Download presentation
Presentation is loading. Please wait.
1
Barnabas die Bemoediger
Die deurlopende agtergrond vir Barnabas die Bemoediger is ‘n foto van ‘n “TE KOOP” bordjie met land in die agtergrond wat Barnabas se vrygewigheid verteenwoordig toe hy grond verkoop en vir die geld vir die gemeente gegee het. Ons tref hom die eerste keer aan die werk as hy ‘n stuk grond (of plaas – die Grieks kan so verstaan word) verkoop en die opbrengs vir die kerk van Jerusalem gee (Hand 4:36-37). Dit is belangrik om God se hand hierin te sien, want dit is die belydenis van die gemeenskap van gelowiges in beide die Ou as die Nuwe Testamentiese tydperk, dat God die bron van vrygewigheid is. Foto Wicus Wait.
2
Die agtergrond op skyfie 2 is ‘n fiktiewe voorstelling van Barnabas in hoofsaaklik waterverf (Wicus Wait). Of ‘n mens nou kan peil trek op die 6de eeuse monnik van Siprus, Alexander Monachus, se beskrywing van Barnabas al dan nie – “his face was like that of an angel ... and he had sparkling eyes” (Laudatio Barnabae, 25). Die rooi en goud ruimte waarop aanvullende grafika geplaas kan word verteenwoordig die liturgiese kleure van Pinkster.
3
God nooi ons uit en ons kom tot rus
Toetrede: Lied 166 (Kom, Heil’ge Gees) Aanvangsgebed: “Wees dus sterk en hou goeie moed, julle almal wat julle vertroue in die Here stel” (Psalm 31:25). Seëngroet Lofsang Lied 443 (Wind kan jy nie sien nie) Flam 4 (O Heilige Gees, kom maak my nuut) Toewyding / Skuldbelydenis Flam 69 (Was My Skoon) Epiklese Lied 442 (Gees van God wat in my woon)
4
God praat met ons en ons luister
Familie-oomblik Gebruik die verhaal hier onder as deel van die familie-oomblik. Of gaan laai Sakkie en Sieg se gesprek oor die snoepie af by Nous:
5
Handelinge 4:32-37 Handelinge 4:32-37 Onderlinge mededeelsaamheid
32Die groot getal wat gelowig geword het, was een van hart en siel. Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel. 33Die apostels het kragdadig getuig dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het, en die genade van God was groot oor hulle almal. 34Nie een van hulle het gebrek gely nie, want dié wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die verkoopprys daarvan gebring 35en vir die apostels gegee. Dié het dit dan uitgedeel volgens elkeen se behoefte. 36Josef ’n Leviet wat op Siprus gebore is en wat deur die apostels Barnabas genoem is—dit beteken iemand wat mense moed inpraat - 37het ook die grond wat hy gehad het, verkoop en die geld gebring en dit vir die apostels gegee. Die Bybel : Nuwe Vertaling. 1998, c1983 (electronic ed.). Bybelgenootskap van Suid-Afrika: Cape Town, South Africa
6
Preekriglyn In die begin van die vorige eeu het daar eendag ’n huilende dogtertjie naby ’n klein kerkie gestaan. Sy is gevra om terug huis toe te gaan, want daar was nie plek vir haar nie. “Ek kan nie Sondagskool toe gaan nie” het sy huilend vir die predikant gesê wat daar verbygeloop het. Toe hy haar stukkende klere sien, het hy dadelik vermoed wat die eintlike rede was. Hy het haar hand geneem en haar na ’n klassie geneem. Die kind was so diep daardeur geraak dat sy daardie nag gelê en dink het aan al die ander kinders wat geen plek het om van Jesus te leer nie. So twee jaar later het dieselfde dogtertjie ernstig siek geword en gesterf. Die predikant is deur haar ouers ontbied. Toe hy by die vervalle woonstelblok kom, het hulle hom gevra om hul dogter se begrafnis waar te neem. Hulle het aan hom ’n kleinerige beursie gegee. Binne-in was ’n briefie en 57 sent. In die briefie het die volgende woorde in kinderskrif geskryf gestaan: “Hierdie geldjie is om die klein kerkie te help om iets groter te bou sodat meer kinders daarnatoe kan gaan.” Vir twee jaar lank het die dogtertjie gespaar aan haar 57 sent! Die predikant het daardie Sondag die briefie van die kansel aan sy gemeente voorgelees. Hy het die gemeente uitgedaag om daarop te reageer. Dit was net die begin van die 57c se impak.... ’n Koerant het van die storie te hore gekom en dit gepubliseer. ’n Grondbaron het in die koerant daarvan gelees en ’n stuk grond, wat der duisende werd was, vir die kerk aangebied. Hulle het hom egter laat weet dat hulle dit nie sal kan bekostig nie. Hy het hulle toe terug laat weet dat hy dit aan hulle vir 57 sent sal verkoop ! Binne vyf jaar is daar toe genoeg geld ingesamel om ’n nuwe kerk te kon bou. As jy eendag in Philadelphia kom, gaan besoek gerus die Temple Baptist Church, met sy sitplek vir 3,300 mense. En ook die Temple Universiteit, waar honderde studente opgelei word. Kyk goed na die Good Samaritan Hospitaal en na die Sondagskool sentrum waar honderde kinders elke Sondag bymekaarkom. Niemand word ooit meer die deur gewys nie. Binne die Sondagskoolsentrum sal jy ’n skildery van ’n klein dogtertjie sien. Dis haar 57 sent wat God so wonderlik gebruik het. Ons bietjie word altyd baie in God se hand! Onthou jy nog die seuntjie met sy 2 vissies en vyf broodjies? (Joh. 6 :1-15) Grafika: Ek kon nie enige kopiereg beperkings opspoor nie. (WW)
7
Uitstorting van die Heilige Gees
Die uitstorting van die Heilige Gees op Pinkster net na Jesus se Hemelvaart het ’n ongelooflike impak gemaak op die lewens van die eerste gelowiges. Nie net het hulle ’n besondere geestelike ervaring van God se nabyheid gehad nie (Hand 2:1-4). Hulle het ook die ontploffing van geloof meegemaak. Drieduisend mense is by die getal van die gelowiges gevoeg (Hand 2:41). Die kerk het met ’n publieke knal tot stand gekom: die geluid van ’n geweldige stormwind en tonge van vuur wat almal verbaas en uit die veld geslaan het, Perse, Romeine, Arabiere … (Hand 2:5-13). Almal wat daar was se lewens is verander. Niks kon ooit weer dieselfde wees nie.
8
Transformasie Boodskap van transformasie
Die eerste gemeente het nou die dinamiek gehad van ’n ongelooflike boodskap van transformasie deur die dood, opstanding en hemelvaart van Jesus Christus. En hulle het geweet dat dit vir die wêreld bedoel was. Hulle is bemoedig en bemagtig deur die kragtige werking van die Heilige Gees … maar die enormiteit van die geweldige taak wat vir hulle voorlê, het ook stadigaan duidelik geword. Die opdrag was immers om getuies te wees: “in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld” (Hand 1:8). En die vraag sou onvermydelik by hulle opgekom het: Hoe bereik ’n klompie Jode wat uit ’n baie eksklusiewe godsdiens-agtergrond kom, en waarvan ’n hele aantal baie arm is, en nie baie geleerd nie, die hele wêreld?
9
Wat doen hulle? Wat doen hulle?
Lukas vertel ons dat die gelowiges in die eerste plek hulleself aan God en in die tweede plek aan mekaar gegee het. Hulle het hulle 1) toegelê op die leer van die apostels en gebed, en 2) hulle het hulle toegelê aan hulle verbondenheid aan mekaar en daarom gereeld saamgeëet (Hand 2:42). Hierdie verbondenheid aan mekaar het ingesluit dat hulle in hulle eensgesindheid alles met mekaar gedeel het sodat elkeen se behoeftes in die nuwe gemeenskap bevredig kon word (Hand 4:44-45). Maar onthou, dit was ’n arm gemeenskap wat nie baie middele gehad het nie. En in ’n sekere sin is dit makliker om te gee as jy min het …
10
God seën hulle deur die vrygewigheid van Barnabas
En dan doen die Here ’n wonderlike ding. Hy bevestig die onderlinge mededeelsaamheid deur vir hulle ’n groot geskenk te gee, beide in terme van die stuk grond (of plaas) wat Barnabas verkoop, en in terme van Barnabas self wat ’n gawe van God aan die breë kerk sou word. Dit is belangrik om God se hand hierin te sien. Oor eeue, beide in die Ou en Nuwe Testamentiese tydperk, weet gelowiges dat God die bron van vrygewigheid is. Dawid bely dit in sy gebed wanneer die volk en hy hulle offergawes vir die bou van die tempel bring: “want wie is ek en wie is my volk dat ons die vermoë sou hê om sulke gawes te bring? Alles kom tog van U af en ons gee aan U wat ons van U gekry het” (1 Kron 29:14). Die eerste ding wat Barnabas in die gemeente doen, soos Lukas dit vir ons vertel, is dat hy die stuk grond wat hy gehad het, verkoop en die opbrengs daarvan vir die kerk van Jerusalem gee (Hand 4:36-37). Barnabas doen dus wat die ryk jongman nie wou doen nie (Luk 18:18-29). Hy doen afstand van sy besittings om Jesus te volg en vestig daarmee ’n reputasie as iemand met ’n groot en warm hart. Daarmee vestig hy ook ’n baie belangrike beginsel van mededeelsaamheid en vrygewigheid wat die Christelike gemeenskap van alle tye sou beïnvloed.
11
Mededeelsaamheid Mededeelsaamheid
Sy vrygewigheid sit ’n hele proses aan die gang – of meer korrek, stimuleer ’n hele proses – in die kerk van Jerusalem waar almal met mekaar hulle middele deel. Let op: hulle deel eers alles voordat Barnabas inspring! Hulle skep dus eers gemeenskap – community – voor die voorsiening van die Here vir daardie gemeenskap in beweging kom. Barnabas se vrygewigheid bevestig dus die gemeenskapsdrang van die eerste gelowiges EN hy sit sy lyf op die lyn, hy help dat dit seermaak. Die Here kry dit reg om hulle te seën en bemoedig deur Barnabas se vrygewigheid, die gawe van grond. Dit bemoedig hulle vir die groot taak wat vir hulle voorlê.
12
Vrygewigheid raak ’n lewenstyl
Dit vestig ’n baie spesifieke lewenstyl. Hierdie stuk grond of plaas se verkoping illustreer aan die eerste gemeenskap van gelowiges hoe om vrygewig te wees in terme van besittings en die grens van “haves en have-nots” oor te steek. Hulle het nie meer die tipiese ekonomie van die tempel nie, maar die ekonomie van ’n huis of huishouding. In plaas van ’n ekonomie wat gevestig is op belastings, is dit nou gebaseer op vrygewigheid. In plaas van ’n plek waar gierigheid seëvier, is dit nou ’n plek waar elkeen na sy behoefte versorg word. In plaas van ’n plek waar die belange van die gesagsdraers gedien is, is dit die plek waar gesorg word dat daar genoeg is vir almal. Barnabas se geskenk bevestig dus ’n nuwe manier van leef, ’n nuwe ekonomie, ’n navolgingswaardige voorbeeld vir die toekoms van die kerk. Hierna sou hulle nog duideliker besef: God self sal al die middele voorsien vir hulle taak, onder andere deur die vrygewigheid in hulle eie geledere. Niks sal vir hulle onmoontlik wees … juis deur hulle vrygewigheid.
13
Barnabas die bemoediger
Geen wonder dat die gemeente Barnabas hierna só noem nie. Sy naam was eintlik van geboorte af Josef. Hy is egter Barnabas deur die apostels genoem, omdat hy die gawe van bemoediging gehad het. Barnabas in Hebreeus beteken: “seun van bemoediging/vertroosting”. Die woord vir bemoediging is paraklêsis wat verwant is aan die woord paraklêtos (Intersessor / Voorspraak / Advokaat / Trooster) wat as titel vir Jesus (1 Joh 2:1) sowel as die Heilige Gees (Joh 14:16) gebruik word. Geen wonder Barnabas word later beskryf as een wat vol van die Heilige Gees was nie (Hand 11:24) en wat die gemeente in Antiogië bemoedig nie (parakalei).
14
Versorging oor grense heen
Die eerste uitkringende positiewe invloed hiervan sou reeds gevoel word in die keuse wat die gemeente direk hierna neem om ook die Griekssprekende weduwees te versorg op gelyke voet as die Hebreeussprekende weduwees (Hand 6). Let ook op dat een van die “diakens” wat daar gekies is, Nikolaus, van Antiogië afkomstig was, wat op sy beurt die verhaal van Antiogië antisipeer. ’n Tweede positiewe invloed was waarskynlik op Paulus self, hoewel hy eers later op die toneel verskyn. Sy betrokkenheid saam met Barnabas by die dankoffer uit Antiogië (Hand 11), en later op eie inisiatief uit Korinte, wat vir die arm gemeente in Jerusalem gereël is, het gelei tot ’n deeglike verwoording van wat vrygewigheid beteken – 2 Kor 8-9 (vgl ook Ef 4:28).
15
’n Selfsugtige soeke na mag
Let ook op dat dié vrygewigheid van Barnabas nie net positiewe reaksies uitgelok het nie. Sommige (Ananias en Safira) het die proses probeer misbruik tot hulle eie selfsugtige voordeel. Dit kan wees dat hulle hiermee probeer het om ’n leiersposisie in die vroeë kerk in te neem. Vir dié doel moes hulle een of ander hefboom hê, iets wat hulle ’n sekere status in die gemeente kon gee. Deur dus grond te verkoop en die opbrengs te bring – soos ’n wafferse Barnabas – sou hulle ’n status en daarom mag in die gemeenskap van gelowiges gegee het. Met ander, hulle doen hulleself voor as onbaatsugtig en vrygewig, maar dit is alles skyn, en ’n sug na mag. Petrus fnuik egter hulle skynheiligheid met die insig wat die Gees hom gee soos ons in Hand 5 lees. En hulle dra die twee voor op die wa skynheiliges, die een na die ander, uit na hulle graf toe. En daarmee bevestig die Gees dat inhaligheid en magsug jou inhaal, terwyl ware vrygewigheid jou en jou mense vrymaak. Dit laat ’n mens dink aan die storie van Nabal en Abigajil waar daar hier dieselfde kontras tussen dwaas en wys, inhalig en vrygewig, ondankbaar en waarderend te bespeur is. En Nabal het gesterf … maar Abigajil het nie net bly lewe nie, maar die koning se vrou geword. Wat ons leer om versigtig te wees vir die tipe vrygewigheid van ’n Ananias en Safira. Vrygewigheid moet nooit vertoon word en ’n sug na mag nie. Dit bedroef die Heilige Gees, en het tragiese gevolge vir almal betrokke.
16
Vrygewigheid kan ook in gebrek gesien word
Geen wonder Jesus het in sy bediening gewys dat dit nie die grootte van die gawe is wat vrygewigheid bepaal nie, maar die hart waarmee dit gegee word. ’n Mens kan selfs in jou gebrek vrygewigheid wys. Dit is die betekenis van die verhaal van die arm weduwee. Terwyl baie ryk mense baie geld ingegooi het, het ’n arm weduwee gekom en twee muntstukkies ingegooi. Soos Markus sê: “Dit was baie min werd” (Mark 12:43). Maar Jesus het sy dissipels nader geroep en dit as ’n les in vrygewigheid gebruik: “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het. Hulle het almal uit hulle oorvloed iets ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe” (Mark 12:43-44). Vrygewigheid is dus ook moontlik in gebrek, en nie net in oorvloed nie. Dink weer aan die dogtertjie: 57c kan ’n geweldige verskil maak.
17
God gebruik ons gewone gawes vir ’n unieke bydrae
Wat leer die Heilige Gees ons dus deur hierdie verhaal? Ons leer uit hierdie verhaal dat God spesifieke mense roep, dat hy hulle afkoms en gawes gebruik, wat baie keer doodgewone goed is soos ’n stuk grond wat jy besit, maar dit dan op ’n unieke manier inspan binne die kerk en gemeenskap om verstommende goed reg te kry, soos om van die Christelike gemeenskap wêreldwyd ’n vrygewige gasvry een te maak. Barnabas se vrygewige geskenk het ’n impak ver bo dit wat hy in sy tyd kon voorsien het. Dit is waar van enigiemand wat gewone dinge in diens van die Here en sy kerk stel.
18
God stuur ons om te leef “vrygewigheid” Vrygewigheid
Dit bring ons by die praktiese kant van die boodskap. Ons moet immers hierop reageer – dit ons eie maak, en deel van ons eie lewenstyl. Die belangrikste kenmerk wat ons hier van Barnabas se lewenstyl in sy verhaal opmerk, is sy vrygewigheid. Daardeur het hy die eerste gemeente bemoedig en versterk in hulle eie mededeelsaamheid. Vrygewigheid kan as volg beskryf word: Om jou goed vrygewig met ander te deel, was nog altyd deel van die lewenstyl wat God geëer het. Dit is deel van ons rentmeesterskap en diens na buite. Vrygewigheid is om behoeftes raak te sien en vrywillig met jou gawes en geleenthede daarby betrokke te raak. God het immers die blymoedige gewer lief (2 Kor 9:6-7)! Vrygewigheid is om in die praktyk te demonstreer dat alles wat jy het en is van God af kom (Ps 24:1). Dit is om sistematies en doelbewus God se liefde aan ander te bewys deur jou bronne en gawes met hulle te deel – fisies, intellektueel, emosioneel, sosiaal, finansieel, materieel, vaardighede en geestelik. Beplan hoe jy tot by ons volgende geleentheid die geestelike gewoonte van vrygewigheid gaan beoefen. Hier is ’n paar opsies om jou gedagtes te stimuleer: Maak ’n lys van goed wat jy nie regtig meer nodig het nie. Oorweeg biddend met wie jy dié goed kan deel en gaan beoefen vrygewigheid deur hulle daarmee te seën. Maak ’n lys van goed wat mense in jou gemeenskap nodig het. Vra die Here om een van dié behoeftes op jou hart te lê. Oorweeg watter bronne jy het om daarin te voorsien, en gaan verryk ander se lewens deur jou vrygewigheid. Maak ’n lys van dinge waaraan jy verknog is – besittings, tegnologie, ontspanning. Oorweeg biddend hoe jy kan terugsny daarop om tevrede te wees met minder. Kies een van dié dinge en stel jouself vry daarvan deur dit vir iemand anders te gee. Kry ’n paar vriende en begin saam met hulle ’n diens gebaseer op julle bronne en gawes. Konsentreer op die vrygewige deel van dít waarmee God julle geseën het. Dit sal blydskap bring nie net vir dié wat daarby baat nie, maar vir julleself ook. Gesels oor hoe julle mekaar daarin kan ondersteun. Joernaal ’n Laaste wenk wat belangrik vir jou deelname die week gaan wees: Kry vir jou ’n notaboek. Skryf elke dag neer wat met jou gebeur in die bemeestering van die geestelike gewoonte. Beskou dit as ’n “leefbladsy”. Wees eerlik oor jou ervarings. Deel dit met die groep by julle volgende byeenkoms. Gee geleentheid vir stil oordenking / sodat mense notas kan maak in hul Joernaal. Gebed Dankoffer Slotlied Lied 436 Herskep, o Gees, laat leef, o Gees Afsluitingsgebed: 1 Timoteus 6:18-19: “Spoor hulle aan om goed te doen, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam. So vergader hulle vir hulle ’n skat as ’n goeie belegging vir die toekoms, sodat hulle die ware lewe sal verkry.”
19
Joernaal Joernaal ’n Laaste wenk wat belangrik vir jou deelname die week gaan wees: Kry vir jou ’n notaboek. Skryf elke dag neer wat met jou gebeur in die bemeestering van die geestelike gewoonte. Beskou dit as ’n “leefbladsy”. Wees eerlik oor jou ervarings. Deel dit met die groep by julle volgende byeenkoms. Gee geleentheid vir stil oordenking / sodat mense notas kan maak in hul Joernaal. Gebed Dankoffer Slotlied Lied 436 Herskep, o Gees, laat leef, o Gees Afsluitingsgebed: 1 Timoteus 6:18-19: “Spoor hulle aan om goed te doen, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam. So vergader hulle vir hulle ’n skat as ’n goeie belegging vir die toekoms, sodat hulle die ware lewe sal verkry.”
20
Volgende erediens Handelinge 9:26-31 Barnabas die Borg (gasvryheid)
21
Barnabas illustreer vir ons hoe ’n Christelike lewenstyl werk
Barnabas illustreer vir ons hoe ’n Christelike lewenstyl werk. Sluit aan by die Seisoen van Luister se pinksterreeks ; Help gelowiges om geloofsgewoontes in te oefen. Prys: R Teikenmark: Bybelstudiegroepe en Kleingroepe.
Similar presentations
© 2025 SlidePlayer.com. Inc.
All rights reserved.