Jesus en Tomas 26Ag dae later was Jesus se dissipels weer bymekaar, en Tomas was by hulle. Hoewel die deure gesluit was, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en gesê: "Vrede vir julle!" 27Daarna sê Hy vir Tomas: "Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig." 28En Tomas sê vir Hom: "My Here en my God!" 29Toe sê Jesus vir hom: "Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo." 30Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. 31Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.
5
Familie-oomblik Familie-oomblik
Hoewel kinders nie ‘n goeie idee van die dood het nie, en daarom die opstanding net met moeite as konsep sal verstaan, sal hulle kan identifiseer met die feit dat God nie toegelaat het dat die bose mense wen nie. Jy kan ook met hulle gesels oor geloof. Kry ’n klein beeldjie van ’n olifant en hou dit in jou hand – so dat die kinders dit nie kan sien nie. Vra dan of hulle sal glo dat jy ’n papie in jou hand hou. ’n Skoenlapper? ’n Eier? ’n Blom? En wat as jy sê jy hou ’n olifant? Laat kinders een-een kom loer wat jy in jou hand het en sê wat dit is. Vra dan of die kinders jou nou glo – en wys vir die grootmense wat jy in jou hand het. Verduidelik dat ons soms goed glo, al het ons dit nie gesien nie. Of wys die “Firebird Suite” uit Disney se Fantasia 2000 en gesels met die kinders oor hoe Jesus se opstanding nuwe lewe bring.
6
Stil Saterdag Preekriglyn
Goeie Vrydag en Paassondag is gevestigde dae op ons kalender. Die onaangename werklikheid is dat ons eintlik op die Saterdag tussen die Vrydag en die Sondag lewe. Stil Saterdag. Die dag wat nooit onthou word nie, die dag toe Jesus in die graf was en dit gelyk het of alles verby is. Wat die dissipels op ʼn klein skaal beleef het – drie dae van rou oor een Man wat aan die kruis gesterf het – beleef ons nou op ʼn kosmiese skaal. Die menslike geskiedenis knars voort tussen die twee pole van belofte van vervulling. Kan ons glo dat God iets mooi uit die kruis kan maak? Kan ons glo dat nuwe lewe, heilig, goed en pragtig, kan groei uit ʼn wêreld wat Bosnië, Rwanda, Nkandla, Griekwastad, die bloed van ʼn jong vrou op Valentynsdag, Wêreldoorloë, en die vernietigende hongersnode van Sub-Sahara Afrika voortgebring het? Kan ons glo dat middestad-ghettos en oorlaaide tronke tot iets goed gaan lei? Dit is Saterdag op planeet aarde. Stil-Saterdag. Die verwoesting van die kruis en die begrafnis van ʼn gebroke liggaam is nog vars in die geheue. Saterdag. Is daar nuwe lewe moontlik? Gaan Sondag, Paassondag, Opstandingsondag ooit kom? (Ontleen aan Phillip Yancey)
7
Sondagmôre vroeg Sondagmôre vroeg
Ons teks begin waar Maria Magdalena, Petrus en die ander dissipel (Johannes) by die graf aankom. Hulle sien die klip is van die graf weggerol. Vir Maria beteken dit net een ding: Hulle het die Here Jesus uit die graf weggevat, en sy weet nie waar Hy nou begrawe is nie. Petrus en Johannes bekyk die leë graf, maar dit maak nie vir hulle sin nie. Duidelik het die dissipels nooit rekening gehou met die moontlikheid dat God Jesus uit die dood sou oplig nie. Vir hulle is die graf, nou die leë graf, nog onverstaanbaar. Hierdie Sondagmôre vroeg sien ons die verleentheid van die lewe met die dood. Terwyl daar nog lewe is, is daar hoop. Maar in die gees van stil Saterdag is daar net ruimte vir teleurstelling, geknakte hoop, gebluste verwagting, versplinterde drome. Daarom huil Maria. Sy het alles verloor. Eers was daar darem nog die liggaam van die Here, wat sy volgens Joodse gebruik sou kon versorg. Maar nou is daar niks. Ook die stoflike oorskot van Jesus is weggeneem en iewers anders begrawe.
8
Feite verkeerd geïnterpreteer
Die dissipels, Petrus en Johannes, sien die leë graf. Dan draai hulle om en gaan huis toe. "Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie." (9) Net so staan Maria by die grootste wonderwerk in die geskiedenis, die leë graf. En sy huil. Die verslaentheid van stil Saterdag is so groot, dat dit nie ruimte kan laat vir God se ingrepe nie. Stil Saterdag, die dag na Jesus se dood, die dag waarop graf en dood die botoon voer, spoel nog oor na die Sondagmôre vroeg. Feite, plekke en gebeure kan ook net soveel sê. Hoewel die feite belangrik is, want dit bevestig die gebeure rondom Jesus se opstanding, is dit nog nie genoeg nie. Hoop, uitsig en moed word slegs gebore waar Jesus self die toneel betree.
9
Leermeester! Leermeester!
Johannes die evangelis vertel op meesterlike wyse hoe Maria se nagmerrie in ʼn oogwink verander wanneer Jesus Homself aan haar openbaar. Jesus noem haar op haar naam: "Maria!" Oombliklik herken sy, wat vir ʼn oomblik gedink het Hy is die tuinopsigter, vir Jesus. Sy roep uit: "Rabboeni! Leermeester!" Op hierdie oomblik ontdek sy Jesus se ware identiteit. Soos sy dan vir die ander dissipels gaan sê: "Ek het die Here gesien!"
10
Hoogtepunt Hoogtepunt
Maria en die dissipels se ontdekking van Jesus se ware identiteit as die Here, is die fokus van die Johannesevangelie (Jan A du Rand). Die tema van wie Jesus werklik is, word in Johannes 1 aangevoor. Deur die loop van die evangelie kom dit altyd weer terug. Daar is verskeie "Ek is"-uitsprake in Johannes, soos: "Ek is die lig vir die wêreld" (Joh. 8:12) of "Ek is die Goeie Herder" (Joh. 10:11). Pilatus vra Hom uitdruklik na sy identiteit: "Is jy die koning van die Jode?" (Joh. 18:33). Die opskrif bokant die kruis het ook op ironiese manier profetiese betekenis ten opsigte van sy identiteit (Joh. 19:19). Maria Magdalena eien Hom in die teks wat ons vandag lees as haar geliefde Leermeester, maar ook meer as dit: "Hy is die Here", sê sy vir die ander dissipels. En aanstons kry Tomas die twyfelaar die voorreg dat Hy kan sê wie Jesus regtig is: "My Here en my God" (Joh. 20:28).
11
Stilte word jubeling Stilte word jubeling
Stil Saterdag, die hooplose sug onder die lyding en swaarkry van die wêreld, word op Paassondag verbreek met die jubeling: Die Here leef! Die Leermeester het opgestaan! Die opgestane Jesus, waarlik God maar ook waarlik mens, is die eerste skepping van God wat anderkant die dood opgestaan het in ʼn nuwe lewe. Anders as Lasarus, en ander persone wat lewend gemaak is, maar weer sou sterf, leef Jesus nou in die volste sin van die woord anderkant die dood. Jesus is die eerste wat uit die dood opgestaan het. Sy opwekking is ʼn belofte van hoop vir die res van God se skepping. Jesus se opstanding lui die doodsklokke vir stil Saterdag. Soos sy gebreekte bestaan geheel en gelig is uit die graf, sal God ook met God se kinders en God se skepping handel.
12
Versterkte geloof Versterkte geloof
Presies met hierdie doel skryf Johannes se Evangelie. Sy bedoeling is om Christene, wie se lewe en wie se wêreld dikwels deur swaarkry gekasty word, aan te moedig om te bly glo dat Jesus die ware Messias, die Seun van God is. Ons teks is die hoogtepunt van Johannes se evangelie, want Hy skryf juis hierdie klompie verhale van Jesus se wondertekens, sy gesprekke, en sy verskynings om ons te oortuig dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat ons deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê (Joh. 20:31). Jesus staan op om as die teenwoordige Here ons lewens betekenis te gee. Jesus lewe sedert Paassondag weer. Sy lewe is vir ons ʼn belofte van hoop. Ons mag dikwels voel ons is steeds vasgevang op stil Saterdag. Ons kyk nog vooruit na die volkome, heerlike Paassondag wat vir onsself en ons wêreld sal aanbreek. Ons word aangemoedig om te bly glo, te volhard, teen alle hoop in te glo. Want die graf was leeg. Die Here het Maria ontmoet. En daarna die dissipels en baie ander. Hy het ons vooruitgegaan om vir ons plek te berei. En Hy is by ons tot aan die einde van die wêreld.
13
Dit maak rasioneel sin om te glo
Ons leef in die wetenskaplike era. Bie van ons het nodig om in ons geloof versterk te word. Mense gebruik die wetenskaplike metode, wat alles wil betwyfel, om geloof in die opgestane Here te betwyfel. Omdat die opstanding nie in ʼn laboratorium herhaal kan word nie, sê mense dit maak nie sin om te glo nie. Met groot oortuiging word ʼn teorie ontwerp wat sê Jesus het nooit opgestaan nie. Die berigte hieroor is later deur sy volgelinge gefabriseer. Christene is natuurlik nooit teen wetenskaplikheid as sodanig nie. Wetenskapsbeoefening maak ons wêreld ʼn beter plek. Dit bekamp baie lyding en laat ons met groter verwondering oor die glorie van God. Die vraag is egter of wetenskaplike verifikasiemetodes ons ons geloof moet laat verloor? Is dit hoe betroubare kennis oor die sinvrae verwerf word? En: wat gebeur as ons historiese metodes toepas op die opstandingsgeskiedenis? In ʼn boek wat so geskryf is dat elke lidmaat dit kan lees, Jesus, A very short introduction, skryf Richard Bauckham (gerespekteerde Nuwe Testamentikus) oor hierdie sake. Bauckham wys op belangrike oorwegings: Die evangelies doen moeite om te vertel dat daar ooggetuies was wat die leë graf en die opgestane Here gesien het. Die vroue was by by Jesus se begrafnis, ʼn man wat wreedaardig gesterf het, en beslis nie meer gelewe het nie. Hierdie vroue was waarskynlik baie goed bekend in die destydse wêreld. Vroue was die eerste getuies van die opstanding. In die antieke wêreld is vroue nie as betroubare getuies gereken nie. Die manlike dissipels sukkel meer om te glo. As die opstandingsverhale opgemaakte stories was, sou die skrywers beslis manlike karakters die hoofspelers gemaak het. Die dissipels ontmoet die opgestane Here by verskeie geleenthede. Paulus verskaf ʼn hele lys van sulke ontmoetings (1 Kor. 15). Terwyl Paulus skryf, leef die meeste van hierdie mense nog. Enigeen kon hulle gaan raadpleeg en die waarheid van hulle verhale gaan bevestig. Daarom sê Bauckham: The kind of evidence Paul offers is the personal testimony of many specific people who each had a story to tell – not, of course, of some neutrally observable fact, but of something extraordinary that happened to them and turned their lives around. These were the people still living out of the events to which they testified (p 106) Uit Johannes se beskrywing van die opgestane Jesus kan ’n mens agterkom dat Jesus herkenbaar is, steeds kommunikeer soos ons dit doen, en ’n werklike, verheerlikte liggaam het, want ’n mens kan aan hom vat, en hy gee vir hulle kos om te eet. Maar hy is ook anders, omdat hy kan verskyn en verdwyn soos Hy wil. Hy is dus nie aan ruimte gebonde soos die dissipels nie. En telkens verander Hy die lewe van dié aan wie Hy verskyn het. Dit maak sin, heeltemal rasioneel sin, om jou geloof op hierdie getuienis te bou.
14
Die teenwoordige Jesus
Mens moet versigtig wees dat jy nie by die leë graf en die doek vashaak nie. Ten diepste glo Christene nie in die leë graf nie. Ons glo selfs in veel meer as die objektiewe feit van die opstanding. Ons glo in die lewende Here. En ons glo in die nabyheid en teenwoordigheid van hierdie Here, tot vandag toe. Ons glo ... in die Here! Praat ons dalk te veel oor die historisiteit en werklikheid van die opstanding, en hopeloos te min oor die teenwoordigheid van die Here Jesus? Die leë graf fassineer ons miskien te veel. Dit is immers die teenwoordige Jesus wat ons lewens verander en wat ons fokus moet wees. Reeds in die Johannesevangelie verander hierdie lewende Here Jesus lewens sover Hy gaan. Maria se trane word afgedroog en vervang met vreugde. Tomas se twyfel verdamp voor die nabyheid van Jesus, en word vervang met geloof. Die dissipels se lewens word gevul met vreugde en vrede. Die weifelende, onseker Emmausgangers word getuies van die opgestane Here met brandende harte.
15
Draers van hoop Draers van hoop
Jesus skep ʼn nuwe, dinamiese beweging. Maria Magdalena word ʼn draer van hoop. Sy gaan na die dissipels en getuig sy het die Here gesien! Johannes vertel dat Jesus sy dissipels die Heilige Gees gee, en hulle draers van sy troosvolle, bemoedigende en versterkende teenwoordigheid maak: "Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle..." Uit hierdie opdrag ontstaan die Here se kerk. Ons is mense wat in die era van Stil Saterdag getuies is van die groot Paassondag wat vir die Here se mense, en God se skepping, aan die kom is. Ons ontdek in ons teks die identiteit van Jesus Christus. Ons ontdek ook ons eie identiteit: gestuurdes wat die hoop in Jesus Christus na ons wêreld dra. Terwyl ons dit doen, dra en versterk die teenwoordige Jesus ons deur sy Woord en Heilige Gees.
16
God stuur ons om te leef God stuur ons om te leef Gebed Dankoffer
Slotlied Lied 417 Jesus, ons eer U of F336. Wie Is Ek Dat U Aan My Gedink Het (My Verlosser Leef) Wegsending Psalm 118:1-2, 14-18 Liturg: 118 Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie! 2Israel moet getuig: Gemeente: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.” Liturg: 3Die huis van Aäron moet getuig: Liturg: 4Dié wat die Here dien, moet getuig: Liturg: 14Die Here is my krag en my beskerming. Dit is Hy wat my gered het! Hoor die gejuig in die laer van die oorwinnaars: Gemeente: “Die Here doen kragtige dade, 16die Here triomfeer, die Here doen kragtige dade!” Liturg: 17Ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe en van die dade van die Here getuig. 18Die Here het my swaar gekasty, maar my nie aan die dood oorgegee nie. Seën Liturg: Jesus Christus is die opstanding en die lewe. Gemeente: Hy is ons vrede. Liturg: Wie in hom glo, sal in ewigheid nie sterwe nie. Gemeente: Hy is ons vrede, nou en tot in ewigheid. Amen (Uit: Handleiding vir die Erediens, B.M.) Respons Lied 189 Halleluja!
17
Volgende erediens: Openbaring 1:4-8
Liturgie en Familie-oomblik: Rethie van Niekerk Powerpoint: Wicus Wait Preekriglyn: Danie Mouton Prosesbestuur en ekstra stof: Chris van Wyk
Similar presentations
© 2025 SlidePlayer.com. Inc.
All rights reserved.